Die trein na Maputo – voetsoolvlak, uit ʼn ander hoek

Deur Cobus Olivier

Op pad na Maputo (Foto: Verskaf)

Treine het ʼn bekoring. “Jy sit stil en Afrika kom verby jou,” het my vrou gesê van ons Tazara-treinrit ʼn paar jaar gelede.

Die keer reis ek (Cobus Olivier) per trein saam met drie vriende, Hannes Potgieter en Wimpie en André Boers, oor ʼn langnaweek op voetsoolvlak na Maputo. Ons plan is om met ʼn sak vol ervaringe, en ʼn album vol onvergeetlike herinneringe terug te kom.

Die motor word by die lieflike Orchard Farm Cottages met sy lowergroen grasperk op die oewer van die Nkomatierivier parkeer vir die naweek.

Grensposte het hul eie unieke reuke – ʼn kombinasie van ou papier, voertuiguitlaatgas en bedompigheid. Mense wat vir ure in warm karre gesit het, staan agter jou met oop skoene sonder voetpoeier.

Sonder die papierwerk van ʼn voertuig is ons dankbaar om flink met gestempelde paspoorte die grenspos uit en Resano Garcia, ʼn Mosambiekse grensdorp, binne te stap. Ons draai links teen die afdraande en stap die sowat twee kilometer deur die stofstrate van die oudorp stasie toe.

Vrouens verkoop varsprodukte langs die pad (Foto: Verskaf)

Ons vra pad by ʼn jong paartjie. Sy is skugter vir ons Engels. Van ʼn vorige avontuur onthou ek die Portugese woord vir stasie, en vra “Camino De Ferro” (spore van yster – rofweg vertaal). Sy wys dadelik ons in die stasie se rigting. My vriende is beïndruk met my Portugees.

In die straat drentel ons onder tamaai bome en die lied van voëls deur, verby gekleurde lappe te koop wat oor selfgemaakte stokrelings hang. ʼn Stalletjie wat selfoonkaarte verkoop, en dan ʼn winkeltjie in ʼn grasskerm wat skyfies en lekkertjies verkoop.

Die geboue is meestal oud en skort heelwat verf. Hier is ʼn opgeknapte huis, en daar die nuut geverfde Millineum Bank met ʼn OTM.

Ons is vroeg vir die trein, en stap na ʼn “kafeetjie” om by te wag. Ons stap in ʼn verlate straat met die soet reuk van wit frangipani‑blomme. Ons stap verby leegstaande bouvallige geboue. ʼn Kaalvoet kind loer om ʼn hoek. Die enigste ander lewe is ʼn vrou, doek om die lyf en geroeste staalskottel op die kop. Dit is soos ʼn verlate straattoneel uit ʼn Meksikaanse fliek, merk Wimpie op.

Die “ kafeetjie” is ʼn geel huisie met afgedopte mure en ʼn geroeste sinkdak. Op die stoepie staan twee plastiektafels en ʼn paar stoele. Ons gaan sit by ʼn tafel met ʼn plastiek geblomde tafeldoek. Die jong kelnerkroegman met sy geel hemp is vriendelik en heet Manuel. Ons ruik die pap en vleis wat langsaan op ʼn konka gestook word, maar besluit om eerder net iets te drinke te bestel.

Hier op die sementstoep wat lank gelede roesbruin geverf was, staar ons in die stilte na geboue en die reuse‑flambojantbome met hul rooi blomme. Soms drentel ʼn siel of ʼn bok straataf, of ʼn hoender skrop onder ʼn frangipani.

ʼn Kaalvoet seuntjie met ʼn bak gekookte eiers hoop om blou eiers aan ons te smous. By die ander tafel sit ʼn paartjie. Die man is pittig en praat goeie Engels. Waarskynlik aangehelp deur die amper leë wynbottel op die tafel. In die agtergrond beier ʼn opname van ʼn klokkespel vanuit die plaaslike kerk se toring. Terwyl Hannes en Wimpie by die tafeltjie bly sit, gaan soek ek en André na die kerk vanwaar die klokkespel kom.

Op die trein na Maputo (Foto: Verskaf)

Terug by die nuutgeverfde groen‑en‑wit stasiegebou koop ons kaartjies teen 80 metikai per persoon (sowat R20) na Maputo. Dit is ʼn vier en ʼn half ure lange treinrit van 80 km na Maputo. Op die perronbankies wag daar reeds ʼn paar medepassasiers. Langsaam word die perron voller. Die vroue se lappe as rompe omgedraai so kleurvol en vrolik. Ek het as kleuter al verlief geraak op Afrika se kleurvolheid en vrolikheid.

Blykbaar het die vorige trein ʼn paar jaar gelede ontspoor of uitgebrand. Ons kan die storie nie mooi uitmaak nie, maar ry in ʼn relatief nuwe trein met kussingsitplekke en waaiers teen die dak. Dit is meestal ʼn aangename rit.

Op die spoorlyn wat reeds in 1894 voltooi is, sal ons by stasies met name soos Moaba, Pessene, Tenga en Matola stop, om net ʼn paar te noem. Eers loop die spoor deur ver afgeleë laeveldbosse. Hier en daar is modderhutte in die veld. Aanvanklik is dit so afgeleë dat die trein in die veld stop – nie by ʼn perron of dorpie nie. Dalk langs ʼn alleenstaande ruïne in die veld wat dalk eens ʼn stasiegeboutjie was.

Die lang trein is aanvanklik ietwat leeg. Voor trek ʼn diesellokomotief en die agterste wa is ʼn goederewa vir “bagasie”. Bondels hout en ander vrag word in die wa stad toe gestuur. Die inlaai van ʼn reuse-varkbeer in die goederewa het die geswoeg en gesweet van ʼn span mans gekos.

Verkopers langs die pad (Foto: Verskaf)

Waar die trein stop, word daar van buite af gesmous. Vroue met skottels op hul koppe doen die “aanlyn verkope” langs die spoorlyn. By stasies word daar deur die treinvensters gekoop en gesmous. Heelwat vars slaai, koekies en nog meer word gesmous. Binne die trein loop smouse op en af met hoofsaaklik kos en drinkgoed. Party roep uit, ander is al moeg geroep en is stil.

In lappies Portugees wat van ʼn Brasiliaanse reis oorgebly het, onderhandel Hannes ʼn transaksie om soetgebak wat soos groot “muffins” lyk en lekker ruik te koop. Die verkoper is ʼn ma wat skaars twintig is, haar baba op die heup en boks “muffins” op die kop. Die “muffins “ kos 10 metakai (R2,50) elk. Ons sluk dit af met ʼn goedkoop gaskoeldrank wat ons by ʼn ander vrou koop.

Die kondukteur in uniform en pet op die kop kom verby om ons kaartjies te knip. ʼn Oupa uitgevat in neëntientoet se blou pak kom met sy kierie in die gangetjie verby. Agter ons skuif ʼn verrimpelde ouma met ʼn kopdoek in.

Later stop die trein by dorpe met stasiegeboue en perronne. Die lokomotief se dieselreuk is merkbaar as ek my kop by die venster uitsteek. By die treinvenster uit sien ons opelugmarkte langs die hoofstrate. Soos ons Maputo nader word die trein voller.

Binne-in die trein (Foto: Verskaf)

In die trein sit jy en die land en sy mense skuif verby jou. Die klimaat en landskap skuif van laeveld na tropies, van onbewoonde bos na digbewoonde stad. Van plattelanders, na stedelinge. Ons ry langs die Nkomatierivier en sy vloedvlakte, verby piesangplantasies en oor die Rio Matolo‑rivier.

Voor ons kom sit ʼn vrou, moeg van die dag se arbeid. Dalk op die lande gewerk, wonder ek? Die skoffelsteel steek by haar gereedskapsak uit en getuig van fisieke werk. Ons banke kyk na mekaar. Sy rus met haar oë toe. Haar nekare bult. Haar gesig en lyftaal wys dat sy gedaan geswoeg is. Ek kyk na haar mooi versorgde naels en wonder waaroor sy nou dink?

So wissel die prentjies om ons. Elk van die Godskepsels ʼn individu soos ek en jy, wat ook wonder oor wat om vir aandete te maak, na ʼn geliefde verlang, bekommerd is oor die begroting of kinders, en kan lag. My boude is seer gesit en ek begin rondskuif vir verligting. Ek sien my vriende se posisies het ook al verander.

Die brug (Foto: Verskaf)

In Maputo loop die spoor onder andere deur dig bewoonde lae-inkomstebuurte van modderstene. Die spoor loop onder die Maputo-Katembe‑brug of te wel die Ponte de Maputo a Katembe deur. Die 3 km lange, vierbaan‑suspensiebrug is ʼn asemrowende moderne ingenieurmeesterstuk wat oor die Maputobaai strek. Ons sal later die naweek ook oor die brug ry.

Teen skemer dreun die diesellokomotief die historiese Maputostasie binne. Dit is ʼn romantiese skemeraankoms met mensestemme in die skemeraandlug. Die stasiegebou dateer uit 1910. Die indrukwekkende gebou met sy outydse ambiance is deur ʼn student van Gustave Eiffel (van die Eiffeltoring) ontwerp.

Vroegaand is die volgende avontuur, ʼn toek-toekrit wat met ʼn gedreun deur die stad se toetende stilstaande spitsverkeer vleg na die Polana Apartments waar ons op die vyfde verdieping vir die naweek bly.

Vir afwisseling reis ons na die naweek terug na die grens per minibustaxi. Tereg merk Wimpie op dat “die trein baie mooier prentjies maak as die taxi”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.