Die lief en leed van die oorspronklike Geloftekerk

Die gelofte soos dit teen die muur van die Voortrekker Gedenkkerk aangebring is. (Foto: Verskaf)

In die hartjie van Pietermaritzburg staan ʼn stokou gebou waarin belangrike geskiedenis agter pragtige houtdeure opgesluit is. Dit is die eerste Geloftekerkie wat gebou is kort nadat die Slag van Bloedrivier plaasgevind het.

Met Geloftedag herdenk Afrikaners die moord op die Voortrekkerleier, Piet Retief, en sy geselskap op 6 Februarie 1838, en die Slag van Bloedrivier wat op 16 Desember 1838 gevolg het. Voor die geveg het Voortrekkers onder leiding van Andries Pretorius en Sarel Cilliers ʼn gelofte aan God gemaak, dat as hulle die geveg sou wen, hulle ter ere aan Hom ʼn kerk sou oprig.

“…as Hy deur sy beskerming met ons sal wees … sal ons een tempel tot sy eer stig”

Hulle het die geveg gewen en kort ná die vestiging van Pietermaritzburg in 1839, is ’n fonds gestig om die kerk te bou. Kollektelyste is so ver as die Kaapkolonie uitgestuur om te vra vir bydraes in die vorm van geld, goedere en dienste vir die bou van die Nederduitse Gereformeerde kerk in Pietermaritzburg.

ʼn Lys van 15 April 1840 dui aan dat bouwerk op 28 April 1840 sou begin en dat die kerk 50 x 30 voet wyd en 13 voet hoog moes wees. Op 29 September 1840 het die boukommissie geld uit die Kerkfonds geleen om die gebou klaar te maak. Die kerkgebou is in 1841 ingewy. Mense moes hul eie stoele en bankies bring tot die gemeente ander kon aanskaf.

Die gemeente het vinnig gegroei en teen 1855 was die kerk te vervalle en ook te klein om al die lidmate te huisves. Daarom is besluit dat ʼn nuwe kerk reg langsaan gebou sou word. Op 6 April 1861 het die gemeente afskeid geneem van die geboutjie. ʼn Diens is gehou waartydens gemeentelede daaraan herinner is dat die nederige kerkie baie herinneringe het – hartseer, gelukkige, en vertroostende herinneringe, en dat heelwat belangrike gebeure daar plaasgevind het.

Nuwe nut vir die kerkgebou

‘n Ou foto van die Geloftekerk. (Foto: uMsunduzi Museum)

Na 1861 is die oorspronklike gebou vir ʼn rukkie as skool gebruik. Maar as gevolg van die groot finansiële las het die kerkraad in 1863 besluit om die klein kerkgebou vir £840 aan ene Brayhirst te verkoop, op die voorwaarde dat dit nooit as ʼn hotel of kantien gebruik sal word nie. Teen 1865 is Brayhirst egter bankrot verklaar en het dit weer die eiendom van die gemeente geword.

Daarna is dit aan die regering verhuur en weer as ʼn skool benut, tot 1873, toe die kerk ʼn tweede keer verkoop is. Hierdie keer het die wamakery van ʼn meneer Whitelaw die gebou vir slegs £700 gekoop. Tussen 1873 en 1910 is die gebou toe as ʼn werkswinkel, sodawaterfabriek, apteek en teekamer benut.

In Maart 1910 is daar berig dat die gebou net betyds gered is, voordat dit gesloop kon word vir die bou van ʼn rolskaatsbaan!

Nou sou die gebou in ʼn museum omskep word. Maar groot restourasiewerk het voorgelê voordat dit kon realiseer. Verskeie individue het die veldtog gelei vir die insameling van geld om die gebou te restoureer. Die publiek het inligting verskaf van hoe die geboutjie oorspronklik gelyk het en het voorwerpe aan die museum geskenk. Teen Oktober 1911 is die ou pleister, vensters en deur vervang. Die vervalle vloer is met ʼn geelhoutvloer vervang en die oorspronklike geelhoutplafon is skoongemaak.

Die restourasieprojek is teen Oktober 1911 voltooi en die komitee wou die museum op 16 Desember van daardie jaar inwy, maar hooggeplaastes wat uitgenooi was, kon nie kom nie. Die opening word toe vir die Geloftefees van 1912 geherskeduleer, maar dieselfde persone kon toe weer nie bywoon nie. Tog was dit ʼn groot geleentheid, met feesvieringe wat reeds op 13 Desember 1912 begin het. Daar was twee openbare lesings, ʼn konsert, ʼn uitstalling van historiese skilderye en drie kerkdienste. Op 16 Desember was daar ʼn byeenkoms in die stadsaal, ʼn kerkdiens en toesprake. By die geboutjie is sleutels oorhandig en 12 bome geplant. Die gebou is in 1938 as nasionale monument verklaar.

Die standbeeld van Piet Retief, deur die bekende beeldhouer Coert Steynberg gemaak, is op 6 April 1962 onthul tydens die inwyding van die groter Voortrekker Gedenkkerk, wat as opvolger van die tweede kerk, die sogenaamde Toringkerk, gebou is. Beeldhouer Jo Roos het die Gerrit Maritz-standbeeld gemaak, wat op 16 Desember 1970 onthul is.

Staaltjies en stories uit die verlede

Die Geloftekerk in Pietermaritzburg. (Foto: Verskaf)

Elrica Henning, hoof van navorsing, inligting en versamelings by die museum, het haar meestersgraad oor die Geloftekerk voltooi. Vir dié doel het sy die notules van kerkraadsvergaderings oor die jare heen gefynkam en op ʼn paar kostelike staaltjies van die gemeente se alledaagse handel en wandel afgekom. Een daarvan is dat ʼn hooggeagte lid van die gemeente, mnr. J. Uys Senior, die Bybel in 1848 uit die kerk gevat en geweier het om dit terug te gee.

“Die kerkraad het hom toe verwittig dat, as hy dit nie sou terugbring nie, stappe teen hom gedoen sou word. Die insident is nie verder in die notules genoem nie, dus neem ek aan mnr. Uys het die Bybel teruggebring,” vertel Henning.

“Nog ʼn juweeltjie uit die notules is dat die huur van die kerkbanke, waarvoor lidmate in daardie jare moes betaal, in 1843 agterstallig was. Die voorleser is toe aangesê om die gemeente hieroor aan te spreek en as hulle nie wou betaal nie, sou die sitplekke weggeneem word. Hulle moes voortaan ook vooraf betaal.”

Daardie einste kerkbankies is later aan die NG kerk in Ladysmith verkoop toe die gemeente in die nuwe Toringkerk langsaan ingetrek het. Tydens ʼn praatjie wat Henning ʼn paar jaar gelede oor die Geloftekerk se geskiedenis gelewer het, was een van die dames in die gehoor toevallig van Ladysmith.

“Ná die praatjie het sy vir my vertel dat die bankies steeds in hul kerk is! Dié gemeente het dit toe in 2011 aan ons geskenk, kort voor ons Eeufeesherdenking in 2012,” onthou sy.

Daar is al heelwat geskryf oor die bewoording van die gelofte, met baie bronne wat aandui dat dit in die vorm van ʼn gebed gedoen is. Henning vertel dat die presiese bewoording van dít wat oorspronklik op die dag opgesê is, nie op die dag of kort daarna neergeskryf is nie of indien dit was, nie vir ons bewaar gebly het nie.

“Jan Bantjes, Andries Pretorius se sekretaris, het net opgeteken dat hulle wel ʼn gelofte afgelê het. Prof. G.B.A. Gerdener, ʼn geskiedskrywer en teoloog, het in 1919 die gelofte saamgestel uit inligting wat hy bymekaar gemaak het in ʼn poging om die oorspronklike te rekonstrueer. Daar was wel diegene wat die inhoud destyds betwyfel het, maar oor die jare heen is dit dikwels gebruik deur vele Afrikaners wat dit as die oorspronklike beskou het,” sê Henning.

Die binnekant van die Geloftekerk. (Foto: Verskaf)

Is Pietermaritzburg se Geloftekerk nog van belang, in vandag se tyd? Henning glo beslis so.

“Die Voortrekkers het hulle alles gegee om die kerkie te bou en onderhou. Die gemeente was arm, maar elke lidmaat het steeds bygedra wat hulle kon. Party het arbeid, vervoer of materiaal gegee. Een man kon byvoorbeeld net vyf planke gee. Oor die jare heen het hulle hard probeer om die geboutjie te onderhou. Dit het die toets van tyd weerstaan, al is dit paar keer amper afgebreek. Verskeie mense, soos dr. EG Jansen, het hard geveg om die geboutjie te red omdat hulle hierdie stukkie erfenis wou bewaar.”

Hoewel daar baie kontroversie betreffende die Slag van Bloedrivier en die Gelofte is en die geboutjie oor die jare heen ʼn simbool geword het wat sterk met Afrikaners geassosieer word, weet min mense dat ander gemeenskappe, soos die Franse en Duitsers, en ander rasse ook tot die bou van die kerk bygedra het en dit later gebruik het.

“Daarom moet dit vir almal van ons belangrik wees om die geboutjie te bewaar en te besoek. Dit is een van die oudste geboue in Pietermaritzburg wat nog staan en het ʼn belangrike storie om te vertel,” glo Henning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

Nou hoekom word daar geen kerkdiens in die geloftekerk gehou nie. Dit wil klink of die duiwel homself alles in die kerkie wil laat gebeur behalwe die dien van die Here. En nou gedenk dit mense as ‘n museum. G’n wonder dat dit vandag maar sleg met ons Afrikaners gaan nie. Ons kan nie eers een gelofte gestand doen nie en talle nasate leef nog vandag.

nicolaas ·

inspererende geskiedenis van die Afrikanervolk net jammer ons volstaan nie by die belofte nie. Met die inperking het ek vandag op tv gesoek na n geloftediens wat moontlik aangebied sou word maar niks gekry nie. Dan wonder ons waarom gaan die moeilik met ons volk.

Lourens CFG ·

Ek en my vrou het gewoonlik na die dienste Sondae 11:00 gekyk (ons sukkel met artiritus om Kerk toe te gaan), en toe skielik was dit nie meer nie.
Ek het die SAUK per e-pos gevra hoekom dit af gehaal is.
Die antwoord was dat té min mense gekyk het.
Hoe waar hulle antwoord was weet ek nie.

FM ·

Baie dankie vir die versamel van foto’s en geskiedenis. Dit is waardevol en mag nie verlore gaan nie.

Debbie ·

Eienaardig dat hierdie nog nie van ons mense weg gevat is nie

Frieda ·

Baie interresant dit is goed dat dit nou ‘n museum is ek is spyt dat ek nog nooit die kerk besoek het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.