
Die Fynboshuisies is die nuutste verblyfopsie op die plaas en elke huisie is tussen die fynbos versteek. (Foto: Clifford Roberts)
My skoonsus en haar man kom kuier een maal per jaar van Brittanje. Daar is natuurlik al die gewone dinge waarna hulle verlang: boerewors, blatjang, biltong. Maar elke keer wil hulle ook teruggaan Babylonstoren toe. Want binne ʼn 12 maande siklus is daar soveel nuwe dinge om te gaan ontdek, skryf Maryke Roberts ná drie salige dae aan die voete van die Simonsberg.
Wanneer jy by die pragtige geboue verbyry, die plaas ʼn lieflike miernes van bedrywighede, is dit moeilik om te glo dat dié bestemming in sy huidige formaat vandeesmaand maar sy 13de verjaardag vier.
Jy meld aan by ontvangs, waar jy en jou tasse op ʼn klein gholfkarretjie gelaai word en dan is dit wind in die hare tussen sitrusboorde deur na die nuutste akkommodasie-gedeelte, die Fynboshuisies, weg van die gewoel van die res van die plaas. Sou jy nie onmiddellik na jou verblyf gaan nie, is die Groenkamer oorkant Babel Restaurant, ʼn sitkamer spesiaal vir hotelgaste met ʼn versameling goeie boeke, bordspeletjies, ʼn skaakstel en ʼn esel vir skilder. Hier kan gaste met mekaar gesels of met ʼn drankie voor die kaggel ontspan.

Ons pragtige kamer is luuks, vol natuurlike lig en net die plek vir lekker laat lê soggens. Die badkamer in ons Fynboshuisie is amper spa-agtig luuks. (Foto: Clifford Roberts)
Die huisies is modern en luuks, maar laat glad nie die plaas se historiese erfenis agterweë nie: Die plaas is in 1692 gestig en die oudste geboue is in die laat 17de eeu gebou. Die herehuis dateer uit 1777.
Nadat die eiendom in 2007 deur die huidige eienaar, voormalige tydskrifredakteur Karen Roos, gekoop is, het die Franse argitek Patrice Taravella, eienaar van Prieuré Notre Dame d’Orsan (naby Bourges in Frankryk), die tuin ontwerp. Oor die volgende paar jaar is priële, gruispaadjies en watervore aangebou. In 2009 het die tuiniers begin om die grond voor te berei en is die meeste van die plantwerk in die formele tuin afgehandel. In November 2010 het Babylonstoren sy deure vir die publiek oopgemaak. Karen se dekor-oog is oral te bespeur.
Die 13 gaste-eenhede langs die tuin, waarvan sewe basiese kombuise het, is nuut gebou in die Kaaps-Hollandse styl en staan op die fondasies van die oorspronklike arbeidershuise. Die moderne vertrek met glasmure wat die eet- en kombuisarea bevat, gee ʼn ononderbroke uitsig oor die tuin en wingerd – die gevoel dat ʼn mens buite is al is jy nie. Die ekstra ruimte wat so geskep word, gee ook die gevoel dat jy vrylik kan asemhaal. Die ontwerp eer die Kaaps-Hollandse styl, maar het ʼn moderne aanslag vir gaste se gemak.
- Die badkamer in ons Fynboshuisie is amper spa-agtig luuks. (Foto: Clifford Roberts)
- Ons pragtige kamer is luuks, vol natuurlike lig en net die plek vir lekker laat lê soggens. (Foto: Clifford Roberts)
Ek loer na die logo op die houtboksie in ons kombuisie wat tot barstens toe vol vrugte van die plaas is. Ek hoor dit wat bestaan uit die pyp (verteenwoordigend van die boer), die blom (verteenwoordigend van die tuin) en die voël (verteenwoordigend van die natuur), kombineer die essensie van Babylonstoren – om alles so eenvoudig en so getrou moontlik aan die aarde te hou.
Babylonstoren is ʼn geskiedkundige Kaaps-Hollandse plaas met een van die bes behoue ou plaaswerwe in die Kaap. Die pragtige tuin is verdeel in 15 groeperings wat onder andere seisoenale groente, eetbare blomme, leibome, bessies, byekorwe, lekkerruikgras, ʼn turksvydoolhof, geurige rankrose en ʼn verskeidenheid sitrusbome insluit. Verder is daar ook immer groeiende versamelings inheemse broodbome, clivias en vetplante met groot botaniese waarde.
Elke aspek van Babylonstoren word gevoed uit die tuin se ewig-veranderende tapisserie en sy botaniese diversiteit. Dit sluit die moderne Plaashotel en Tuinspa, die Plaaswinkel, Geurkamer, restaurante en funksielokale in.
Die reusebed met sy spierwit beddegoed is aanloklik, veral met die deure van ons huisie oopgegooi, en die voëlgesang en ligte briesie wat by die glasdeure inkom. Maar ons het omtrent elke aktiwiteit, wat gratis aan hotelgaste gebied word, bespreek: broodbak, olyfstap, plaastoer, wynproe en karnivoor-aand.
Daar is vele ander goed wat dagbesoekers ook kan geniet, wat ons ook sal meemaak, maar nou moet ons eers die broodbak afhandel.

Die karnivoor-aand is ʼn ware vleisfees en ons smul aan biltong, biefstuk en plaasvars groente en -vrugte, voor ons elkeen ʼn lepel balsamiese asyn kry om met spysvertering te help. Steve September bedien dit met trots. (Foto: Clifford Roberts)
My wange is vol stroopsoet nartjieskyfies toe ons by die bakkery instap. Haarnette, voorskoot en handewas. Nie noodwendig in daardie volgorde nie maar al drie ewe belangrik. Daar is verskeie werkswinkels deur die jaar en Peachy Jacobs se brood-werkswinkel is een van die gewildstes. Ons is op die verkeerde datum daar, maar nie te treur nie, ons bak ons eie brood met Erica Bedo wat al meer as drie jaar ʼn bakker hier is. Wendy Joseph is meer as vyf jaar daar en vertel dat sy met haar deeg praat en “klein liefdevolle klappies op die boud” gee om te verseker dit rys en bak mooi.
ʼn Meksikaanse wittebroodpaartjie is saam met ons. Hulle het ook pas arriveer en is nog in stille verstomming oor die natuurlike skoonheid van die plaas. Ons hoor so tussen die deegknie en bakkery – een brood kry roosmaryn en Maldonsout en die ander ʼn heel knoffelbol – dat goewerneur Simon van der Stel in 1692 aan die vryburger Pieter van der Byl ʼn stuk grond aan die voet van ʼn keëlvormige koppie toegeken het.
In Nederlands het dit Babilonische Tooren en later Babilonstoring of Babylonstoren geheet, aangesien die vorm daarvan die 17de-eeuse boere herinner het aan die Bybelse Toring van Babel. ʼn Ander interessante spekulasie is dat die naam ook verwys na die taalkundige smeltkroes wat die vallei in daardie stadium was – Nederlands, Frans, Duits en die tale van die Khoi en San het vermeng geraak en eksotiese Oosterse woorde het via die speseryroete hier aangeland, wat ʼn mens inderdaad aan die Bybelse storie van die Toring van Babel herinner.
Ons brode word gebak en later by ons huisie afgelewer om saam met die plaas se buffelsmelkkaas, wyn, koue vleis, wyn en balsamiese asyn te geniet. Terwyl die broodjies bak, meld ons aan vir die olyftoer.
Brent Marais is vyf jaar op die plaas en lei al vir die afgelope drie jaar die olyftoere. Ons stap deur die kelder waar die olyfolie gespin (nie gepars nie) word, omdat dit sagter op die olywe is en ook beter olie lewer, en waar vyf soorte olywe – Mission, F6-17, Coratina, Frantoio en Don Carlo – in soutwater lê om gekuur te word.

Die olyftoer is nie net insiggewend nie, daar is hope geleenthede om die plaas se olywe en olyfolies te proe. (Foto: Clifford Roberts)
Ons proe al die olies en kry die kans om elkeen ʼn klein botteltjie self te meng met ons gunstelinge om huis toe te neem. Ons gaan kuier ook by die Geurkamer waar die plaas se vlugtige olies gedistilleer word; hulle seep en badprodukte maak en waar die balsamiese asyn verouder word. Dit mag nie Balsamico genoem word nie. Die naam is beskerm en net balsamiese asyn wat in Modena gemaak word en altyd kleiner as 100 ml botteltjies is dra dié naam, maar die Babylonstoren balsamiese asyn word op dieselfde manier gemaak en vir 12 jaar verouder.
Al die geproe en gepraat van kos, maak ʼn mens natuurlik honger. Ons het aandete by Babel, die plaas se bekroonde restaurant, bespreek en besluit op ʼn heerlike plaasbord saam met ʼn wynproe in die glaskas-proelokaal.
Die plaas het 13 verskillende druifkultivars hoor ons daar, terwyl ons aan die viognier en shiraz teug. Om ons proe mense die hele reeks en kou aan broodstokkies en stukke kaas. ʼn Mens wil nie eintlik aanskuif elders heen nie!
Die kaas is van die plaas se 200 Asiese waterbuffels en die melk is hoër in kalsium en proteïene. Ontbyt en aandete is ʼn vertoonstuk van die plaas se beste en varsste produkte: groente en vrugte uit die tuin word in borde vertoon, wat amper te mooi is om te eet en enige ou Hollandse meesterskilder na sy palet sou laat gryp. Die vleis – Chianina-beeste van die plaas – is sag en geurig.

In die wynproesentrum geniet ons ʼn heilsame plaasbord en wyn. (Foto: Clifford Roberts)
Growwe tafellinne soos jy op die Italiaanse- of Franse platteland op die plaas sou kry. Die servet het ʼn teenwoordige swaarte op jou skoot. Etes is talmende feeste; geen gejaag hier.
Tussen al die lekker eet en ontdek deur, gaan stap ons gereeld in die tuin, bring ure in die spa deur en geniet elke hoekie van ons huisie. Die berge wat agter die Paarl waghou, verkleur deur die dag en jy moet jouself keer om nie aanhoudend foto’s te neem nie en eerder die mooi daarvan in jou geheue probeer verewig.
Ek is dankbaar vir my skoonsus-hulle se aandrang om jaarliks terug te gaan. Tussendeur gaan “inspekteer” ons graag om te sien of alles op hul standaarde bly. Of dis wat ons ander wil wysmaak. Eintlik is dit net vir ons eie sieleheil!
- (Foto: Clifford Roberts)
- (Foto: Clifford Roberts)
- Oral is die dag se vars geoeste groente, vrugte en kruie op jou bord, in potjies as rangskikkings en in bakke om te kou soos jy die plaas verken.(Foto: Clifford Roberts)
- (Foto: Clifford Roberts)
Kitsfeite:
- Daar is verskeie verblyfopsies op Babylonstoren. Die Plaashotel het 38 gaste-eenhede: 5 eenslaapkamer-kothuise met leefareas; 8 tweeslaapkamer-kothuise met leefareas; 15 eenslaapkamer-suites; 5 slaapkamers in die Herehuis en 5 slaapkamers in die Fynbosfamiliehuis. Laasgenoemde twee eksklusiewe familiehuise kan elk tien gaste huisves en is ideaal vir gesinne of groepe vriende wat saam wil bly. Bespreek by Babylonstoren.com.
- Babylonstoren is in Simondium tussen die Paarl en Franschhoek geleë en is elke dag van die week oop vir dagbesoekers tussen 09:00 en 18:00 in die somer en van 10:00 tot 17:00 in die winter. Jou toegangsgeld van R100 is geldig vir ʼn jaar, vir ʼn onbeperkte getal besoeke.