Buskruit en Laventel: ’n Kultuurspens van gister

Nico Moolman se museum, Buskruit en Laventel, soos dit vandag lyk. (Foto: Verskaf)

Sewe maande later as wat ons aanvanklik wou, vanweë Covid-19-inperkings, draai ons by die plaashekke in waar Nico Moolman sy museum Buskruit en Laventel net buite Utrecht, in KwaZulu-Natal, ingerig het. Die opwinding en verwagting is groot, want dis my eerste besoek aan dié unieke plek waaroor ek al soveel gehoor en gelees het.

Ek weet van Nico Moolman die skrywer, maar is skoon oorrompel deur die hartlikheid en gasvryheid waarmee hy en sy vrou Naomi ons op die stoep verwelkom. Ons gaan sit om eers te gesels – ʼn spesiale en onontbeerlike deel van dié museumbesoek. Want hoewel alles wat ons binne die museum teëkom, fassinerend is, kom dit eers behoorlik bymekaar wanneer Moolman begin vertel.

Buskruit en Laventel Plaasmuseum is ʼn kyk-, voel- en praatmuseum. Nie ʼn plakkaat ene nie. Ek weet skaars waar om te begin kyk, my oë spring van die een interessantheid na die volgende. Dis juis hier waar Moolman se leiding die deurslag gee – as hy sien my oog vang ʼn geweer, vertel hy van Mad Jack Churchill. Draai my aandag na die assegaai daarnaas, is daar ook ʼn storie te vertel. Daar is stene uit geskiedkundige geboue, gebruiksgoed uit die oorlogstyd, ʼn Bybel wat stukkend geskiet is tydens ʼn skermutseling en oorspronklike vlae van vervloë republieke.

Vir Moolman is die waardevolste ding in sy museum ʼn rosie wat binne ʼn klein Bybeltjie gepars is.

“Die rosie in die Bybeltjie was die enigste sigbare teken van lewe met oumagrootjie Bettie Kloppers se terugkeer na die familieplaas ná twee jaar in die konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902. Die Engelse het alles vernietig. Paraffien oor die plante gespuit, alle strukture afgebreek en plaasdier en pluimvee doodgemaak. Slegs een enkele wit rosie het hulle terugverwelkom. Die een in my besit het tannie Bettie se kleindogter, tant Hester Viljoen van Petrus Steyn, vir my gegee.”

Moolman bring ʼn houtkissie te voorskyn. Daarbinne is ʼn klompie goed wat volgens die skenker daarvan aan president M.T. Steyn van die Vrystaat behoort het. ʼn Groot silwer lepel waarmee hy geëet het. ʼn Boordjie vir formele geleenthede. Stempels van sy gesagstruktuur, ook een met sy handtekening daarop. ʼn Fotokyker van ouds, ʼn inkblok en ʼn tonteldoos, nog met as daarin!

“Dit is deur die Engelse in sy tent in Reitz gevind die oggend toe hy amper gevang is. Op dié oggend het sy getroue agterryer, Ruiter, hom betyds gewaarsku en kon hy die dorp uit vlug na veiligheid. By die Wolwas is hy weer met ʼn Boerekommando verenig, wat die president vergesel het na waar die teenswoordige Petrus Steyn later gestig is,” vertel Moolman.

Emmett se oorspronklike Jock the Bushveld. (Foto: Verskaf)

Buskruit en Laventel huisves ʼn uitgebreide versameling van die Emmett-gesin, Louis Botha se skoonfamilie. Daar is drie dinge wat uitstaan: generaal Emmett se siter, die eerste uitgawe van Jock of the Bushveld wat deur die generaal geteken is, en die amptelike Republiekwapen van die Republiek van Vryheid wat in president-generaal Lucas Meyer se uitvoerende kamer bokant sy lessenaar gehang het.

Moolman het so ’n paar jaar gelede ʼn klompie glasnegatiewe van foto’s gered voordat dit uitgegooi en vernietig is. Met ʼn spesiale masjien wat spesifiek vir dié doel gemaak is, het hy die mooiste foto’s van die 1800’s en 1900’s herwin. Dié kultuurskat ook in sy museum te sien.

Een vraag knaag nog aan my erfenisgemoed. Hoe begin ʼn mens ʼn museum, hoe pak jy so ʼn reusetaak aan? As skrywer, amateur historikus en versamelaar van outentieke Afrikaner- en ander kultuurerfenisgoed, was dit vir Moolman ʼn hartstaak om die stories van die swaarkry en triomf van gister se mense ten toon te stel.

“Ek dink dat elke versamelaar sy ou goed graag uitstal, of dit wil doen. Met ons verhuising hier na die plaas Cesaréa (Weltevreden), Utrecht, het alles net uitgewerk. Die ou perdestalle wat voor die oorlog ʼn woonhuis was, het met keurige beplanning deur my skoonseun Dana Kemp en dogter Pheona tot Buskruit en Laventel/Cordite and Cologne ontwikkel. My uitstalruimte was eers ʼn toegeboude stoep. Daarna het dit oorgeloop na aangrensende vertrekke en sommer oral. Jy moet net die besluit neem en dit dan heelhartig dóén.”

Die museum word binnekort uitgebrei om ʼn winkel in te sluit waar Afrikana, tuisgemaakte produkte en Moolman se boeke en dié van ander vriende en skrywers verkoop gaan word. Hy gaan ook

Die museumgebou word gerestoureer. (Foto: Verskaf)

rolprente wat gedurende die Anglo-Boereoorlog verfilm is, vertoon.

“Hier is meer as vier uur se kykgenot uit die ou dae, asook verskeie klankopnames van oudstryders wat vertel van hul deelname aan die oorlog.”

Vanaf Februarie 2021 is daar verblyfplek op die plaas beskikbaar, waar die kultuurswerwer hom- of haarself ten volle kan uitleef – bedags met die sang van voëls en snags in die geselskap van vuurvliegies wie se liggies nie deur beurtkrag onderbreek kan word nie.

Ons klim met vol harte, hande en gemoedere terug in die kar – die kinders elk met ertjies en grenadellas uit die groentetuin, die volwassenes met nuwe kennis en insig oor die geskiedenis om oor te mymer, al die pad tot by ons kusbestemming. Dié museum is ʼn moet!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.