Die jaar van die verlore skaapboud

Argieffoto

Argieffoto

“Die skaapboud was in die tas…” sê my ma.

Maar ek loop die storie vooruit. Kom ons begin by die begin.

Daar is min dinge so lekker vir ons Suid-Afrikaners soos ʼn lekker skaapboud vir Kersfees. Om Kersoggend met die reuk van skaapboud en gebakte aartappels in jou neus wakker te word, maak dat jou mond al van vroegdag af kwyl.

Ek het my liefde vir reis geërf van ouers wat lief was vir winskopie-jag en dus het ons van jongdae af die voorreg gehad om gereeld te reis, natuurlik op klein begrotings.

Kersfees het ons dikwels in Oostenryk spandeer. Wat my ma egter nie wou inboet in die proses nie, was skaapboud met Kersfeesete. Daar in die volksvreemde is skape en hul boude maar seldsame en dure items vir honger Suid-Afrikaners. So hoe gemaak?

ʼn Boer maak maar ʼn plan en in die dae voor voëlgriep en 9/11 toe doeane -amptenare nog vriendelik was en vlieg nog maklik was, het ons maar met Desember-vakansies ons boude saam gevlieg… gaar, gevries en opgemaak soos ʼn Kersgeskenk.

Vir jare het ons ons skaapboud in die een of ander klein dorpie in Oostenryk geniet op Kersdag.

Maar die jaar waarvan ek nou praat het dinge bietjie anders uitgedraai as gewoonlik. Dit mag dalk ook die rede wees hoekom ons nooit weer daarna ʼn skaapboud oorsee gevat het vir Kersfees nie…

Die betrokke jaar wou ons eers Switserland  gaan verken voor ons gaan ski in Oostenryk. Aangesien daar ʼn gevriesde skaapboud (toegedraai in koerantpapier om die snuffelhonde te fnuik) in my ma se tas was, moes ons reël dat Oostenrykse vriende die tas kom haal op die lughawe. Hulle sou dan die besonderse pakkie vir ons in die vrieskas hou tot ons daar aankom ná ons die Alpe verken het.

In München-lughawe se bagasie-saal kom ons almal se tasse met die bagasieband aangedra… behalwe my ma s’n… met die skaapboud in… Hulle het haar tas vergeet op Johannesburg se lughawe!

ʼn Paar gedagtes flits deur ons koppe: Dis somer by Johannesburg se lughawe. Daar is ʼn  gevriesde skaapboud in ʼn tas op Johannesburg se lughawe waar dit 30°C is. En een gedagte wat ons nie vir mekaar sê nie, maar wel almal dink is: Daar is ʼn tas vol klere wat my ma heel moontlik na hierdie vakansie nooit weer gaan kan dra nie, ook tans op Johannesburg se lughawe.

Wonderlik soos my ouers ons geleer het om sulke situasies te hanteer, aanvaar ons daar is niks te doene aan die saak nie. Ons vra toe maar vir die lugredery om asseblief die tas vir ons aan te stuur na die plek, waar ons ons ook bevind in Switserland. Komplimente vir die lugredery want die tas het ons ʼn dag later in Bern ingehaal … skaapboud nog kliphard gevries!

Maar wat nou gemaak vir 10 dae met die skaapboud in Switserland?

Al wat ek weet, is ek sal nooit die gesigsuitdrukkings vergeet van die hotel-en gastehuis eienaars vir wie ons moes vra of hulle asseblief die “Kersgeskenk” in die vrieskas kan bêre.

Nodeloos om te sê het ons dié jaar se Kersskaapboud ekstra baie geniet. En my ma hoef nie vir haarself ʼn nuwe klerekas te gaan koop het nie, wat die beste Kersgeskenk vir haar én my pa was…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.