Gautengers: Breek weg vir minder as R800 vir 2!

Arundel Studios (Foto: LekkeSlaap)

Soms tref die behoefte om ’n bietjie weg te kom jou heeltemal uit die bloute ─ wanneer jy moedeloos in die verkeer sit omdat beurtkrag al weer die verkeersligte laat donker word het, snags wanneer jy wakker lê van die hitte omdat die waaier al weer die gees gegee het, of sommer al op ’n Maandagoggend wanneer jy een vir een die hoop e-posse begin deurwerk. Die enigste probleem is dat jou wegbreek-behoeftes nie altyd jou sak pas nie. Moenie bekommer nie ─ met LekkeSlaap se sakpasverblyf is ’n welverdiende naweekwegbreek nie so hard op die beursie nie.

Linwood Guest Farm, Clarens

Linwood Guest Farm (Foto: LekkeSlaap)

Dié pragtige gasteplaas is aan die voet van die Malutiberge in Clarens geleë en beskik oor ’n hoofhuis en vier selfsorg-eenhede. Ons stel voor jy bespreek ’n wegbreek in die knus Cato-, Pintje- of Sandstone-eenheid ─ al drie is pragtig versier met ’n ouwêreldse bekoring en sal jou soos ’n koninklike laat voel. Elke sandsteen-eenheid het ’n oopplan-uitleg met ’n dubbelbed, en suite-badkamer, kombuisie, sitarea en ’n kaggel. Buite is daar ’n stoep met sitplek en braaigeriewe, en parkeerplek op die perseel.

Tariewe: Vanaf R800 per nag vir 2 gaste
Braaigeriewe: Ja
Troeteldiervriendelik: Nee
Doendinge op die perseel: Voëlkyk en fietsry

Fresh Pick Stay, Potchefstroom

Fresh Pick Stay (Foto: LekkeSlaap)

Dié selfsorgkothuis is op ’n groenteplaas in Potchefstroom se buitewyke geleë en is ideaal vir ouers wat besoek by hul studente-kinders by die universiteit wil aflê. Bedags is jy welkom om jou eie vrugte, groente en kruie te pluk, of vars eiers vir ontbyt te versamel. Die kothuis het een slaapkamer met ’n dubbelbed, ’n ekstra enkelbed in die sitarea, en ’n badkamer met ’n bad en ’n stort. Die oopplan-kombuis is met al die nodige toebehore toegerus, en daar is ’n sitkamerstel, TV met DStv en etenstafel in die leefarea. Die toesluitmotorhuis verseker veilige parkeerplek vir jou voertuig sodat jy rustig kan slaap.

Tariewe: Vanaf R475 per nag vir 3
Braaigeriewe: Ja
Troeteldiervriendelik: Ja, indien dit vooraf gereël word.
Doendinge op die perseel: Fietsry

Stonehaven Clarens, Clarens

Stonehaven Clarens (Foto: LekkeSlaap)

Stonehaven Clarens is in die middel van die dorp geleë en bied ’n lieflike uitsig op Horebberg. Houthut 1 is ’n oopplan-eenheid en is ideaal vir ’n paartjie wat graag die dorp wil verken. Daar is ’n dubbelbed, enkelbed, ’n badkamer met ’n stort, en ’n kombuisie wat ten volle vir selfsorg toegerus is. Die houthut is stapafstand vanaf die dorp se restaurante, kunsgalerye, kuriowinkels en Clarens Brewery, so gaste kan die dorp sommer te voet verken voor hulle saans op die stoep langs die braaivleisvuur afskakel.
Onthou: ’n Trap lei na die eenheid en is dalk nie vir klein kinders, bejaardes of gaste met gestremdhede geskik nie.

Tariewe: Vanaf R800 per nag vir 2 gaste
Braaigeriewe: Ja
Troeteldiervriendelik: Ja, indien dit vooraf gereël word.
Doendinge in die omgewing: Perdry, visvang, hengel, wynproe, wildkyk, stap, swem, voëlkyk, fietsry en tennis

Nature Conservancy Log Cabin, Pretoria

Nature Conservancy Log Cabin (Foto: LekkeSlaap)

Hiér, nie te ver van die stad af nie, kan gaste ’n plaas-atmosfeer met ’n uitsig oor die laventelvelde, wild en sonsondergange vanaf die stoep geniet. Die oopplan-houthuisie is in ’n natuurbewarea in die oostelike buitewyke van Pretoria geleë en bied slaapplek op enkelbeddens wat in ’n koninggrootte-bed omskep kan word. Daar is ook ’n stort in die badkamer, ’n kombuisie met ’n yskas, tweeplaatstoof, mikrogolfoond en tee- en koffiemaakgeriewe, en ’n stoep met sitplek en braaigeriewe.

Tariewe: Vanaf R500 per nag vir 2
Braaigeriewe: Ja
Troeteldiervriendelik: Nee
Doendinge op die perseel: Voëlkyk en wildkyk

Amber Selfsorg, Clarens

Amber Selfsorg (Foto: LekkeSlaap)

Albei eenhede by Amber Selfsorg in Clarens maak van sonkrag gebruik, so hiér sal beurtkrag jou nie onkant vang nie! Elke eenheid het ’n koninggrootte-bed, en suite-badkamer, oopplan-kombuisie wat goed toegerus is, en ’n leefarea met ’n knus kaggel en ’n TV met DStv. Daar is braaigeriewe op die stoep, so gaste moet net onthou om hulle eie vuurmaakhout saam te bring.

Tariewe: Vanaf R800 per nag vir 2 gaste
Braaigeriewe: Ja
Troeteldiervriendelik: Ja, indien dit vooraf gereël word.
Doendinge in die omgewing: Hengel, wynproe, wildkyk, voëlkyk en fietsry

Happy Valley, Dinokeng

Happy Valley (Foto: LekkeSlaap)

Dié grasdakkothuis is in die pragtige Leeuwkloofvallei tussen die Bobbejaansberge en langs die Dinokeng Wildreservaat geleë. Daar is twee slaapkamers, een met ’n dubbelbed en die ander een met ’n stapelbed, twee slaapbanke in die sitarea vir ekstra slaapplek en ’n badkamer met ’n stort-oor-bad en ’n aparte toilet. Die kombuis is met al die belangrike toebehore toegerus en daar is ’n sit- en eetarea in die oopplan-leefarea. Sit buite op die stoep terwyl die kinders tussen die swembad en speelpark rond hardloop.

Tariewe: Vanaf R700 per nag vir 2
Braaigeriewe: Nee, maar wel by die kampeerarea
Troeteldiervriendelik: Ja, indien dit vooraf gereël word.
Doendinge op die perseel: Voëlkyk, wildkyk, swem, fietsry

Gnome Cottage, Clarens

Gnome Cottage (Foto: LekkeSlaap)

Dié koddige kothuis in ’n omheinde tuin is net vyf minute se stap van talle kunsgalerye, restaurante en interessante winkels in die middedorp af. Die kothuis het ’n gemaklike dubbelbed, en suite-badkamer met ’n stort, selfsorgkombuisie, sitarea en ’n eetarea. Gehalte-beddegoed en -handdoeke, toiletware en gratis koffie- en teemaakgeriewe word voorsien en ’n verwarmer sal die ergste koue te verdryf. Buite is daar braaigeriewe en tuinmeubels waar gaste ’n vleisie oor die kole kan gooi terwyl hulle die uitsig op die berg geniet.

Tariewe: Vanaf R700 per nag vir 2 gaste
Braaigeriewe: Ja
Troeteldiervriendelik: Ja, indien dit vooraf gereël word.
Doendinge in die omgewing: Perdry, visvang, hengel, wynproe, wildkyk, stap, swem, voëlkyk, fietsry en tennis

Arundel Studios, Clarens

Arundel Studios (Foto: LekkeSlaap)

Arundel Studios is naby die rivier op die Bethel Landgoed sowat twee kilometer vanaf die dorp geleë en bied ’n onbelemmerde uitsig op die Horebberg, Golden Gate Nasionale Park, die Malutiberge en die Witteberge in die verte. Verblyf word in twee selfsorg-ateljeewoonstelle aangebied. Elke oopplan-woonstel het ’n koningingrootte-bed, en suite-badkamer, leefarea met ’n kaggel, ’n eetarea en ’n selfsorgkombuis ─ mineraalwater uit die berg wag in die yskas. Elke woonstel het ook ’n onderdakstoep met braaigeriewe en tuinmeubels waar jy rustig kan raak ná ’n lang dag van jou lyf toeris hou.

Gratis: Een sak vuurmaakhout word voorsien.
Tariewe: Vanaf R800 per nag vir 2 gaste
Braaigeriewe: Ja
Troeteldiervriendelik: Nee
Doendinge op die perseel: Voëlkyk, fietsry en swem

Markon River Lodge, Bronkhorstspruit

Markon River Lodge (Foto: LekkeSlaap)

As jy en jou wederhelfte op soek is na ’n wildreservaat-wegbreek, is dié lodge net die plek! Die wild op die plaas sluit luiperds, aardwolwe, hiënas, rooikatte, tierboskatte, jakkalse, sebras, bokke en meer as tweehonderd voëlspesies in. Die lodge is op die oewer van die Wilgerivier gebou en bied verblyf in ’n hele rits en suite-eenhede. Ons keuse, die Kiepersol Deluxe-chalets, het elkeen ’n kombuisie, buitebraai en ’n kaggel. Tradisionele disse word by die restaurant op die perseel bedien, so maak tog daar ’n draai.

Tariewe: Vanaf R600 per nag vir 2 gaste
Braaigeriewe: Ja
Troeteldiervriendelik: Nee
Doendinge op die perseel: Perdry, voëlkyk, wildkyk, stap, swem, visvang en fietsry

Unathi Bush Lodge, Brits

Unathi Bush Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Dié versteekte juweel is net dertig minute se ry van Britstown af en spog met ’n egte Bosveld-atmosfeer. Daar is twee Bosveld-tentekampe onder grasdakke en elkeen het ’n dubbelbed met beddegoed, privaat badkamergeriewe, ’n houtdek met ’n tafel, yskassie, stofie en koffie- en teemaakgeriewe, en ’n boma met braaigeriewe. Sit soggens met ’n koppie koffie in die hand, terwyl jy die uitsig op die berg in die verte geniet, of die njalas, rooibokke, blouwildebeeste en koedoes om jou dophou.

Gratis: Een sak hout, koffie, tee en suiker word voorsien.
Tariewe: Vanaf R750 per nag vir 2 gaste
Braaigeriewe: Ja
Troeteldiervriendelik: Ja, indien dit vooraf gereël word.
Doendinge op die perseel: Perdry, fietsry, wildkyk, voëlkyk en swem.

Wel, daar het jy dit! Met so ’n lekker lys sakpasplekkies byderhand is daar geen rede om jou wegbreek langer uit te stel nie ─ by watter een van dié gaan jy eerste kuier? Laat ons weet!

 

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Nanje Lourens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.