Dapper en sapper: Die wel en weë van SA se militêre ingenieurs

Mense verlaat die monument se saaltjie na afloop van die omblaai-seremonie. Foto: Verskaf.

Op die smal, skilderagtige kronkelpaadjie wat jou van Hartbeespoort na Magaliesburg neem, sowat 40 km buite Pretoria, lê ʼn stukkie van Suid-Afrika se militêre geskiedenis tussen die bosse versteek. Dis ʼn terrein met die naam Sappersrus en sy oorsprong dateer terug na die Tweede Wêreldoorlog, toe daar ʼn vereniging vir die Suid-Afrikaanse ingenieurskorps, oftewel sappers, gestig is wat wou sorg dat hul lede weer op die been kom ná hul dienstermyn in Oos-Afrika, Noord-Afrika en Italië verstryk het.

Volgens die Encyclopedia Britannica is ʼn “sapper” ʼn militêre ingenieur. Die naam kom van die Franse woord sappe (“graafwerk,” of “loopgraaf”) en is gedurende die 17de eeu aan militêre ingenieurswese gekoppel, toe aanvallers bedekte loopgrawe gegrawe het om die mure van ʼn beleërde fort te nader. Hulle het ook tonnels onder hierdie mure gegrawe en die muur so verswak. Hierdie loopgrawe en tonnels is “saps” genoem en diegene wat dit gegrawe het, “sappers”.

Suid-Afrika se sappers is met die aanvang van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 gevorm, toe ʼn klein groepie mans van regeringsdepartemente soos die spoorweë gewerf is om ʼn eenheid genaamd Cape Fortress Engineers te vorm. Dié groep sou later ʼn permanente eenheid van militêre ingenieurs vorm. Hulle het uitstekende werk in Duits-Wes en Duits-Oos-Afrika gedoen met die bou van tydelike brûe en spoorweë, die herstel van paaie en allerlei konstruksieprojekte. Dit was húl taak om dit vir die aanvallende magte moontlik te maak om die voorste linies te bereik.

Oorlogvoering het egter ná die Eerste Wêreldoorlog vinnig gemeganiseer en teen die tyd dat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, was die ingenieurskorps baie afgewater. Om bevoegde manne so spoedig as moontlik by die oorlogspoging te betrek, het die weermag opgeleide en ervare burgerlike vrywilligers gewerf. Mans wat op die myne en die spoorweë gewerk het, asook gekwalifiseerde landmeters, het ʼn eenheid gevorm om die streke waarbinne die weermag moes veg, op te meet, en hidroloë is gewerf om ʼn wateringenieurseenheid te vorm. Hierdie eenhede was noodsaaklik vir die troepe se beweging in woestynagtige landskappe.

Vroeg in die oorlog het die Suid-Afrikaanse weermag deur die ou Abessinië na Egipte beweeg en die Italiaanse weermag voor hom uitgedryf. Die Suid-Afrikaanse ingenieurskorps het ʼn uitstekende reputasie gekry met die paaie wat hy gebou het, die Afrikaterrein wat hy gekaart het, die brug wat oor die Juba- en ander riviere gebou is en die boorgate wat hy in die woestyn gesink het.

Ongelukkig het die teëspoed hulle in November 1941 getref, toe die Duitse Afrika Korps onder generaal Rommel ʼn deel van die Suid-Afrikaanse Infanterie, insluitend die ingenieurs, naby die graf van Sidi Rezegh in Libië teëgekom het. Rommel se gevaarlike tenkbataljonne het die brigade oorrompel en minder as 100 van die 260 lede van die eenheid het die veldslag oorleef. Dié wat wel oorleef het, is vir die res van die oorlog na verskillende eenhede geskuif.

Die monument by Sappersrus. Foto: Verskaf.

In November 1951, tien jaar ná die Slag van Sidi Rezegh, het die oorblywende lede van die ingenieurskorps weer by Sappersrus byeengekom om die opofferings van hul medesappers te gedenk. Die Sidi Rezegh-gedenkparade vind sedertdien jaarliks daar plaas.

Ná die nederlaag by Sidi Rezegh het die sappers hul koppe weer gelig en nog waardevolle bydraes tot die oorlogspoging gelewer. So het hulle, byvoorbeeld, ʼn belangrike rol gespeel in die geallieerdes se oorwinning oor Italië in September 1943 omdat hulle unieke vaardighede gehad het, soos om pad- en spoorwegtonnels wat deur die retirerende Duitse magte opgeblaas is, weer oop en begaanbaar te maak.

Die Suid-Afrikaanse spoorwegingenieurs het ook uitstekende werk gedoen met die bou of herbouing van brûe oor die talle riviere van Italië. Hulle het in ʼn stadium 27 brûe binne nege dae se tyd gebou, en party daarvan word vandag nog gebruik. Een van die bekendstes was die 305 m-brug oor die Po-rivier, wat die bynaam van Springbokbrug gekry het. Dit was ʼn reusetaak met talle ongetoetste tegniese innovasies wat ingespan is en konstruksie wat bemoeilik is deur landmyne wat die vyand by die rivier laat afdryf het.

Nog ʼn prestasie wat Suid-Afrika se sappers behaal het, was om die groot Apennynse tonnel te herstel. Dit het baie harde werk en gevorderde mynboutegnologie geverg om dié langste dubbelbaantonnel ter wêreld van 19 km – wat op ʼn paar plekke gesaboteer is en byna geheel onder water was – te herstel. Suid-Afrika se destydse minister van vervoer, F.C. Sturrock, het die heringebruikstelling van die Apennynse tonnel formeel herdenk op die dag wat Duitsland amptelik oorgegee het, 8 Mei 1945.

Ten spyte van al hul prestasies, was talle sappers sonder heenkome en rigting toe hulle ná die oorlog huis toe keer. Die Sappers-vereniging en spesifiek Sappersrus is toe gestig om aan hulle ʼn tuiste te bied en om hulle op praktiese maniere te help om werk te kry en by die burgerlike lewe aan te pas. ʼn Plaas is bekom waar gewasse geplant kon word, vee kon wei en nuwe vaardighede aangeleer kon word. Jan Smuts het die klubhuis se hoeksteen in 1948 gelê en ander permanente strukture is ook gebou, soos grasdakrondawels, ʼn winkel en ʼn opleidingsentrum. Later is ʼn swembad, ʼn rolbalbaan, tennisbane en ʼn roostuin bygevoeg.

Die bou van ʼn monument vir diegene wat in die oorloë gesneuwel het, was ʼn belangrike doelwit van die Sappers-vereniging, om sodoende eer te betoon aan die manne wat nie teruggekeer het nie. Sewentien hektaar van die plaas is opsy gesit vir ʼn monument, wat in die vorm van ʼn klein gedenksaal gebou is. Die brandglasvensters se diep maroen en hemelblou in die simmetriese gebou gooi ʼn sagte lig oor die name van die sappers wat teen die muur verewig is.

Die blou gedenkplaat by Sappersrus. Foto: Verskaf.

Daar is twee afskrifte van die ererol vir gestorwenes, waarvan een na Sint Paulus se katedraal in Londen gestuur is, waar dit in ʼn kapel gehou word saam met eenderse ererolle van ander dominium-ingenieurs. Die tweede afskrif word nog by Sappersrus, in die gedenksaal bewaar. Een maal per maand word die ererol tydens ʼn plegtige seremonie omgeblaai. Die klok word gelui en die vlag gehys, waarna twee wagte ʼn klein prosessie by die saaltjie inlei om die ererol seremonieel om te blaai. ʼn Oomblik van stilte gedenk die afgestorwenes.

Die Sappers-vereniging bestaan vandag uit veterane, maar ook uit vriende en families, en is oop vir enigiemand met ʼn belangstelling in die geskiedenis van die sappers en wat dié ingenieurs se belange op die hart dra.

Deel van die vereniging se aktiwiteite behels twee jaarlikse parades, in Junie en November, die verhuring van akkommodasie en die bestuur van drie aftreeoorde in Johannesburg, Port Elizabeth en Uvongo. Die vereniging se hoofdoel is om die kultuur en erfenis van die sappers te bewaar.

Mense wat daarin belangstel om lede van die Sappers-vereniging te word, kan vir Irene Small by [email protected] kontak. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.