Dié beeldhoutuin bring ons terug na die tuin wat ons verloor het

Dylan forseer nie sy idees oor wat jy in elke beeld moet sien, op die kyker af nie. Jy kan self besluit hoe dit jou raak. Hy gee net agtergrond oor sy denkproses terwyl hy die beeld geskep het. (Foto: Clifford Roberts)

Deur Maryke Roberts

Die bekende woorde uit Karen Blixen se boek Out of Africa, “I had a farm in Africa, at the foot of the Ngong Hills”, kon netsowel Dylan Lewis se woorde, “I have a garden in Africa, at the foot of the Hottentots Holland Hills,” gewees het.

Dylan se beeldhoutuin op Mulberryplaas buite Stellenbosch, is ook ’n plek van harde werk, maar ongelooflike vrede.

Dit is ’n toevlugsoord vir menige moeë siel. ’n Paar uur hier tussen die ritselende blare van die populierbos, of aan die voete van ’n wondergroot standbeeld of onder die koeltebome langs die meer, verkwik die siel.

Jy hoef nie die tuinstap met ’n gids te doen nie – daar is ’n pragtig geïllustreerde kaart by die gallery se ontvangs. Die kaart se voorgestelde roete duur ongeveer 45 minute. Die stilte en koelte van die tuin wat oor sewe hektaar strek en bykans vier kilometer se paadjies het, omvou jou van die eerste treë. Die tuin is meestal met fynbos beplant en meer as 60 beeldhouwerke hou wag onder bome, bo-op heuwels en langs ’n meer of klein poeletjies water.

Tans is een derde van sy beeldhoutuin ander kunstenaars se werk, omdat dit Dylan se eie kreatiewe proses aanwakker, en hom inspireer in sy nuwe werk.

Die tuin en die beelde daarin is ’n 12 jaar-projek.

Dis baie ongewoon om die beeldhouer self in die tuin te ontmoet. Gewoonlik doen een van die gidse die toere of mense drentel op hul eie met ’n lekker cappuccino in die hand, deur die tuin. Ons is verras én baie bevoorreg om tydens ons stap 90 minute met hom te kan deurbring. Die 10 ander mense in die groepie lyk ook heel in hul noppies.

Hy sê: “Hoekom maak ons tuin of hoekom geniet ons tuine en parke so baie? Ons is uit ’n tuin verwyder en ons voel daardie verlies van die natuur. Tuine neem ons op ’n sekere vlak terug na daardie plek. Dit verduidelik dalk die vrede en stilte wat ons in die natuur ervaar.”

Ons 12 dra maskers, ons ontsmet ons hande, en die stap begin. Dis natuurlik nie lank nie, voor een man in die groep opmerk: “Ons dra maskers en baie van Dylan se beelde se gesigte is agter maskers versteek.

“Ek is nooit seker of mense glimlag of kwaad is nie en soms verbeel ek my hulle vloek my so liggies agter die masker,” sê die man laggend. “Ons leer weer om mense se lyftaal dop te hou, veral in hierdie onseker tye waarin ons leef.”

Maar laat ons nie die storie vooruit loop nie. Dylan beskryf die stadia in ’n mens se lewe, waar jy as tiener en jong volwassene ontdek, verower, drome verwesenlik. Later met ’n gesin begin, goeie vriendskappe smee en ’n loopbaan vestig.

“Maar dikwels, in die middel van jou lewe, kom daar tye waar verhoudings, gesinne en vriendskappe uitmekaar val. Ek sien dit nie as ’n krisis nie, maar eerder as ’n noodsaaklike deurgang. Amper asof dit ’n wekroep is om terug te keer na iets wat verlore is en wat tot uiting moet kom. Dis ’n noodsaaklike poging om dit wat vir te lank verborge was, te ontgin.

“Dis komplekse keuses wat jy moet maak as jy wil terugkeer na die outentieke. Dit verg groot risiko’s om jou outentieke lewe te volg. Maar net soveel om die getemde lewe te lei,” vertel hy onder ’n koelteboom hoog bo die tuin.

Agter hom strek die groen tot teen die berge. Twee roofvoëls doen ’n paringsdans hoog teen die blou lug; hul krete weergalm oor die vallei.

Dit lyk amper asof die tuin teen die hange van die Helderberg doodloop, maar dis aan die voete van die Hottentots Holland-reeks waar die tuin rus. (Foto: Clifford Roberts)

Dylan sê die getemde lewe het baie voordele: jy is deel van iets, ’n gemeenskap, ’n gesin, ’n vriendekring. Daar is baie skoonheid in hierdie lewe. Maar die skadukant van hierdie getemde paadjie, is dat ons heel dikwels onsself verloor, dat ons outentieke lewe agterweë bly. Nie een van die twee weë is eenvoudig nie; albei het ongelooflike skoonheid én tragedie.

Hy verduidelik voorts dat die tuin vir hom die versinnebeelding van hierdie twee wêrelde is.

“Dit sit tussen hierdie twee wêrelde. Die wêreld bo is tot ’n groot mate die outentieke een. Daar is arende in die lug, luiperds in die voue van die berg. Die oorspronklike bewoners is nog hier.”

Hy sê dié wêreld het sy oorgang deur die tuin – wat miskien ’n halwe wilde, halwe getemde wêreld is – in die voorstedelike en stedelike omgewing, wat simbolies is van ons samelewing.

“Vir baie is dit daardie ingehokte aspek van die menslike ervaring.”

Hy sê ten opsigte van sy eie beeldhouwerk, het daardie verskuiwing in sy lewe ook gebeur.

“Soos die idees gegroei en verander het, het my werk geskuif. Die diere wat ek vir lank gemaak het, het ’n baie beperkte metafoor vir my geword om hierdie idees en gedagtes te ontgin. Ek het toe oorgeskuif na die menslike figuur.

“Die menslike liggaam is baie meer genuanseerd en ek het ’n veel wyer reeks uitdrukkings en gevoelens tot my beskikking. Al my menslike figure is naak; daardie verwysing na die oorspronklike staat in die wêreld. Dit bied ’n volledige skilderdoek waarop ek emosie kan uitdruk.”

Sommige van sy beelde is half dier, half mens en hy sê dit is om die spanning tussen twee teenoorgestelde kragte tot uiting te bring. Baie van hulle is ook baie animalisties in die uitdrukking van energie.

“Maar ek werk met die woord animalisme in sy oorspronklike vorm, toe ons nader aan die natuur verbind was; waar dit ’n eer sou wees om ’n dier genoem te word. Waar diere simbole was om na uit te reik. Nou, in die Westerse wêreld, is die verwysing na dieragtigheid of dierlikheid, negatief. Dis nou verbind met barbaarsheid en brutaliteit, wat dikwels uit vrees spruit. Ek werk met die fokus op ’n dierlikheid wat uit selfliefde spruit, daardie wilde, outentieke, ongetemde, ware aspek van die self.”

Ons stap tot by ’n klipmuurtjie met bome. In die middel staan ’n vroulike torso, iets waarmee hy al vir baie jare werk en waarmee hy sê beeldhouers in sy meer klassieke vorm al vir eeue werk.

Ons gaan sit op die lae muurtjie. Hy sê vir hom het die afwesigheid van ’n kop, hande en voete, ten doel om die emosies deur die lyf weer te gee.

“In baie van my beelde is die koppe óf versteek agter ’n masker óf onopgelos; weggesteek in ’n mate, wat jou as kyker dwing om die emosies wat in daardie beeld vasgevang is, te lees.

“Die storie wat ek hieraan heg, is dat baie mense glo dat dit wat ons skryf en sê in baie opsigte moeiliker is om te beheer as ons lyftaal, want die lyf is tot ’n mate in ’n poëtiese sin meer primitief. Ouer, meer instinktief. Om dus die fokus in die lyf te plaas, is ’n poging om daardie instinktiewe uitdrukking te ontgin.

Sommige manlike figure dra maskers oor hul gesigte, heel dikwels dierskedels en Dylan verduidelik dit is simbolies van die inskakeling met die dier se energie.

“Die masker steek iets weg, maar terselfdertyd verklap dit ook iets van die intensiteit van die draer. Die skedel is simbolies van die onthou; van die herintegrasie; die verbeelding van daardie wilde aspekte van die self, waarmee ons elkeen gebore word. Die skedel is verteenwoordigend van die dood en dis deel van die storie én die lewe.”

Die diere wat hy vir lank gemaak het, het ’n baie beperkte metafoor geword om sy idees en gedagtes te ontgin. Dylan het toe oorgeskuif na die menslike figuur. (Foto: Clifford Roberts)

Soms raas die voëls so, dat hy vir ’n sekonde of twee stilbly, draai na waar die geluide vandaan kom, skrams glimlag en dan voortgaan met sy storie.

Dylan vertel al stappende dat hy in sy beeldhouwerk aanhoudend besef dat wanneer hy voel hy begin iets ten volle begryp, daar ’n weersprekende idee in sy gedagtes opduik en hy besef hy weet niks. Dan begin hy weer van vooraf ontdek.

Hy vertel dat hy nooit ’n tuin beplan het nie, maar bloot ruimte gesoek het om sy reuse-standbeelde neer te sit.

“Ek het ’n skopgraaf en operateur genader en ons het begin om die grond om te dolwe. Voor ek my kom kry, het 18 maande verloop en ek het die tuin soos ’n enorme beeldhouwerk benader. Ek het soos ’n dirigent gevoel, wat die vordering van die kant bejeën het en net hier en daar leiding gegee het.”

Dylan erken dat die werk minder tydrowend sou wees indien hy van die begin af ’n visie gehad het oor die eindproduk. Hy het op die ou end die hele sewe hektaar hervorm en verbeeld – alles sonder ’n plan of kaart. Hy verpoos ’n oomblik. Kyk uit oor die water met die Helderberg se pieke wat in die verte wink. Sy vingers streel sagkens oor die blomkoppe van fynbos.

Die landskapargitek, Franchesca Watson en die fynbosspesialis, Fiona Powrie, van Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin, het die aanplantings behartig. “Want,” erken hy, “ek weet baie min van plante. Ek het net geweet dat ek sekere vorms en teksture wou verkry en hulle kan dit met die regte plante bereik.”

Die heining by die ingang van die galery, is só gesnoei dat dit die lyne op die enorme klippe suggereer. Sy verduideliking is dat die tuin ’n studie in konkaaf- en konvekse lyne is.

“Niks is aan toeval oorgelaat nie.” Dylan vryf oor dié netjiese heining: “Die tuinboodskap is die subtiele nuanse van die natuur, wat alles inspireer wat ons doen. Dis ook ’n soektog sonder einde hierdie.”

Ons groet. Die 90 minute is om, maar die boodskap wat Dylan se woorde agterlaat, is nog lank nie verby nie.

Ek stap terug na die meer. Op een van die hellinge is ’n gedig van Ian McCallum, wat verskeie mediese kwalifikasies het, maar ook ’n wildernisgids is en baie praat oor hoe ons moet terugkeer na die natuur. Dylan het gesê die gedig praat oor die roep terug na jou instinktiewe self.

The rising

Een van die vele gedigte wat regdeur die tuin vertoon word. (Foto: Clifford Roberts)

One day
your soul will call to you
with a holy rage.
“Rise up!” it will say …
Stand up inside your own skin.
Unmask your unlived life …
feast on your animal heart.
Unfasten your fist …
let loose the medicine
in your own hand.
Show me the lines …
I will show you the spoor
of the ancestors.
Show me the creases …
I will show you
the way to water.
Show me the folds …
I will show you the furrows
for your healing.
“Look!” it will say …
the line of life has four paths –
one with a mirror
one with a mask,
one with a fist,
one with a heart.
One day,
your soul will call to you
with a holy rage.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.