Die man in sy groen onderbroek

tronkhande

Argieffoto.

Dit was twee-uur daardie oggend toe tien polisiemanne – in hul kenmerkende swart uniforms, met die kommunistiese ster wat rooi oor hulle uniformsakke bloei – sy woonsteldeur, so ‘n klipgooi van Century City, afgeskop het.

Hulle het Mark, ʼn Oekraïner wat al sowat twee maande in Tsjengdoe Engels gee, uit sy bed gepluk en hom geboei.

Hy het net ʼn groen onderbroek aangehad en in geradbraakte Engels probeer uitvind wat aangaan, maar die Chinese-mag het net vinnige Mandaryn na sy kant toe geskiet.

Mark is in boeie uit sy woonstelblok geneem, bibberend in sy groen onderbroek…

Dit was twee weke gelede. Mark se storie is onder die tafel in gevee, want die Engelse sentrum waarvoor hy werk het baie geld en het die media, regering en die polisie glo betaal om niks oor Mark se penarie uit te lek nie.

Mark word aangehou vir “onwelvoeglike gedrag teenoor ʼn 7-jarige dogtertjie”. Hy mag ook nie in China werk nie want hy het net ʼn toeristevisum. Net burgers van sewe lande mag in China werk as Engelse onderwysers – Suid-Afrika is een van hierdie lande.

Rosa, ʼn Chinese sakevrou van ʼn mededingende Engelse sentrum, het die storie eerste gehoor, saamgeflans uit brokkies en stukkies wat sy uit die Chinese skinderkringe gehoor het.

“Die maatskappy doen niks wettig nie. Hulle betaal die regering en die polisie om stil te bly oor al die onderwysers wat nie Engels kan praat nie, wat vir hulle werk. Die Rus (sy weet nie wat die verskil tussen ʼn Oekraïner en ʼn Rus is nie) het glo ʼn kind geklap…”  Haar hand oor haar mond. Kastig geskok oor dié Rus se vermetelheid…

Die Chinese is voorstanders van lyfstraf en sal sommer ʼn kind teen sy oor klap…

“Mark is onskuldig,” het Lu-Man, die Fransman wat op dieselfde kampus as Mark werk, vertel. “Die kind se ma het haarself op hom afgedwing – ons almal het dit gesien. Hy het haar attensies vriendelik van die hand gewys.”

Hell has no fury like a woman scorned.”

Die Westerse onderwysers op die kampus moes stil bly, maar hulle het vir ʼn dag lank ʼn sitstaking gehou. Die Chinese het gedreig om hulle almal te deporteer.

Mark is steeds in die tronk. In daardie hel van ʼn plek. Dertig mans in ʼn sel ingehok. Een ete ʼn dag. Kakkerlakke. Komberse op die vloer wat as slaapplek moet dien. In ʼn tronksel waar niemand hom verstaan nie en hy niemand verstaan nie. Hy is ook nog nie aangekla nie en het ook nie in die hof verskyn nie.

Niel het hom besoek in die Chinese hel. Hy het steeds sy groen onderbroek aangehad. Geen broek nie. Net ʼn dun blou truitjie. Sy voete en gesig was vuil en vol bloed.

Hy is verkrag deur dertig mans en op die koue tronkvloer gelos. Verneder, kaal, sy groen onderbroek in flarde. Verneder. Verskeur. Vir ʼn misdaad waaraan hy nie skuldig is nie.

  • Teen die tyd wat die rubriek ter perse gegaan het, was dit nog nie duidelik of die Oekraïnse-regering al ingegryp het nie. Niel, ʼn Oekraïner, het die konsulaat gekontak, maar dit gaan ʼn burokratiese rompslomp afgee.  Dit kan met enige van ons vreemdelinge in ʼn kommunistiese land gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anoniem ·

Dit sal so gaan in die laaste dae . Onreg sal die botoon voer en daar sal geen geregtigheid wees nie. Mag Vader hom bewaar en uit die hool red.

Francis Linstrom ·

Dit is n verskriklike ding om n onskuldige mens oor te kom. Is daar enige hoop op redding uit die tronk, vir hom?

Jammer ·

Dit is verskriklik, elke persoon het darem die basiese regte, al is dit in ‘n ander land!! Daardie tronke is horrible en hy is nog nie eers skuldig bevind nie. ASB neem net kennis jy MAG IN GEEN LAND WERK MET ‘N TOERISTEVISUM NIE . die ander saak kan ek nie oor getuig nie, maar asb moenie jouself ‘n TEIKEN maak in enige ander land deur enigiets verkeerds te doen nie. Dis nie jou mense nie, nie jou taal nie, hulle voel ‘n veer vir jou … STERKTE ek hoop regtig ‘n prokureur kry hom daar uit … My eerlike opinie .. bly weg uit daardie lande waar mense geen regte het nie, veral nie buitelanders nie.

Andrea ·

Is daar niks wat mens kan doen om hierdie man te help nie? Al is dit ook net klere vir hom stuur.

Piet ·

Ek het begrip en meegevoel vir die man want ek was in die selfde situasie. Ook in die tronk gegooi en ook totaal onskuldig -gister onskuldig bevind. Dit was ook walglik vuil. Die een verskil is dit was my eie land wat dit aan my gedoen het die ander verskil is dat die Gees van die Vader my nooit verlaat het nie. Ek sal nog eendag my storie vertel. Sterkte vir die man.

miv ·

Dit is so onbeskryflik hartseer om te hoor wat dié arme man oorgekom het. Om te dink ons land skuur ook skouer met so ‘n kommunistiese land wat geen respek vir ander mense het nie. Mag almal wat hierdie man dit aangedoen het, nie God se wraak ontvlug nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.