Emigrasie moet ’n weldeurdagte keuse wees

emigrasie

Foto ter illustrasie. Foto: Johannes Rapprich/Pexels.com

Soos die wêreld teen wisselende tempo’s deur Covid-19-golwe beweeg, is grense soms meer, en ander kere weer minder oop. Dit kom voor asof migrasiesyfers internasionaal aan die styg is. Soms is dit mense wat reeds in 2020 sou verhuis, maar deur die Covid-19-inperkings verhoed is. Ander kere is dit mense wat as gevolg van huidige omstandighede oortuig word om hulle heil elders te gaan soek.

Die doel van hierdie artikel is nie om enige persoon se keuse te beoordeel of veroordeel nie, ook nie om oordrewe negatief te klink nie, maar bloot om ’n paar praktiese sake te noem waaraan mense wat emigrasie oorweeg moet dink om ’n ingeligte keuse te maak en die proses so veilig as moontlik deur te voer.

Beplanning vir die buiteland

  • Sorg dat jy mediese versekering het, al is jy hoe jonk of gesond. As jy in ’n ongeluk beseer word, of onverwags siek word, kan hospitaalkoste in die buiteland maklik honderdduisende rande beloop en ’n repatriasievlug letterlik miljoene.
  • Maak seker dat die werksaanbod en immigrasiedokumentasie wat jy kry, geldig is. Sogenaamde “agente” loop mense soms lelik met vals dokumentasie in. Werk met adviseurs of agente wat al dekades lank in die bedryf is en ’n gevestigde reputasie het.
  • Moenie ’n beurs of salaris wat aangebied word na rand omskakel nie. Kyk wat die lewenskoste in die bepaalde land is en vergelyk die bedrag daarmee om seker te maak of jy daarmee sal kan oorleef.
  • Stel vas hoe inkomstebelasting jou gaan raak as jy in die buiteland geld gaan verdien om te voorkom dat jy dubbele belasting gaan betaal, in beide Suid-Afrika en jou nuwe tuiste.
  • Maak seker watter rugsteunplanne bestaan as jou werkgewer skielik jou pos sou afskaf of die sakeonderneming sou sluit.
  • Maak seker dat jy die besigheidstaal of -tale van die land waar jy gaan woon vlot kan praat.
  • Sou jy besluit om in die buiteland te studeer, maak seker dat die instelling en kwalifikasie in Suid-Afrika en elders geakkrediteer is en erken word.
  • Moenie voor die voet besittings saamneem nie. Elke land het voorskrifte van items wat nie daarheen geneem kan word nie – jou braaitoerusting gaan dalk onwettige invoerprodukte wees wat jy gaan verbeur en dan het dit onnodig kosbare spasie in jou vraghouer opgeneem. Net so gaan jou gunsteling lakens dalk nie op die land se beddens pas nie. Expat-groepe kan nuttige wenke hieroor gee.
  • As jy troeteldiere het, is die koste om hulle saam te neem hoog, maar om troeteldiere in die buiteland te koop, is self besonder duur. As jy troeteldiere hier by vriende, familie of skuilings agterlaat, is die kans dat hulle ’n goeie permanente huis gaan vind en suksesvol gaan aanpas, bitter skraal. Moet dus ook nie ’n klein hondjie of katjie kry as jy beplan om binnekort te emigreer nie.
  • Vir kinders kan emigrasie baie traumaties wees. Hou kontak met hulle nuwe onderwysers, want soms lyk dit dalk of alles in orde is by die huis, maar op skool raak hulle probleme vinnig duidelik.
  • Die staat gaan jou nie na Suid-Afrika repatrieer in geval van nood nie. Die koste gaan jou en jou familie se verantwoordelikheid wees.
  • Tans is dit nodig om seker te maak dat jy op hoogte bly van die Covid-19-regulasies van beide Suid-Afrika en die land waarheen jy emigreer, asook ander lande waardeur jy dalk mag reis op pad na die eindbestemming. Daar is deurentyd nuwe verpligtinge met betrekking tot inenting, kwarantyn en grense wat sluit.
  • Moenie asiel of vlugtelingstatus as kortpad vir emigrasie oorweeg nie. Dit word selde goedgekeur, ongeag die huidige misdaadsituasie in Suid-Afrika, en indien jou aansoek wel slaag, is hierdie tipe status tydelik en uiters beperkend. Sou dit nie slaag nie word die feit dat jy aansoek gedoen het wel aangeteken, wat dit baie moeilik kan maak om in die toekoms weer toegang tot ander lande te kry.

Beplanning in Suid-Afrika

Moenie brûe in Suid-Afrika verbrand nie – die kans dat jy eendag na Suid-Afrika sal terugkeer, kan nooit uitgeskakel word nie.

  • Moenie skuld of boetes agterlaat nie; die arm en geheue van die gereg is lank.
  • Hou indien moontlik ’n bankrekening in Suid-Afrika aktief, want om een uit die buiteland te probeer open is moeilik tot onmoontlik, afhangend van jou persoonlike omstandighede.
  • Verkoop eers duur bates soos huise en voertuie as jy redelik permanent in die buiteland gevestig is, anders sal jy wat jy gehad het dalk nie meer kan bekostig as jy onverwags sou moes terugkeer nie.
  • Dink mooi voor polisse afgekoop word.
  • Moenie te gou jou mediese versekering in Suid-Afrika beëindig nie. As jy sou terugkeer, gaan jy voortaan ’n heffing as deel van jou mediesefondsbydrae betaal, bereken op grond van elke jaar wat jy nie ’n lid van ’n Suid-Afrikaanse fonds was nie.
  • Wanneer jy buitelandse burgerskap wil aanvaar, doen eers om behoud van die Suid-Afrikaanse burgerskap aansoek, anders is die kans baie groot dat jy jou Suid-Afrikaanse burgerskap onwetend gaan verloor.
  • Hou ook jou Suid-Afrikaanse paspoort geldig en gebruik altyd die Suid-Afrikaanse paspoort om Suid-Afrika binne te kom en die land te verlaat.
  • As jy ’n beroep beoefen waar jy by ’n professionele raad moet registreer om te mag praktiseer, moet jy die registrasie aktief hou. As jou registrasie verval en jy kom dan na Suid-Afrika terug, mag die betrokke raad van jou vereis om van voor af eksamens af te lê, ekstra betalings te maak of gemeenskapsdiens te doen, ongeag van watter hoogtes jy in die buiteland in jou beroepsveld bereik het.

Hierdie artikel is met die vergunning van Wêreldwyd geplaas. Wêreldwyd is AfriForum se gemeenskap van en adviesdiens vir Suid-Afrikaanse emigrante. Vrae oor enige van die bostaande kwessies of verwante sake kan aan [email protected] gerig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Moeilikheid ·

Wel ek kan my storie met julle deel ek het die 28ste Januarie 2021 terug gekeer SA toe van New Zealand af voor dit was ek van 2003 tot 2008 in Engeland gewees waar ek die hele wereld vol gereis het. Ek my vrou en twee kinders het die besluit om terug te keer saam geneem en ons is baie bly om terug te wees. ons het SA baie gemis. Wat ek kan se is dink baie mooi want dit is nie so rooskleurig soos wat almal dink nie. Daar is verskriklik baie faktore wat n mens moet in gedagte hou. Dit was n baie duur uitstappie gewees wat n enorme finansiele inpak op ons as gesin gehad het.

Oom ·

Soveel hoofde, soveel sinne. Meer as drie jaar gelede het ons die land van verspilde melk en heuning verlaat. Was nog nie een dag spyt of vol heimweë nie. Ons vertrek uit SA is voorafgegaan deur ‘n nege jaar lange beplannings- en implementeringsproses. Die omstandighede by die plek waar ons ons bevind is dieselfde soos ons dit in die “beter” SA geken het. Ons lewenskoste is nie dramaties meer as in SA nie; in sommige gevalle selfs goedkoper. Gelukkig is 90% van ons inkomste in die plaaslike geldeenheid.

Ons geniet 300+ sonskyndae per jaar (tipiese Wes-Kaap klimaat) in ons streek wat nie in Oos-Europe, Afrika of Australiasië geleë is nie. Die bevolking hier praat ‘n taal wat ons sukkel om te verstaan, maar ons kon 90% van SA se bevolking ook maar nie verstaan nie. Wanneer ons opreis gaan, verstom ons ons aan die landstreke waardeur ons reis. Het al vrede gemaak met die feit dat ons nie in die restant van ons lewens al die mooi plekke hier te lande sal kan besoek nie.

Oom ·

Ons kan maar net ons koppe skud as ons die verwoesting en plundering van eiendom sien. Wat ‘n bejammeringswaardige situasie vir diegene wat nog hoop om ‘n eerlike bestaan te probeer maak.

Ons het sonder moeite teen die einde van Junie 2021 ons inentings (elkeen twee) teen die Sjinese virus gekry. Nou kan ons weer sonder belemmering reis net waarheen ons wil.

michael ·

Ek en my famielie het in 2003 Australia toe getrek. Was n bietjie moelik so hier by die derde jaar maar sal dit weer doen. Was die hardste maar die beste besluit wat ons ook al gemaak het. The geleenthede vir iemand se kinder is goed in die land en vir ons was dit die hoof rede. Ons kinders is albei profesioneele en ons klein kinders sal n toekoms he’.
My advise if you have the opportunity take it. Our standard of living is way higher here than we had in SA and yes we do pay 36% tax but at least we see something for it.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.