Droomreise: Beplan solank jou bestemming

Die Bosbus, Yzerfontein (Foto: Carina Stander)

Die wye wêreld is vanjaar agter slot en grendel gedompel en meeste lande handhaaf steeds ʼn mate van koronavirus-reisverbod. Ek is een van miljoene mense wat vir maande lank nie verder as my plaaslike Spar gerits het nie. Daarom voel dit ʼn bietjie bisar om oor verre reise te dagdroom, maar heita, toekomsdrome is een van die magtigste oorlewingsmeganismes van die mensdom – laat ons daarom met mag en mening aan ons drome beplan!

Die menslike spesie is immers ewige verkenners en daarom sál reisigers weer terugbons, net soos ná die Wêreldoorloë, 9/11 en die groot natuurrampe. Onthou die tragiese tsoenami in die Indiese Oseaan in 2004 waarin 227 898 mense in veertien lande gesterf het? In die eerste jaar was daar ʼn 90%-afname in vakansiebesprekings in Thailand, twee jaar later was daar 13 miljoen toeriste en teen 2019 ʼn indrukwekkende 38,8 miljoen! Baie van ons ken iemand wat die spesiale aanbiedinge ná die tsoenami benut het – en winskopies is presies wat die kenners voorspel ons kan verwag noudat die ergste koronaviruskoors begin oorwaai en reisigers weer die waters begin toets.

Nasionale reis is oop, maar hoe lyk die internasionale tendens tans? Die olieprys is laer en daar is ʼn tydelike opskorting van lughawebelastings by sommige lughawens, party lugrederye het ʼn koop-nou-vlieg-later-aanbod, maar daar is ook gevalle van vlugkostes wat juis die hoogte in skiet om in te haal op enorme verliese en omdat minder roetes beskikbaar is. Die jaar 2020 is waarskynlik nie die beste jaar om koffers te pak vir ʼn internasionale reis nie, maar dit is ʼn goeie jaar om te begin beplan. Hase word uit die hoed geruk om die virusverskrikte, ekonomies-beseerde mensdom terug te lok na bestemmings wat afhanklik is van toerisme. So het Tourism Australia met ʼn Holiday Here this Year inisiatief begin en Sisilië het oorsese toeriste nader gewink deur die helfte van vlugkaartjies te betaal, en een-in drie-nagte gratis hotelverblyf en gratis toegang na museums en argeologiese terreine aan te bied.

Die wêreld staan op sy kop, maar dit vergaan nie – nog nie! Maak solank jou wenslysie, doen jou navorsing en hou die horison dop vir wonderlike winskopies wat waarskynlik binne die volgende jaar gaan opduik. Hiermee deel ek solank ʼn paar idees oor onvergeetlike reisplekke. (Let wel, my lys is beslis onvolledig: Ek was nog net op vier kontinente en in dertig van die bykans tweehonderd lande op aarde; daar is byvoorbeeld fantastiese plekke in Asië waarvan ek geen benul het nie. Ek kan net aanbeveel wat ek beleef het.) As my vriende my egter sou vra vir ʼn lys van persoonlike gunstelingreisbestemmings, sal dit op die oomblik so lyk:

Top twintig spesiaalste stede

Universiteitstuine van Cambridge (Foto: Carina Stander)

  • Kaapstad: Waar natuur en kultuur mekaar ontmoet, van die berg en see tot die interessante dorpies van die Skiereiland en Bo-Kaap.
  • Edinburgh en St Andrews: Skotland se verruklike kultuurhistoriese stede.
  • München, Duitsland: ʼn museum- en kunsliefhebber se droom.
  • Salzburg, Oostenryk: eintlik ʼn barok museum.
  • Cambridge en Oxford: Engeland se pragtige universiteitstede.
  • Avignon en Parys: Franse romantiek is nie ʼn mite nie!
  • Zürich, Interlaken en Lucerne: van die mooie stede in Switserland.
  • Cuzco (antieke Inkastede in die Andes) en Arequipa (gebou uit wit klip), Peru.
  • Salvador en Rio de Janeiro: die boheemse karnavalstede van Brasilië.
  • Gesofistikeerde Sacramento en speelse San Francisco, Amerika.
  • Amsterdam en Londen.

Top sewe mees idilliese eilande

  • Hawaii (Big Island met vulkane) en Kauai (die Tuineiland) in Hawaii, VSA.
  • Chumbe: eko-eiland vir ongerepte snorkel naby Zanzibar, Tanzanië.
  • Benguerra wat deel is van die Bazaruto-eilandgroep, Mosambiek.
  • Réunion: vulkaaneiland met Franse flair. Wondermooi aardtrogte gevul met valleie, woude, versteekte bergdorpies en van die aktiefste vulkane op aarde.
  • Isle of Skye, Skotland: dramatiese kuslyn en waterval wat in see vloei.
  • Naxos in Griekeland: ʼn doolhof van witgewaste huisies, blomme en lekker kos.

Wolhaarkoei in Isle of Skye (Foto: Carina Stander)

Dertig legendariese anderlandse dorpe

  • Hallstadt, Oostenryk: poskaartperfek tussen die berge en meer.
  • Die Pireneë is my allergunsteling deel van Frankryk – ek hou van die berg- en valleidorpies soos Cauterets. Die Middeleeuse sjarme van Carcassonne en Annecy is ook besonders en die okerrooi Rousillon.
  • Engeland wemel van sprokiesagtige dorpe met buitengewone kastele en katedrale soos Salisbury, Winchester, Whitby, Wells en Bath. Die dorpies van streke soos die Meredistrik, die Cotswold, Yorkshire Moors en Dales is lieflik.
  • Brugge, België is ʼn pragtige Middeleeuse dorpie.
  • Griekeland se eeue-oue Mystras is ʼn fassinerende Bisantynse spookdorpie, Nafplio is feestelik en Meteora se monnikedomme is gebou bo-op enorme rotskolomme.
  • Italië is bekend vir atmosferiese, feestelike dorpies gegrond in geskiedenis. Hoogtepunte is Venesië, Assisi en Pitigliano (in Toskane).
  • Giethoorn, Nederland: dromerige waterdorpie sonder strate.
  • Interlaken en die Jungfrau regio van Switserland – fluitskoon en lieflik.
  • Titicaca-meer waar mense in kleurvolle klere op rieteilande woon, Peru.
  • Ek het ʼn sagte plek vir Duitsland: die Beierse Alpe, die Swartwoud, die Romantiese Rheinvallei en die Mosellevallei van Duitsland se droommooi dorpies: Dinkelsbühl, Nördlingen, Göttingen, Goslar, Quedlinburg, Beilstein en Heidelberg. Die kastele soos Burg Eltz, Burg Rheinfels en Neuschwanstein verklap waar sprokies vandaan kom.

Twintig onvergeetlike anderlandse natuur-avonture

  • Pacaya-Samiria in die Amasone, Peru. Woon saam met die Indiane in die magtige oerwoud en ervaar buitengewone plante en dierspesies soos varswaterdolfyne, vlinders met ʼn vlerkspan van 20 cm en papegaaie. ʼn Betowerende plek.
  • Réunion: 40% van die eiland is Wêrelderfenisgebied. Die natuurwonders is die drie aardtrogte gevul met valleie, woude, versteekte bergdorpies en van die aktiefste vulkane op aarde.
  • Riviervaart met ʼn mokoro op die Okovango-delta, Botswana.
  • Driehonderd donderende watervalle wat saamsmelt by Iguazú, Argentinië.
  • Verken die magtige berge van die Skotse Hooglande.
  • Stap oor die Andesberge op die ikoniese Inkaroete na Machu Picchu, Peru.
  • Die Pantanal, Brasilië: die grootste vleigebied op aarde wat wemel van wildlewe.
  • Sequoia en Yosemite: wildernisgebiede van Amerika met reusagtige bome en sneeu.
  • Snorkel in die koraalriwwe en stap op die vulkane van Hawaii.
  • Beleef die Alpe se sneeu en lenteblomme.
  • Stap in die pragtige Franse Pireneë en geniet dan oondwarm croissants by ʼn bakkerytjie.
  • Namibië, die oudste woestyn op aarde: Sossusvlei se duine, Dooievlei, Etosha en Twyfelfontein se rotstekeninge.
  • Victoriawaterval wat dreun tussen Zambië en Zimbabwe.
  • Kampeer langs die Malawi-meer.
  • Parati, van Brasilië se mooiste woude en strande.
  • Vaar met ʼn boot op die Choberivier, Botswana.
  • Wallis se heuwels, kuslyn en markdorpies wat deel uitmaak van nasionale parke: Brecon Beacons en veral Snowdonia.

Topsewe mooiste wêreldtuine

  • Kirstenbosch- botaniese tuin, Kaapstad: ‘n Proteakoninkryk aan die voet van Tafelberg waar slegs inheemse plante gekweek word.
  • Keukenhof, Nederland: Dié lentepark het 7 miljoen bolplante wat jaarliks hier geplant word. Beeldhouwerke, watertuine, inspirasie-tuine en die pavilion met sy 75 000 tulpe in meer as seshonderd variëteite. Malse kleure.
  • Rio de Janeiro, Brasilië: Parque Jardin Botânico. Ongeveer 60% van die park is inheemse woud, die res is bewerkte tuin. Eksoties, met handgrootte marmoset-apies, brulape en 140 voëlspesies.
  • Versailles, Frankryk: allermooiste kasteeltuin. Die 800 hektaar tuin, park en woud is uitgelê in die formele Franse styl van geometriese blombeddings. 210 000 blomme word jaarliks hier geplant. Marmer- en bronsbeelde. Vyftig fonteine spuit 600 miljoen liter water per uur.
  • In die Cotswold is die Engelse fyntuin, Hidcote. Dié tuin is in “kamers” omskep en die struike is gesnoei in die vorm van voëls.
  • In Jardins de Marqueyssac in die Dordogne-streek, Frankryk: 150 000 bokshoutbome is in fantasievorms gesnoei: labirinte, voëls. Stap die tuinpaadjies deur lanings lindebome, sipresse, denne en alpeviooltjies.
  • Mauritius se Sir Seewoosagur Ramgoolam Botanical Garden in Pamplemousses beslaan 37,5 hektaar. Hier is tagtig spesies palmboom, bamboes gebuig om groot tonnels te vorm, rubberbome met hangende wortels, kremetartbome uit Madagaskar en reuse waterlelies.

Suid-Afrikaanse pragdorpe

  • Nature’s Valley: enigste dorp in die land wat binne-in ʼn nasionale park is. Dis waar die Tsitsikamma-staproete begin en die Otter-staproete eindig. Hemels!
  • Mooi Mpumalanga: Dullstroom met sy foreldamme, Pelgrimsrus die prospekteerders-dorp en Kaapsehoop met sy wilde perde en vreemdwonderlike rotse.
  • Greyton en Montagu: die oudwêreldse Wes-Kaapse dorpies by die berge.
  • Grahamstad en Graaf-Reinet vir Oos-Kaapse argitektuur.
  • Hermanus, Mosselbaai en Plettenbergbaai: kaalvoet luukse kusdorpe.
  • Prins Albert: pragtig gerestoureerde Karoodorpie tussen die berge.
  • Stellenbosch se wynplase, kultuur en kos.
  • Swellendam: een van die oudste en mooiste dorpe in die land.
  • Tulbagh en die Paarl: argitektuur waar die Kaap weer Hollands is!
  • Waenhuiskrans (Arniston) se skilderagtige vissershuisies.
  • Clarence en Rosendal: die kunstige dorpies van die Vrystaat.
  • Hogsback, Oos-Kaap: fyntuintjies en kothuise naby die Amatoleberge.

Suid-Afrikaanse wilderniservarings

Goegap, Namakwaland (Foto: Carina Stander)

  • Die Tuinroete se inheemse wonders van woud en see soos beleef met die Tsitsikamma-staproete, Ottter-voetslaanpad, Outeniqua-staptoer en Dolfynroete.
  • Ervaar die ikoniese Drakensberg: Die Amfiteater, Mont-aux-Sources, Thugelavallei en Mahai.
  • Baljaar op die spesiale strande: Chintsa (Oos-Kaap), Uvongo (Suidkus), Keurboomstrand, Nature’s Valley en Noetzie (Tuinroete), Llandudno (Kaapstad) en Msikaba (Wildekus).
  • Ry die Kaapse bergpasse: Swartbergpas, Meiringspoort, Bainskloofpas, Prince Alfredpas en Sewe Passe.
  • Stap die woudagtige Amatola-staproete met sy talle watervalle.
  • Verkyk jou aan die oeroue kranse van Baviaanskloof, Oos-Kaap.
  • Verken Tafelberg te voet: Skeleton-ravyn, Tranquillity Cracks, Maclearsbaken.
  • Namakwaland, die Weskus en Bokkeveldplato se blommeprag in die lente. (Veral Bitterfontein, Springbok, Nieuwoudtville, Waylandsplaas, Contreberg, Oude Postplaas, Slangkopplaas en Tinie Versveld)
  • Stap Magoebaskloof-multidagroete en Modjadji-broodboomreservaat naby Tzaneen.
  • Mpumalanga se mooi watervalle (Mac-Mac, Lisbon en Berlin) en Blyderivierspoort se kolkgate.
  • Verkyk jou aan die grootste populasie walvisse by De Hoop (Wes-Kaap) in Augustus.
  • Die Krugerwildtuin, natuurlik!
  • ʼn Kuier op ʼn Bosveldplaas in die wilde Waterberge van Limpopo sal jou herinner dat jy in Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.