Breek weg saam met jou gesin

Waenhuiskrans se grot (Foto: Marianne Styan)

Die jaar 2020 was nie ʼn gewone jaar nie. Ons was móég. Ons is almal nog steeds moeg! Ek is seker ons het almal ʼn mate van PTSS (posttraumatiese stressteuring). Blykbaar ontwikkel PTSS wanneer ʼn mens skrikwekkende, gevreesde of gevaarlike situasies beleef.

Wat ons as mensdom in 2020 beleef het, is nie normaal nie. Alhoewel dit nou ons “nuwe normaal” geword het. Daardie “skrikwekkende” ervaring is nog met ons en kom en gaan soos die koronavirus.

Ek en my man het nie ʼn “afsonderingsvakansie” gehad nie, soos ek seker is baie ander mense ook nie gehad het nie.

Om doodeerlik te wees, het ons amper dubbel soveel gedoen as wat ons normaalweg sou doen. Nie net was ons nog volstoom aan die werk nie (as gevolg van Covid-19 het ons selfs nog meer werk gekry in die beroepe waarin ons staan), maar ons moes daarby ook skoolhou en huis skoonmaak voeg (ek het in hierdie tyd opnuut besef hoe dankbaar ek is vir ons kinderoppasser!).

Ten spyte van die ekstra werk was dit egter ook ʼn heerlike spesiale tyd waar ons hele gesin die hele tyd by die huis kon wees en meer tyd saam kon spandeer as wat ons gewoonlik sou, en daarom was dit vir my, op ʼn vreemde manier, ʼn geseënde tyd.

Dit beteken egter nie dat al hierdie dinge onder bitter vreemde omstandighede gebeur het nie en dat daar altyd ʼn onderliggende vrees is van wat presies nou in die wêreld aangaan. Ons lewe geensins in vrees vir die onbekende virus nie, maar ons hele wêreld, soos ons dit geken het, het oornag verander en dit veroorsaak spanning.

Dit is egter nie net werk wat tot die spanning bydra nie. Ons is sosiale wesens en smag maar altyd na menslike kontak en om vir ʼn onbepaalde tyd verbied te word om interaksie te hê, beteken dat mens selfs nog meer spanning ervaar – al besef jy dit nie.

Om egter die hele tyd, volstoom, te werk is uitputtend. Ek besef dit met elke vakansie, en neem myself voor om meer gereeld vakansies, of ten minste net ʼn naweek te vat om daardie “goed-vir-jou”-wegkomkanse te geniet. Voor jy egter jou oë uitvee is daar weer maande verby voor jy dit regkry.

Toe ons op die punt van uitbranding was (en die afsonderingsperiode verby) het ek en manlief daadwerklik begin beplan om gereeld ʼn paar dae, elke nou en dan, al is dit net ʼn naweek, weer ons innerlike vrede te gaan kry, waar ons nie net self kan rus kry nie maar ook kwaliteittyd saam met ons kinders kan deurbring. Ons almal se gemoedstoestand daarna was ʼn teken hoekom sulke wegbreke meer moet gebeur.

Hier is drie plekke waar ons net twee dae elk gaan spandeer het en ek kan dit beslis aanbeveel as gesinsvakansiebestemmings.

De Hoop Collection, De Hoop-natuurreservaat

Koppie Alleen se uitsig (Foto: Marianne Styan)

Ek was al ʼn vorige keer hier, maar op my eie. Ek het toe al gedink dit is ʼn plek waarheen ek my gesin wil bring, want ek het geweet hulle sal dol wees daaroor, en ek was reg! Die oop vlaktes met sy volop diere in die natuur was een van die beste ontdekkings nog. Alhoewel daar ʼn verskeidenheid verblyfopsies is om van te kies, het ons in die Opstalhuise tuisgegaan. Dit is perfek vir ʼn gesinswegbreek. Die drieslaapkamerhuis, effens apart geleë van die hoofkompleks, is ruim en heerlik toegerus met ʼn groot leefarea en kombuis. Dit maak dit maklik om self kos te maak en ʼn vleisie op die kole te gooi, indien jy nie van die ongelooflike keurige The Figtree Restaurant, wat net so 400 m daarvandaan is, gebruik wil maak nie.

Die restaurant bied ontbyt, middagete en aandete, en elke ete is uit die boonste rakke met die heerlikste kos wat kan kers vashou teen die beste restaurante in die stad. Die personeel is vriendelik en altyd gewillig om die kinders te akkommodeer, of dit nou met hulle koskeuse is of met ʼn oulike, selfgemaakte De Hoop-tekenboekie en kryte.

Hulle het ook ʼn afmerkpapier vir al die dier- en voëlspesies wat jy mag op die groen vlaktes of in die vlei voor die restaurant raaksien – iets wat die kinders baie geniet het!

As jy lus raak vir die seelug is Koppie Alleen die plek om te gaan. Net 15 km weg van die hoof-akkommodasie is dit die ideale plek vir ʼn piekniek met die wye uitsig oor die blougroen oseaan waarin walvisse baljaar. Die kinders het vir ure skulpies op die strand en in die klippoele gesoek.

Nader aan die natuur kan jy nie kom nie. Dis beslis enige tyd die drie ure se ry vanaf Kaapstad die moeite werd.

*De Hoop Collection is deel van Cape Country Routes

Arniston Spa Hotel, Waenhuiskrans

Vissershuise in Waenhuiskrans (Foto: Marianne Styan)

Die Arniston Spa Hotel se ligging is vir ons ʼn hoogtepunt. As dit nie was vir die pad voor die hotel nie, voel dit of jy op strand is. Met ons seeuitsig-kamer het ons gereeld op die stoep gesit en selfs die walvisse in die water sien speel.

Die hotel bied ʼn heerlike kontinentale ontbyt wat ingesluit is by die prys. In die aand kan jy kies tussen die restaurant of die bistro, afhangende of die kinders saam eet en of jy ʼn romantiese aandjie alleen wil hê. Die voordeel vir ons was dat ons geweet het die kinders is veilig in die kamer terwyl ons ʼn lekker ete kon geniet.

Waenhuiskrans is so klein dit het nie eens ʼn kitsbank nie, maar vir ons was dit nog ʼn bonus. Ons wou wegkom van die stad en alhoewel dit in die dorp geleë is, het ons naby aan die natuur gevoel as gevolg van die rustigheid en gedruis van die see.

Waenhuiskrans se grot is net ʼn paar minute se ry hiervandaan en dis ʼn wonderlike buitelugontdekkingstog oor sand en klippoele. Ons twee kleuters het die visse en seelewe, wat in die waterpoele wegkruip, ongelooflik baie geniet met die amper twee kilometer se stap tot by die grot. Met laagwater kan mens die buitewêreldse beige- en groenbeligte grot van binne besoek, terwyl die golwe dreigend by die grotmond druis. Vir kinders is hierdie ontdekkingsavontuur ʼn hoogtepunt en vir die ouers ʼn geleentheid om in die natuur en vars lug te kom.

Terug by die hotel het hulle ʼn heerlike beskutte swembad in die opelugbinnehof van die hotel, waar jy kan afkoel. Tydens vakansietye en naweke is daar kinderoppassers wat die kinders besig hou met aktiwiteite in die goed toegeruste speletjieskamer wat ʼn tafeltennistafel insluit. In hierdie tyd kan die ouers ʼn versnapering gaan geniet op die bistro se stoep.

Ons het ons ruim kamer gedeel met ons twee kleuters, met twee ekstra beddens wat hulle vir ons ingedra het. Omdat meeste van die aktiwiteite in of rondom die hotel kan gebeur, het dit ons baie gerusgestel om te weet ons kleintjies is veilig terwyl hulle hulleself kan geniet.

Dis ongetwyfeld ʼn plek waarheen ons sal terugkom, veral omdat dit net bietjie meer as twee en half uur se ry vanaf Kaapstad is, en maklik moontlik is om oor ʼn naweek te besoek.

*Arniston Hotel is deel van Cape Country Routes

Dwarsberg Trout Hideaway

Net bietjie oor ʼn uur se ry vanaf die Kaap, aan die anderkant van Rawsonville, is hierdie paradys op die oewer van die rivier, die ideale wegbreek vir ʼn vinnige naweek weg. (Let wel, dis vreeslik gewild en daarom moet mens vinnig bespreek.)

Daar is verskillende verblyfopsies wat wissel van moderne luukse pod houses, selfsorg-chalets en 11 fantasties toegeruste private kampeerplekke. Elke kampeerplek kan tussen 15 tot 20 mense akkommodeer en agt van hulle het elektrisiteit.

Ons het die begrotingsopsie gevat en gekamp en ons het lanklaas so ʼn lieflike kampeerplek gesien. Met die konstante gedruis van die rivier wat reg langsaan verby kabbel, is die lowergroen gras en bome, met oorgenoeg koelte en rotse vir die kinders om uit te klim, die ideale plek om tent op te slaan. Elke kampeerplek (met sy eie ablusiegeriewe) is heerlik privaat en ver genoeg van mekaar geleë dat jy nie weet van enige iemand anders nie. Op snikhete dae is die rivier, met sy koue bergwater, die perfekte plek om af te koel en vlak genoeg vir kleuters om in te plas.

Al drie hierdie plekke, met elkeen sy unieke eienskappe, het weer nuwe energie vir ons daaglikse lewe gegee en hulle sal ons verseker vinnig weer sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karel Kobus Kruger ·

Is ek die enigste wese op die planeet wat van dag 1 af nog geen vrees nie, maar slegs uiterste irritasie ervaar het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.