Foto’s: Desember langs die gragte voel soos ‘regte’ Kersfees

Jordaan, Amsterdam. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Terwyl die meeste mense tuis hulle teen die Desember-hitte lawe, vou ek my nuwe jas stywer om my lyf. Dis winter in Amsterdam.

Sommige dae reën dit. Op ander waai die wind. Die lug is deesdae elke dag toegetrek en koud.

Maar ondanks die strawwe elemente lewe dit in die Nederlandse hoofstad. Amsterdammers ry – musiek in die ore – op hul fietse werk toe, winkel toe, park toe. In Amsterdam-West staan daar elke dag sonder versuim ’n ellelange ry vir varsgebakte croissants by Fort Negen.

Die lekkerste croissants in West; nee, dalk die hele Amsterdam, leer ek gou.

Fort Negen in Amsterdam-West. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Honde hardloop los in Erasmuspark terwyl hul eienaars, met serpe tot onder hul neuse, gemaklik gesels. Ek verstaan elke derde woord. Die liggies van Cafe Cook in de Baarsjes skyn in die verte; liggies só aanloklik dat ek my jas (én serp én mus én handskoene) dadelik daar wil gaan ophang en by ’n klein tafeltjie in die hoek inskuif.

In die res van die stad wemel dit ook.

By Winkel 43 naby Prinsengracht staan ek vir ’n paar minute stil buite in die koue in ’n ry voordat ek eindelik by ’n tafeltjie vir een inskuif en hul bekende appeltert saam met ’n koppie koffie geniet.

Die koffie by Luuk’s oorkant die pad kry ná ’n paar uur se stap in Jordaan ook ’n beurt wanneer ek weer skuiling teen die koue opsoek.

In Damrak in die Centrum word daar later onder die Kersliggies (en in die reën) Kersinkopies gedoen terwyl die trem verbyjaag.

Dit reën ook wanneer ons op die fietse vanjaar se Kersboom gaan uitsoek; die Kersboom wat my swaer op sy fiets huis toe in die reën moet balanseer.

Dit is ’n regte, egte denneboom wat ons later versier terwyl die glühwein op die stoof in Amsterdam-West warm word en Kersmusiek in die agtergrond speel.

Hierdie jaar word daar nie waatlemoen in die dae voor Kersfees en Nuwejaar geëet nie, maar eerder oliebollen – Nederlandse gebak soortgelyk aan ’n vetkoek, maar met rosyne en strooisuiker – en kruienote in die gees van Sinterklaas wat net ná my aankoms in Nederland op 5 Desember gevier is.

En glühwein.

O so, só baie stomende warm glühwein.

Dit voel vir die eerste keer regtig soos ‘n storieboek-Kersfees wanneer ek by die familie in Amsterdam eerder as dié op die plaas in die Vrystaat kuier.

Glühwein (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Damrak in die Centrum van Amsterdam. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Damrak in die Centrum van Amsterdam. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

‘n Winkel in Damrak in die Centrum van Amsterdam. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Jordaan, Amsterdam. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Jordaan, Amsterdam. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

In van die vele restaurantjies in Amsterdam. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Jordaan, Amsterdam. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Jordaan, Amsterdam. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Jordaan, Amsterdam. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

“Dit voel vir die eerste keer regtig soos Kersfees wanneer ek by die familie in Amsterdam eerder as dié op die plaas in die Vrystaat kuier.”?
Dalk hierdie sin herdink, en beter formuleer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.