Die wêreld se blommeprag vir Lentedag

tulpe-nederland

Tulpe in Nederland. Foto: PublicDomainPictures/Pixabay.com

Met September wat Lentemaand is, begin die jong blaartjies en bloeisels stadig maar seker maak hul opwagting maak.

Die Laeveld staan vol goudgeel doringbome en die reuk van jasmyn begin in die lug hang.

Natuurlik begin ons eie Namakwaland se blommeprag hul gesiggies wys en hierdie tyd van die jaar vlok die hele volk na die Kaapprovinsie om die pragtige blommekombers te kom aanskou.

Ons land is egter nie die enigste een wat spog met pragtige blomme as die seisoene begin verander nie.

Europese Kastele en Paleise

Een ding wat jy weet jy gaan vind tydens ʼn besoek aan die meeste kastele en paleise tydens die lente-en somermaande in Europa, is ʼn pragtige tuin. Om net ʼn paar te noem: Schönbrunn (Oostenryk), Versailles (Frankryk) en Kensington (Engeland). Die veelkleurige blommeprag wat elke jaar ontpop die oomblik as die seisoen draai, is om gaande oor te raak. Hoewel hierdie tuine professioneel uitgelê is, is die kleurontploffings van die verskillende blomme iets waarin jy jouself ure lank kan verloor terwyl mens deur die tuine drentel. Persoonlik is die pragtige tuine meestal vir my een van die grootste aantrekkingskragte as ek hierdie plekke gaan besoek.

Cypres Gardens, Florida, Amerika

Ek het die eerste keer hierdie asemrowende tuine besoek toe ek ʼn klein dogterjie was. Ek het my verkyk aan die pragtige meisies (Southern Belles) wat oral in die tuin op die gras sit met die mooiste aandrokke aan. Die rokkleure het die helder kleure van die verskeidenheid blomme in die tuin geëggo.

Wat ek egter die meeste van al my besoeke aan die tuine onthou as ek nou terugdink, is die pragtige bloedrooi poinsettias wat in die wintermaande blom. Hulle het ook ʼn massiewe Kersboom uit die poinsettias gebou.

Die park het sy oorsprong in 1936 gehad, maar na verskeie veranderinge, is dit deesdae egter deel van Legoland. Dis nie heeltemal dieselfde nie, maar hulle het hard probeer om die essensie van die pragtige botaniese tuine vas te vang. Die vreemde en indrukkende Banyan boom het gelukkig behoue gebly.

affodille-engeland

Affodille in Engeland. Foto: Unsplash/Pixabay.com

Affodille, Engeland

Hierdie pragtige, “vriendelike” blommetjies is so eie aan die Verenigde Koninkryk, dat dit selfs die nasionale blom van Wallis is. Fyn en delikaat, maar steeds sterk genoeg om deur die koue te beur om te blom wanneer lente sy opwagting maak.

Hulle kom letterlik oornag op. Die oggend as jy jou oë oopmaak en by die venster uitkyk, is daar ʼn plaat van hierdie mooi geel blommetjies wat wild groei oral op die groen Engelse velde.

Hulle het ook tuine, regoor die Verenigde Koninkryk, wat mens kan gaan besigtig, maar andersins is hierdie goue blommetjies gratis vir almal wat oë het om te sien.

Tulpe, Keukenhof, Holland

As ek dink aan Holland dink ek aan tulpe. Dis so eie aan die land soos kaas. Hoewel jy oral tulpe kan sien, is daar een spesifieke plek wat weer kleur gee aan enige vaal bestaan.

ʼn Paar kilometer vanaf Amsterdam vind mens die pragtige tuine van Keukenhof. Hierdie kleuryke, skouspelagtige tuine is net vir drie maande van die jaar oop vir die publiek. Mens kan amper sê dit is die oorsprong van die tulp.

Gewoonlik is daar meer as sewe miljoen knolle in blom elke lente en 800 verskillende soorte tulpe groei hier oor 32 hektaar van kleure en geure.

Die tuine bied ook blomskoue aan en verskillende aktiwiteite vir oud en jonk. Maar die hoofaantrekkingskrag van hierdie plek is verseker die kleur volle lenteblomme.

Vertel gerus waar jy jou mooiste blommeprag gesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.