Familiebesoek uit Texas (en die ollies braai saam)

Die familie staan vir ’n foto by die wildkykvoertuig wat ons vir die wegbreeknaweek by die Mabalingwe-wildreservaat bespreek het. (Foto: Mariska Nanni)

Bosveld, wild, braaivleis, potjieskos, piekniek, markte en Afrikaanse musiek om die vuur.

Dít was bo-aan my beplanningslys om ʼn onvergeetlike vakansie op eie bodem te reël vir my broer en sy gesin se besoek uit Texas in die VSA.

Johry (Batt), sy vrou, Jade, en hul dogtertjie, Isabella (nou vyf), het net voor die aanvang van die Covid-19-pandemie van Kaapstad na die VSA verhuis.

In die verlede het ons byna elke vakansie saam met hulle in die mooie Moederstad deurgebring en in 2022 het die familie almal stuk-stuk by hulle in Austin gaan kuier. Hulle het intussen nog ʼn dogtertjie, Koda, ryker geword. My en my man, Sergio, se dogtertjie, Mia, is agt maande gelede gebore en toe ek hoor my broer-hulle gaan in Maart vir ʼn week by ons in Moreletapark kom kuier, was ek natuurlik kinderlik opgewonde.

Olifante by Nageng Lodge in Mabalingwe. (Foto: Mariska Nanni)

Ek en Sergio was boonop vasbeslote om te wys dat hoewel ons Pretorianers nie ʼn see, Tafelberg of wynplase het om mee te spog nie, Pretoria beslis ook ʼn besoek werd is. Die Groot Vyf is op ons voorstoep, met talle wonderlike wild- en natuurreservate net ʼn uur of twee se reis van die Jakarandastad.

Olifante wat water uit die swembad drink terwyl ons om die boma by ons wegbreekplekkie in Bela-Bela gekuier het, het egter al ons verwagtinge oortref; dit was so asof ons dit spesiaal vir die geleentheid bestel het.

Ons het lekker by Nageng Lodge (Mabalingwe) gebraai met die olifante in die agtergrond. (Foto: Mariska Nanni)

Ons sou later hoor dat ons baie gelukkig was om die grootvoete te sien. Ek dink die ollies het geweet hoe kosbaar hierdie familievakansie vir ons almal was. Dié pragtige diere word nie verniet beskryf as hoogs intelligent en intuïtief nie.

Bietjie Pretoria, bietjie bos

Maar kom ons begin in Pretoria.

Ons week lange vakansie saam het op 13 Maart met ʼn pizza- en opvangaand tuis afgeskop.

Eerste op my lys van uitstappies was ʼn lekker straatmark in Hazelwood op 14 Maart, The Club Streetside Market. Dit is ʼn lekker kos- en koopmark en op dié dag het Elvis Blue musiek gemaak. Daar is hordes interessante en unieke winkels en restaurante om in Hazelwood te besoek.

’n Olifant vat ’n skelmslukkie uit die swembad by Nageng Lodge (Mabalingwe). (Foto: Mariska Nanni)

Die volgende dag het ons en ons ouers vir ʼn lekker langnaweek na die Mabalingwe-wildreservaat buite Warmbad in Limpopo vertrek. Isabella was veral opgewonde om die bosveld te ervaar en ons het juis vir ʼn wegbreekplek gesoek waar die Groot Vyf gesien kan word.

Ons was gelukkig genoeg om plek by Nageng Lodge te kry. ʼn Heerlike ruim vyfslaapkamerhuis met ʼn boma en swembad wat op ʼn watergat uitkyk.

Dít is hier waar die olifante ons sommer die eerste aand al verras het. Ons het nog lekker om die vuur gesels met Arno Carstens se “Hoe gaan dit” in die agtergrond toe ons takke hoor kraak.

Verskeie bokke het die watergat by Nageng Lodge in die Mabalingwe-wildreservaat besoek. (Foto: Mariska Nanni)

Ons het die musiek vinnig stilgemaak en almal het opgewonde geraai dat dit waarskynlik ʼn olifant is …

En toe kom die eerste grootvoet deur die bosse. Maggies, ons kon ons geluk nie glo nie. Dit was ʼn jong olifantbul wat in al sy prag besluit het om water uit “ons” watergat te kom drink.

Ons was nog besig om foto’s te neem toe ons nog takke deur die blare se geritsel hoor kraak…

Toe ons weer sien, was daar ʼn trop van sowat sewe olifante net ʼn katspoeg van ons af – al wat ons skei ʼn kort houtheining.

Een van die olifante het water uit die swembad gedrink en sommer met albei voorpote oor die heining geklim om makliker by die swembad te kom.

Verskeie bokke het die watergat by Nageng Lodge in die Mabalingwe-wildreservaat besoek. (Foto: Mariska Nanni)

Ek moet bieg ons was ietwat senuweeagtig, maar dit was heeltemal te besonders om weg te kyk. (Ons het wel seker gemaak die skuifdeur is oop indien ons almal vinning die huis sou moes inhol.)

Só het ons dié reusediere vir omtrent 15 minute (van ʼn veilige afstand) bewonder voordat hulle weer verdwyn het.

Die eienaar, Kobus Bastiaanse, het sommer ook gebel en gevra of ons die olifante gesien het. Die lodge het buitekameras wat die diere se bewegings in die bos monitor.

“Julle is baie gelukkig,” het hy gesê.

Dit was inderdaad ʼn groot voorreg. Ons is wel gewaarsku om enige sitrus baie ver weg te bêre aangesien olifante nogal ver sal gaan om dit beet te kry.

Die res van die naweek was daar gereeld bokke soos njalas en rooibokke, asook vlakvarke en bospatryse by die watergat te sien. Die ollies het ongelukkig nie weer ʼn draai by ons gemaak nie.

Op ons wildrit het ons sebras, blouwildebeeste, kameelperde, koedoes en renosters gesien. Ons was gelukkig om weer olifante op een van die vroegoggendritte te sien. Ons het ook verskeie roofdiere soos leeus, tiere, wilde honde en hiënas by die reservaat se roofdierpark gesien. Een van die wit tiere het boonop ook Isabella geheet.

Die swembad en kuierarea by Nageng Lodge kyk oor ‘n watergat uit. (Foto: Mariska Nanni)

Ons het so lekker by Nageng gebly dat ons sommer nog ʼn aand bespreek het. Dit was die ideale bosveldervaring vir ons en die “Batties” al die pad van oorsee.

Wat verder lekker van dié spesifieke huis was, is die ligging. Dit is baie naby aan Mabalingwe – wat ongeveer 8 800 ha beslaan – se hoofingang en ander aktiwiteite soos put-put, ʼn restaurant, swembaddens en natuurlik die Kalahari Oasis Bush Pub. My pa, Henry, is gek oor die antieke dekor en ou geroeste voertuie wat die plek versier. Ons het lekker gelag toe klein Bella met ʼn regte suidelike Amerikaanse aksent vra: “Why is everything so old?”

Terug by die huis was die tyd maar min voordat hulle op 20 Maart na Kaapstad moes vertrek.

Omdat hulle aktiewe buitelugmense mense is, wou ons hulle wys dat Pretoria ook baie het om te bied wat die natuur en buitelugaktiwiteite betref.

Die pragtige natuurskoon by die Mabalingwe-wildreservaat. (Foto: Sergio Nanni)

Ons is Dinsdag laatmiddag na die Kimiad-gholfbaan in Moreletapark vir pizza en skemerkelkies. Ons het by die Rosewood-restaurant langs die gholfbaan gekuier terwyl die kinders lekker op die gras en klimrame gespeel het.

Die volgende oggend is ons na Wolwespruit in Erasmuskloof.

Ons het iets by die Boma-restaurant geëet terwyl Isabella die enorme speelterrein verken het. Dit voel glad nie of jy in die stad is nie.

Wolwespruit bied ook verskeie stap- en fietsryroetes en het verskeie kinder- en selfs hondevriendelike restaurante. Jy kan ook ʼn kombers op die gras gooi en vir ure daar uitspan.

Daar is ook ʼn Clay Café waar jy lekker kan verf – sommer terwyl jy aan iets peusel.

En net so was dit weer tyd om te groet. Maar vir ons ʼn wonderlike vakansie wat ons vir altyd sal koester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.