Dis (steeds) lekker by die see

Perdry langs die Suidkus se strande. (Foto: Verskaf)

Deur Terésa Coetzee

Terwyl die moontlikheid van ’n derde vlaag van die Covid-19-pandemie soos ’n donker wolk oor baie mense hang, is die vooruitsig van ’n lekker seevakansie dalk net die ding om jou en mense in hierdie sombere tye op te beur.

Die Suidkus van KwaZulu-Natal is steeds een van Suid-Afrika se gunsteling-vakansiebestemmings, en met goeie rede, want in tipiese vakansiedorpies soos Port Shepstone, Uvongo, Margate, Southbroom en Port Edward is daar hope akkommodasie om van te kies en te keur, terwyl jy die dae kan volpak met opwindende dinge om in die omgewing te doen. Dís nou as jy jou nie laat verlei deur die kilometers en kilometers aantreklike swemstrande van die Suidkus nie.

Selfs in die wintermaande bied die subtropiese klimaat skuilplek teen die ysige koue vir die Valies en die Vrystaters. Die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, Ravi Pillay, het onlangs gesê dat KZN behoorlik toegerus is om vakansiegangers te akkommodeer en steeds Covid-19-regulasies toe te pas om mense se gesondheid en veiligheid te verseker.

“Besoekers en toeriste moet wel ’n ingeboude bewustheid hê om versigtig en verantwoordelik te wees, want die pandemie is steeds deel van ons realiteit, selfs al voel ons ’n bietjie gemakliker wanneer ons vakansie hou,” het Pillay gesê.

Tydens ’n onlangse besoek aan hierdie omgewing, het ons by die gewilde San Lameer neffens Margate en Southbroom tuisgegaan en buiten dat dit natuurlik ’n lushof vir gholfspelers is, is daar ook ’n privaat swemstrand vir besoekers wat daar tuisgaan. Daar is meer as genoeg plek om fiets te ry en ek het gereeld flukse drawwers om my sien hol. Wees maar bedag op die ape wat mettertyd so mak geword het dat hulle gereeld kom inloer vir ’n versnapering.

As jy van die gevoel hou van adrenalien wat deur jou are bruis, is die Suidkus net die plek vir jou, want daar is hope aktiwiteite om jou adrenalienvlakke op te stoot. Van rekspring (bungee jumping) by die Oribie-ravyn, tot ’n avontuurlike skibootvaart uit op die see. Daar is vele bergfietsparke in die omgewing en as jy jou staalperd eerder vir ’n régte een wil ruil, is daar ook perderitte op die strand:

Saal jou fiets op

Daar is werklik talle wonderlike fietsryroetes aan die Suidkus en bergfietsryers sal hulself ’n onreg aandoen om nié hul fietse saam te vat met ’n besoek aan dié omgewing nie.

Die Clearwater Trails is ’n bergfietspark sowat 15 km van Munster af, en daar is heelwat enkel- en dubbelspoorpaadjies om te gaan ry. ’n Deel van die roete loop verby die Umtamvuna-ravyn wat van die mooiste uitsigte bied wat jy op jou bergfiets sal beleef. Op ’n mistige oggend is die ravyn byna spookagtig mooi en jy kan jou verbeel doer onder die miskombers speel daar ’n sprokieswêreld af.

Die Mtamvuna-rivier is bevaarbaar tot anderkant die brug met die staalboog, wat KwaZulu-Natal met die Oos-Kaap verbind. Die Mtamvuna se monding is ook ideal vir skibote.

Die Oribi-ravyn-natuurreservaat (ook bekend Lake Eland) het ook wonderlike bergfietsroetes wat vir kilometers aanhou. As jy moeg raak vir die onophoudelike enkelspoorpaadjies (ware bergfietsryers weet dis onwaarskynlik), kan jy maklik grootpad toe ry en die oop grondpad aandurf.

Die natuurreservaat strek oor 7 km weerskante van die ravyn en een van die grootste aantrekkingskragte is die 80 meter lange hangbrug wat oor die kloof strek. (My moeder wat byna 80 is, het die kort klimpad na die hangbrug aangepak, dus is dit haalbaar vir die minder fikses onder ons.)

Vir diegene wat eerder wil voëlkyk as fietsry: daar is sowat 230 voëlspesies, waaronder die Knysna-houtkapper wat hier aangetref word.

Een, twee, drie SPRING!

Die bekende Idols-beoordelaar en radiopersoonlikheid Unathi Nkayi wys hier hoe mens ‘n afgrond van 165 m (55 verdiepings) by die Wild 5 Adventures aandurf. (Foto: Verskaf)

Op pad na die Oribi-ravyn-natuurreservaat van die kus se kant af, vind mens Wild 5 Adventures waar jy nie net rekspronge (bungee jumping) in die ravyn af kan doen nie, maar ook van die een kant na die ander kan swaai. Dís nou vir diegene wat werklik van ekstreme aktiwiteite hou en dit geniet om die doodsengel vierkantig in die oë te kyk. Terwyl my reisgenote een ná die ander by die kloof afgespring het, het ek salig op ’n klip gesit en die gedoente so bekyk – die aksie van daar af was vir my meer as genoeg en dit is wel vermaaklik om die bleekwit gesigte en bewende bene te aanskou soos die mense van hul voorbedagte missie terugkeer.

Pasop vir die afgrond by Leopards Rock

Die rotshang by Leopards Rock sorg vir merkwaardige foto’s. (Foto: Verskaf)

Sowat 26 van Port Shepstone af en nie baie ver van die Lake Eland-natuurreservaat nie, vind ’n mens die afdraaibord vir Leopard Rock, nóg een van die vele heerlike verrassings wat KwaZulu-Natal aan vakansiegangers bied.

(Ma’s met swak harte moet maar daarop voorbereid wees dat hulle beproef gaan word, want die oorhang genaamd Leopard Rock is baie gevaarlik!) Nadat julle foto’s geneem het van die rots wat letterlik oor die afgrond hang, moet julle eenvoudig gaan aansit vir iets te ete en drinke by die restaurant. ’n Fotosessie by die oorhang-rots gaan jou waarskynlik dors laat voel vir iets sterkers as ’n melkskommel. Die restaurant bied die mooiste uitsig oor die ravyn en maak nie saak watter tyd van die dag of jaar jy daar kuier nie, dit bly asemrowend mooi.

Hier is dit nie ‘Hoe sag ry ons bootjie’ nie

South Coast Ocean Safari’s by die Shelley Beach bootklub verskaf ’n rubberboot-avontuur op die see. (Foto: Verskaf)

Dit was vroegoggend en die sonnetjie het nog skaars sy kop uitgesteek toe ons by die South Coast Ocean Safari’s by die Shelley Beach bootklub aanmeld vir ’n rubberboot-avontuur op die see.

Gepantser met lewensreddingsbaadjies is ons op die rubberboot daar weg en in die daaropvolgende uur het ek menigmaal gedink een van ons gaan haaikos word. Die motorboot vlieg soms hoog deur die lug oor die groot branders en die bestuurder het nie geskroom om baie wilde draaie met ons te maak nie. Die enigste uitweg was “Klou vir lewe en dood”.

Tussendeur het ons darem kans gehad om die kusdorpie Margate uit ’n totaal ander hoek te sien en dié wat in die diepsee wou swem, was welkom, hoewel almal op die boot teen daardie tyd maar vaal om die kiewe was.

Perdjie op gallop

Een van die onvergeetlikste maniere om ’n seevakansie af te sluit, is ’n rit op die strand op die rug van ’n Percheron-perd. (Foto: Verskaf)

Een van die onvergeetlikste maniere om ’n seevakansie af te sluit, is ’n rit op die strand op die rug van ’n Percheron-perd. Dis presies wat ons gedoen het en ek en my perd het uit die staanspoor dieselfde taal gepraat. Hy het nie veel aanmoediging nodig gehad om te galop óf te hardloop nie, tot groot ontsteltenis van die ander lede in ons groep, wie se perde noodwendig wou saamhol. Maar daar is werklik iets baie magies en spesiaal om op ’n lang, oop strand perd te ry terwyl die seeskuim teen jou bene opskiet.

Ons het saam met die Selsdon Park Estate Beach Rides gery en jy hoef glad nie ’n ervare ruiter te wees om hierdie uitstappie mee te maak nie, want al die perde is baie goed opgelei en luister onmiddellik na die gids se bevele.

Die Piesang-plek

Net so anderkant Southbroom en San Lameer sal jy Mac Banana Adventure Activities aantref waar jy nie net allerhande snuisterye en lekkernye by die tipiese padstalwinkel kan koop nie, maar ook aan avonture kan deelneem soos skyfskiet, minigholf en boogskiet. Dit is ’n lushof vir kinders (én volwasse kinders). As jy hier kuier, moet jy eenvoudig gaan aansit vir een van hul dubbeldik melkskommels – piesanggeur natuurlik!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.