Eiendom – Ek gaan bos toe

Boschhoek Berglandgoed

Wat is dit met dié van ons wat nou maar eenmaal net nie kan ophou hunker na die bos nie?

Dis nie ʼn vraag wat ʼn sterfling sommer sal kan antwoord nie, maar daar is raad. Die asemrowende Boschhoek Berglandgoed is ’n toevlugsoord in die natuurprag van die Waterberg, net ʼn uur en ʼn half noord van Pretoria en twee ure vanaf Johannesburg.

Hierdie video gee ʼn idee van Boschhoek se natuurskoon:

Nou verstaan ons waarom Boschhoek deel is van Unesco se Waterberg Biosfeerreservaat en boonop ʼn kritiese biodiversiteitsgebied is.

By Boschhoek gaan dit oor die natuur en die bos. Slegs 0,25% (ja, dis reg, ʼn kwart persent) van hierdie 1 500 ha bergkom naby Modimolle (voorheen Nylstroom) in Limpopo word bebou. Die res bly ongerepte bosveld waar wild soos kameelperde, elande, sebras, koedoes, rooihartebeeste, blesbokke, waterbokke en klipspringers die veld met bykans 150 voëlspesies deel.

Boschhoek is ’n plek waar familie mekaar weer vind, waar Oupa vir kleinseun die mierleeu in die sand gaan wys. Dis ook ʼn plek waar jy, jou kinders en hulle kinders betekenis en heling vind in ’n wêreld wat homself al dieper verskans in kunsmatigheid en voorgee. Daar is ’n egtheid in die spore onder die spikkelskadu van die wildeseringboom wat geen slimfoon, iPod of iPad ooit kan ewenaar nie. Geen skerm, maak nie saak hoe wyd of plat, kan die werklikheid van ’n weerkaatsing in ’n bergpoel weergee nie. By Boschhoek word daar gestreef na werklikheid en essensie, ’n terug-na-die-natuurbenadering teenoor die glitz & glamour wat dikwels in bosplekke gepleeg word.

Met bykans 115 erwe (80%) verkoop en 60 boshuise gebou is Boschhoek gevestig en bied uitstekende waarde. Pryse in die laaste fase, wat nou beskikbaar is, wissel tussen R849 000 en R1 199 000 vir voltitelboserwe van 1 ha tot 2 ha groot, met enkele vlagskip-erwe teen R1 499 000. Daar is ʼn pragtige verskeidenheid van vlakte en uitsig, kloof en bos, stroom en vleiland.

Hierdie is jou laaste kans vir dié wat nog hoop op ʼn eie bosplek. Die wetgewing waarmee Boschhoek gevestig is, bestaan nie meer nie. Synde ʼn geproklameerde residensiële landgoed soortgelyk aan sy stedelike eweknieë is grondhervorming ook nie ter sake nie. Met heffings van slegs R900 per maand kan jy boonop bekostig om te koop en te hou tot dit jou pas om te bou.

Een van die groot voordele van Boschhoek is dat daar geen minimum grootte vir jou boshuis is nie. Jy kan dus met die bos as jou leefarea begin en uitbrei oor tyd soos wat dit jou sak en jou voorkeur pas. Geen styl word voorgeskryf nie, dit moet net gehalte wees en inpas by die bos. Tent-boshuise word ook toegelaat. Al wat oorbly is die besluit of jy dit net naweke gaan gebruik, en of jy permanent op Boschhoek gaan bly en jou sake gaan doen in die groot stad soos nodig.

Vir dié wat verkies om te deel met ander wat net so lief is vir die bos, is daar ook nog enkele aandele beskikbaar in die volledig toegeruste 12 bed- Berg&Bosch Lodge. Dis geleë op een van die hoogste erwe op Boschhoek met ’n asemrowende uitsig. Twee toegeruste chalets en ʼn aparte leefarea maak dit moontlik vir vriende en familie om saam ʼn aandeel te koop teen R350 000. ʼn Aandeelhouer het volle gebruik vir ʼn week elke twee maande.

Aangesien Boschhoek nie van Eskom afhanklik is nie, kry niemand ʼn kragrekening nie en beurtkrag is dus ook nie ʼn probleem nie! Basiese watervoorsiening is ook gratis.

Veiligheid is ook ’n prioriteit. Boschhoek word omring deur private grond. ’n Geëlektrifiseerde wildheining strek vir 14 km om die eiendom. Daar is ook dubbele toegangsbeheer.

Laastens verleen die wakende oog van die bekende prokureursfirma Macrobert Ingelyf, gestig in 1896, bykomende gemoedsrus.

Jy hoef nie langer te hunker na die bos nie. Klik hier vir meer inligting, besoek die webwerf of skakel die Boschhoek-ontwikkelaar Herbert Smith by 083 654 8201 of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.