Buckler’s Africa Lodge is ’n juweel in die Laeveld

(Foto: Verskaf)

Deur Tanya de Vente-Bijker 

Laatmiddag in die Laeveld … een van my gunstelingtye. Dit is wanneer die son die grasse in die veld goud kleur en die Bosveld op sy mooiste is. Ons sit op die dek van die luukse Buckler’s Africa Lodge, deel van die BON Hotelgroep, op die oewer van die Krokodilrivier. Links van ons in die water lê seekoeie en blink en voor ons slenter waterbokke stadig tot in die sand-eiland van die rivier. Agter ons speel ons kinders op die gras.

Gewoonlik wanneer ons die Krugerwildtuin besoek, bly ons binne-in die wildtuin in een van die kampe, hetsy in ʼn karavaan of eenvoudige chalet. Aangesien ons tans op soek is na ʼn nuwe, groter karavaan het ons Buckler’s Africa Lodge se uitnodiging aanvaar om vir twee nagte hier te kom oorbly.

Ons reis vanaf Hoedspruit (waar ons reeds vakansie gehou het) deur die Krugerwildtuin tot by die lodge. Die maklike pad sou seker buiteom die wildtuin gewees het, maar ons kies eerder die lekker pad: in by Orpen-hek via Satara en Onder-Sabie ruskampe tot by Krokodilbrughek. Dit was ʼn halwe dag se reis, maar beslis die moeite werd. Vanaf Krokodilbrughek is dit letterlik sowat agt minute se ry tot by Buckler’s Africa Lodge se ingang. Dit maak dit lekker naby sodat jy daguitstappies na die wildtuin kan onderneem, of nog beter, om saam met die lodge op een van húlle wildritte te gaan. Indien jy vanuit Gauteng ry, is dit net ʼn bietjie meer as vier en ʼn half ure se ry tot by Buckler’s Africa Lodge.

Die personeel ontvang ons en met hul vriendelike en opregte verwelkoming stel hulle ons sommer dadelik op ons gemak. Kyk, ek weet mos, ʼn hotel met kinders is nie aldag ʼn grap nie. Maar Carien en Linelle word albei met ope arms verwelkom en ons is dankbaar vir ʼn grondvloereenheid met deure wat na die groot tuin en ʼn uitsig oor die dek en rivier oopgly. Al die eenhede het ʼn uitsig oor die rivier en die wildtuin aan die oorkant.

(Foto: Verskaf)

My eerste indrukke van ons eenheid was baie positief. Sarah Watson, kliënteverhoudingsbestuurder by die lodge, vertel later vir my sommige gaste verkies om hier met die selfsorgopsie oor te bly. Vir ons was die “full board”-opsie wonderlik, maar ek kan dink die selfsorgopsie kan ook baie goed werk. Die eenheid het ʼn lekker groot, ten volle toegeruste kombuis en yskas. Die eenheid is ruim met ʼn groot bed (belangrik!) en die bedbank was ʼn bederf vir die kinders. Ek berei gewoonlik my kinders vir enige nuwe dinge of plekke voor, so ons het saam na foto’s van die hotel gekyk en ek het vir hulle gewys hoe die bedbank lyk waarop hulle gaan slaap sodat hulle voorbereid was. En natuurlik het hulle die slapies getel; belangrik vir enige avontuur.

Die groot badkamer met ʼn ruim stort was vir my ʼn bonus. Dit gebeur so baie dat hotelle die badkamers afskeep en jy met jou gesin ʼn piepklein badkamertjie moet deel. Jy kan dit mos nie ʼn luukse hotel noem en dan is daar ʼn hokkie vir ʼn badkamer nie. Hier is genoeg ruimte om te kan asemhaal. Daar is ook ʼn lekker groot ronde tafel en stoele in die eetkamer waar ons as ʼn gesin speletjies kon speel.

Ons het ons Patrol vinnig afgepak sodat ons op die dek kon gaan sit en ontspan; iets waarna ons al die hele dag uitgesien het. Buckler’s bedien nie self alkohol nie, maar jy is welkom om jou eie drank saam te bring. Die personeel het vir ons ʼn emmer vol ys gebring om die witwyn koud te hou en ons kon agteroor sit en ontspan. Die kinders het gaan speel, en wanneer hulle nie op die gras agter ons was nie, was hulle in die eenheid, waar ons hulle van die dek af kon dophou.

Sarah vertel vir my hoe hulle soms leeus oorkant die rivier opmerk. Ek het geweet dis moontlik, maar het besluit om nie my hoop daarop te plaas nie. Maar sowaar, net toe die son begin sak, roep die ander gaste ons – daar is leeus! Hulle het gesien hoe die waterbokke vries en skielik baie waaksaam lyk en dit is toe dat hulle die leeus op die oorkantste wal opmerk. Ons het die leeus dopgehou tot dit te donker was om verder te kyk en toe hardop saam met die ander gaste gewonder of daar in die nag ʼn vangs sal wees. Helaas, dit het nie gebeur nie, maar ʼn week na ons verblyf was daar wel ʼn leeu wat ʼn vlakvark op die oewer gevang het – gelukkige gaste!

Dis die platteland, maar die sjef kook vir fynproewers

Vir ʼn ma is daar niks so lekker soos wanneer sy vir ʼn slag nie hoef kos te maak nie (alhoewel ek mal is daaroor om te kook, maar ʼn af-aand of twee is pure bederf!). Ons kon tussen ʼn vasgestelde driegangspyskaart, of van die gewone spyskaart af kies. Hier kan ek in alle eerlikheid sê: Die kos is ongelooflik lekker. Carien (8) was in haar noppies toe sy geroosterde murgbeen kon bestel (iets wat ek nog nie tuis gemaak het nie). Marius het ʼn perfek gaargemaakte kruisskyf (rump steak) bestel, en ek was mal oor my gevulde inkvisgereg. Ek sal letterlik weer net vir daardie gereg terugkom.

(Foto: Verskaf)

Naas laatmiddag in die Laeveld is ek een van daai mense wat elke oggend die son in die Bosveld moet sien opkom. Lank voor die ander gaste wakker was, het ek en Carien al diere in die rivier gesoek terwyl die son in die ooste opkom. Die personeel was ook nog skaars wakker toe ek al vir ʼn cappuccino aanklop.

Na ontbyt ry ek en die meisies na die naaste dorp, Komatipoort, om die omgewing te verken. Dit is sowat tien minute se ry en ek wou ʼn paar goedjies kry vir ons terugpad huis toe die volgende dag. Ek vertel hulle een of twee dinge oor die geskiedenis van Komatipoort en die belangrike rol wat Komatipoort in die geskiedenis gespeel het as ʼn stopplek vir die spoorlyn tussen Johannesburg en die destydse Lourenço Marques, vandag Maputo. Ja, my arme kinders kry altyd ʼn goeie skeut geskiedenis en ander opvoedkundige feite saam met enige reis. Ek wys ook vir hulle die grenspos en vertel dat dit die plek is waar jy deurgaan as jy Mosambiek wil besoek. Vandag is Komatipoort steeds ʼn tipe poort na Mosambiek; ʼn ware Afrika-dorp met selfs Mosambiekse cuisine restaurante.

 ʼn Klipgooi van die wildtuin

Net na drie die middag vertrek ons vir ons wildrit deur die wildtuin. Indien jy nog nooit in die wildtuin was nie sou ek beslis aanbeveel dat jy saam met een van die lodge se gidse ʼn wildrit onderneem. Vir ons wat die wildtuin soos die palm van ons hand ken, was ʼn selfryrit egter iets wat ons eerder wou doen. Agt minute later is ons by Krokodilbrug se hek, en ons teken vinnig as dagbesoekers in (gratis met ʼn wild card; daar is uiteraard ʼn fooi as jy nie ʼn wild card het nie). Die omgewing tussen Krokodilbrughek en -ruskamp tot by Onder-Sabie-ruskamp is ʼn baie gewilde omgewing vir wildkyk, veral met die S28-grondpad wat op kronkel na Onder-Sabie en die H4-2-teerpad wat die sirkelroete weer terugneem na Krokodilbrug. Dit word ʼn heerlike twee ure. ʼn Luiperd oor die pad, olifante wat stoei, ʼn sebra sonder ʼn stert (sowaar!) en selfs ʼn jakkals net voor ons weer uitry.

My grootste bederf die laaste oggend van ons verblyf (voor ek my cappuccino kon bestel) was ʼn nonnetjiesuil wat in die groot koorsboom gesit het. Nog ʼn rede hoekom ek vroeg opstaan: Jy sien diere wat jy andersins nie sou gesien het nie. Aan die einde van ons verblyf het ons ʼn hele lysie van diere gehad wat ons van die dek af gesien het: leeus, kameelperde, waterbokke, krokodil, rooibokke, koggelmander en baie, baie voëls (dit is ʼn voëlkykersparadys!).

Ons twee nagte by Buckler’s Africa Lodge van die BON Hotelgroep was suiwer bederf. Die personeel was vriendelik, opreg en jy kan sien hulle dra die hotel en gaste se belange op hul hart. Soggens vroeg word gaste persoonlik gegroet en hulle maak seker dat gaste gemaklik is en hul verblyf geniet. Die laaste aand het ons ook gesien hoe hulle moeilike gaste met absolute grasie en respek hanteer.

Toe ons uitry huis toe vra Linelle: “Mamma, hoeveel slapies voor ons weer kom?”
En dit, dink ek, is ons hele verblyf in een sin opgesom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.