Dis amper lente, gaan besoek Jasmyn

Die bekende restaurant in die vorm van ’n meule kan sommer vinnig raakgesien word. (Foto: Dalene de Vente)

Jy sien daardie meule al van ver af. Dan wéét jy … Nee, dan vóél jy dit: Jy is by Jasmyn.

Van kleins af al maak dié uitsig my hart warm. Die winter laat die Noordwes landskap bleek lyk, maar kom ons wees eerlik: Winter, somer, herfs of lente – Jasmyn Plaasprodukte se mooi tuine pronk in alle seisoene. ʼn Besoek aan Jasmyn is altyd uitsonderlik.

Die plek laat jou droomverlore: die trappe wat jou na die boekwinkel lei is selfs gebou en geverf sodat dit nes boeke lyk. Of jy nou daar is om net gou-gou inkopies te doen, en of dit ʼn uitstappie is – die kreatiewe trappe laat jou soos ʼn regte toeris voel. Paartjies staan en foto’s neem en as jy dit vir die eerste keer sien, lees jy eers deur al die titels soos wat jy boontoe stap: daar waar die boekwinkel wag.

En wat ʼn boekwinkel is dit nie! Ek kies altyd eerste koers na die rakke met die fiksie, waar al die meesters op die rakke vir die leesliefhebbers sit en wag: Dalene Matthee, Lynn Austin, Irma Joubert, Francine Rivers … Jy kan ook verwag om boeke van Deon Meyer, Andre P Brink en PH Nortje daar te kry. Verder is daar talle boeke oor kosmaak, om nie eens van die verskeidenheid kinderboeke te praat nie. Selfs ons eie Carike Keuzenkamp het een van haar musiekvideo’s van die geliefde Ghoempie in hierdie boekwinkel opgeneem.

Die trappe wat soos boeke lyk. (Foto: Dalene de Vente)

By die restaurant in die vorm van ʼn meule kan jy unieke Nederlandse produkte bestel, maar tog ook jou lekker Afrikaanse boeretroos kry. Buite op die grasperk speel kindertjies terwyl hulle ouers aan wafels smul. Daar is ʼn aantal keuses van wafels waarvan jy kan kies: ʼn Gesondheidswafel met jogurt en vrugte, ʼn wafel soos French toast, of ʼn doodgewone lekker soet wafel met roomys.

Miskien is die treffendste van Jasmyn die groot winkel waar jy jou vars groente en vrugte kan koop. Saam met die boekwinkel vorm die winkels waar jy jou inkopies doen ʼn gebou met ʼn reusegrasdak wat soveel karakter aan hierdie plek gee.

Ek het Nederlandse bloed in my en dis eintlik hoe ons die eerste keer van Jasmyn te hore gekom het. Ons gesin ry nooit daar weg voordat ons nie eers by die Nederlandse produkte binne-in die winkel ʼn draai gemaak het nie. Droplekkers, stroopwafels, appelstroop, muisjes en hagelslag

Kom kry koffie! (Foto: Dalene de Vente)

Van oraloor kom mense om hulle waentjies vol te laai. My pa ry selfs eenkeer per maand uit Pretoria om vir ons gesin inkopies te doen. Hy laai daardie Getz van hulle vol en ná die tyd eet hy gou-gou een van die varsgebakte pasteie (skelm, sodat my ma nie moet raas nie) terwyl hy die plaasomgewing aan die anderkant van die parkeerterrein geniet.

Onder die enorme grasdak is daar ook ʼn geskenkwinkel; weliswaar die plekkie waar jy ʼn serp, kunstige eetgerei of ʼn vetplant kan koop. Jasmyn is vir my soos ʼn jasmynbloeisel – selfs in die winter; ʼn plek wat my al in alle seisoene van my lewe gesien het. Ek verkwik my gemoed gereeld met die mooi gesegdes wat die geskenkwinkel verkoop, geskep deur ʼn ene Mispa.

Sommige dae is daar stalletjies wat die mooiste goed verkoop wat my al ʼn paar keer uitgevang het. Ek neem myself voor om niks te koop nie, maar as ek weer sien, stap ek met ʼn handvol handgemaakte skeppings weg: ʼn armband met houtkrale of ʼn gekleurde houtkissie. Moenie van die stalletjie met die leerprodukte vergeet nie!

Die grense tussen Gauteng en Noordwes is sopas weer oop en die lewe in die groot stad is soms net blok en beton. Al is die pad daarheen nie sonder slaggate en krake nie, sal enigeen se siel aan hierdie deel van Noordwes verknog kan raak; eenvoudige skoonheid, netjies en kleurvol. Soms kom jy hier bloot net om gou jou inkopies te kom doen, ander kere om weg te breek – om te ontsnap en weer nuwe inspirasie te vind. Kom ontgin spesiale gesinsoomblikke hier in die hart van Hartbeespoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.