Die kerk in die koue Karoo

Die NG Kerk Sutherland vanaf die hoofstraat. (Foto: Bernard K. Hellberg)

Sutherland, bekend as een van die koudste dorpe in Suid-Afrika met minimum temperature wat dikwels dubbelsyfers in die verkeerde rigting aanteken, bied terselfdertyd ’n verstommende potpourri van besienswaardighede.

Maar die gemiddelde Juliemaand se minimum van -6 ℃ (die rekordtemperatuur op 12 Julie 2003 was -16.4 ℃!) is nie die enigste kenmerk van hierdie unieke dorp wat steeds ’n vername rol speel in landbou, en wat ’n hoogbloei in die vyftigerjare beleef het toe wolpryse deur die dak geskiet het nie.

Die ou gesegde dat een se dood die ander se brood is, is ook hier van toepassing, want die VN-troepe – met die VSA aan die spits – het wêreldwyd in die 1950’s wol ten duurste aangekoop om winterbestande uniforms tydens die Koreaanse Oorlog te verskaf.

Die dorp self het in 1855 tot stand gekom met 138 inwoners. Later sou die indrukwekkende NG kerk van sandsteen die middelpunt van die dorp en omgewing se aktiwiteite word. Met die hoeksteenlegging op 3 Mei 1899 word die Woord vandag nog – 122 jaar later – gereeld verkondig aan ’n krimpende gemeente van nagenoeg 120 lidmate teenoor ’n groot gemeente van nagenoeg 1 200 lidmate wat vanaf 1903 die banke vol gesit het.

En dit is hier waar ons storie begin.

Die pragtige binneruim van die 1 200-sitplek kerk. Let op die verwarmer waar die handjievol gemeentelede tydens eredienste sit. (Foto: Bernard K. Hellberg)

Alhoewel geleë in die destydse Kaapkolonie was Sutherland nogtans ’n brandpunt tydens die Tweede Vryheidsoorlog en was daar gereeld skermutselinge met “besoekende” Boerekommando’s – tot so ’n mate dat ’n Britse garnisoen agt maande lank van die begin van die oorlog af heeltyds in die dorp teenwoordig was.

Handskrifte en spelling van die Britse soldate was nie juis van die beste nie en dikwels was net die offisiere geletterd. Sou redelik wees om te vermoed dat hierdie vandalisme die Kerkraad sou ontstel het. (Foto: Bernard K. Hellberg)

Om so ’n kontingent troepe (en hul perde) te huisves, het die bevelvoerder sy aandag op die kerkgebou gevestig as die grootste en mees praktiese beskikbare huisvesting – met of sonder toestemming van die kerkraad! Die troepe se verblyf is gekenmerk deur verwoesting en skade en die smet van graffiti wat vandag nog sigbaar is. Hiermee saam ook die lastigheid dat hierdie troepe tot 1903 rondgehang het voor hulle opgesaal en vertrek het.

Vir enige besoeker is dit duidelik dat die kerkgebou iets besonders is – vandaar dan ook die plaket as Nasionale Gedenkwaardigheid. Die argitek, Charles Freeman, het ook ander prominente geboue agter sy naam, soos die Standard Bank-gebou in Kaapstad en die NG kerk in Graaff-Reinet. Maar die Sutherland-kerk, wat ’n indrukwekkende £12 000 gekos het, staan steeds as ’n sigbare baken vir besoekers op pad na die dorp.

Benewens die kerkgebou self, kan besoekers ook die geboortehuis van twee groot literêre geeste – NP van Wyk Louw en sy broer WEG Louw – besigtig, terwyl die buurdorp, Fraserburg, wêreldberoemd is vir sy fossielskatte.

Vir fotograwe wat in sneeulandskappe spesialiseer is dit nou die tyd om te pak en die langpad na hierdie bestemmings aan te durf.

Die bewoording op die bronsplaat bewaar die hoeksteen van sandsteen se oorspronklike bewoording. (Foto: Bernard K. Hellberg)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Elmarie

Pragtige kerk – daai lieflike hout boë in die dak…jammer dat die gemeente so gekrimp het – ‘n seker teken van die tye waarin ons leef, mens sien oral kerke wat leegloop. En dan onthou mens hoe het mens pannekoek gebak, basaars gehou ens om die kerk af te betaal, ‘n kerksaal te bou ens. Ai…jammerte