Fietsry in die Wildekus

(Foto verskaf)

Deur Terésa Coetzee

Met soveel verskillende bergfietsbyeenkomste op die kalender deesdae is dit moeilik om te kies – veral as jy tyd én geld in ag moet neem. Bowenal is die inskryfgeld vir die byeenkoms nie waar jou uitgawes ophou nie en reiskostes plus logistiek, soos verblyf voor en ná die byeenkoms, kan jou bankbalans eindelik nogal seermaak. Dís waarom fietsryers dikwels maar selektief moet wees met die byeenkomste wat hulle kies en dié wat slim is, maak dit dan sommer deel van ʼn familie-vakansie of wegbreek saam met goeie vriende. Alles in die naam van fietsry en sport(s), natuurlik.

Hoewel die Great Kei Trek nie heeltemal ʼn splinternuwe byeenkoms is nie, het dit die organiseerder, Rob Jackson, ʼn jaar of wat gevat om eers ʼn paar bestanddele by te voeg en weg te vat voor hy by die wenresep uitgekom het. Die Great Kei Trek bevat beslis al die elemente waarvoor ʼn sosiale fietsryer (wat nie regtig lus is om resies te jaag en te kompeteer nie), kan vra. Van die beeldskone ongerepte Wildekus waardeur die fietsroetes strek, tot die vriendelike, jolige atmosfeer wat deurentyd tussen die ryers heers. Die Wildekus het met goeie rede sy naam gekry, want die landskap is ongerep en hier is hope grondpaaie wat smeek om met ʼn bergfiets ontdek te word. Die afstande van die Great Kei Trek is elke dag kort genoeg dat daar meer as genoeg tyd is vir rus en kuier ná die tyd, maar hierdie is ook een van daardie byeenkomste waar niemand jou vreemd aankyk as jy sommer tydens een van die skofte by ʼn plaaslike sjebeen aanklop vir ʼn koue enetjie nie – solank jy en jou fiets net voor donker weer terug is by die eindpunt.

Sommer met die aankomslag by die lughawe in Oos-Londen kan jy al begin ontspan. Luxliner-busdiens is een van die borge van die byeenkoms en vandaar word die ryers almal saam na die beeldskone kusdorpie Morganbaai, wat sowat ʼn anderhalfuur van die lughawe af is, toe geneem. In die bus kan jy sommer al met die ander ryers begin kennis maak. Die Wildekus strek vanaf Oos-Londen tot teen die grens van KwaZulu-Natal, en op ʼn landkaart sien jy hoe die N2 van Oos-Londen af binneland toe loop en dan weer stelselmatig terug kus toe tot by Port Shepstone. Morganbaai lê tussen Oos-Londen en bekende plekke soos Keimond, Koffiebaai en Hole in the Wall. Suid van Morganbaai is die bekende Haga Haga-strand, maar net een van die pitstoppe van die Kei Trek-byeenkoms.

Ek het ʼn tentjie by die see

(Foto verskaf)

Een van die unieke eienskappe van die Great Kei Trek is dat jy vooraf self kan kies watter verblyfopsie jou sak en styl pas. Die Morganbaai Hotel is die basis, waar die byeenkoms elke dag begin en eindig, en hulle het ʼn spesiale maaltydpakket saamgestel sodat jy al jou etes daar kan eet.

Hoewel ek nie ʼn kranige kamper is nie, het die tent-opsie by die Morganbaai-karavaanpark vir my heel aanloklik gelyk en daarmee saam het ons etes by die hotel bespreek. Dit was een van die beste besluite wat ek in ʼn lang tyd geneem het. Reeds met ons aankoms by die karavaanpark was ons tent vir ons opgeslaan langs die strandmeer, met ʼn paar kampbeddens om die ondervinding meer luuks te maak. Die ablusieblok naby ons kampeerplek is pas spiksplinternuut opgeknap en smiddae, ná elke fietsry-skof, kon ons onsself gaan pamperlang in ruim storte en voor groot spieëls met oorgenoeg kragpunte.

Ons bure het kom vertel hulle kamp al die afgelope maand daar en gaan nóg ʼn maand langer bly. Hulle het sommer ook vir ons kopligte geleen toe hulle hoor ons het ons s’n vergeet. (Ek sê mos ek is nie ʼn kranige kamper nie.) As deurwinterde kampeerders, wat die land se kampplekke baie goed ken, het hulle ook vertel daar is min karavaanparke wat kan kers vashou by die een in Morganbaai. Die kampterrein sit teen die strand en dis boonop ʼn uitstekende hengelplek.

Merke, gereed, trap!

(Foto verskaf)

Tydens die eerste skof (wat sowat 55 km ver is) het ons so ʼn entjie strandlangs gery tot waar ons almal met die pont oor die Keirivier gevaar het in die Transkei in. Dis nie aldag wat ʼn mens met jou fiets vaar nie en hierdie was opsigself ʼn lekker belewenis. Sowat 18 km anderkant die rivier was een van ons pitstoppe die Seagull Hotel, waar ons met die mooiste seeuitsig aan ʼn boerierol kon smul. Die hoogtepunt van die dag was egter beslis die laaste stop by The Bushpig Pub & Grill, net so 10 km van die Morganbaai Hotel af, waar ʼn hele klompie fietsryers vasgehaak het. Aandete by die hotel was ʼn seekos-buffet met van die lekkerste steurgarnale en mossels wat ek in ʼn lang tyd geëet het.

Die tweede dag se skof was weer ongeveer 50 km en omdat hierdie area ook die afgelope tyd baie reën gekry het, is die roete aangepas sodat ons ryers nie vir kilometers deur modder moes beur nie. Ons is deurentyd begroet met van die mooiste uitsigte oor landskappe en het gereeld gestop om net ʼn slag om ons te kyk en foto’s te neem. Die dag se skof het ons ʼn goeie vier tot vyf ure besig gehou, nie omdat dit moeilik was nie, maar teen dié tyd het die rustigheid van die Wildekus aangesteek. Selfs die Nguni-koeie lê daar op die strand en sonbaai! Middagete was by die Bayview Farm en agterna het die eienaar vertel dat hulle meer pizzas verkoop het as wat daar mense was en die aand is almal terug na hierdie restaurant vir pasta en pizza. Die lewendige orkes het gesorg vir ʼn heerlike atmosfeer en onvergeetlike kuier.

Die hoogtepunt van die derde skof was sonder twyfel die pitstop by die kusdorpie Haga Haga – buite vakansietyd is hierdie plek maar taamlik stil en bedees, maar die vrolike fietsryers het vinnig vir meer aksie gesorg. Op die groot grasperk voor die hotel, kon die ryers bene rek, ʼn paar foto’s neem en natuurlik ʼn hongerplekkie vul met die geroosterde kaas- en tamatiebroodjies op die spyskaart. Hierdie skof was ook so amper 50 km lank.

En skielik is dit verby…

(Foto verskaf)

Die einde van die derde skof het veels te vinnig aangebreek en teen dié tyd is goeie vriendskappe gesmee, baie grappies gedeel en wonderlike herinneringe bymekaargemaak. Gelukkig was daar darem nog die laaste partytjie by die hotel, waar almal hul “oorlogstories” van die afgelope drie dae kon deel en ons vir oulaas na die foto’s en video’s van die fotograwe kon kyk. Die volgende oggend vroeg was almal weer op die bus op pad terug Oos-Londen toe, maar gelukkig met ʼn hele klomp nuwe telefoonnommers en vriende op ons kontaklysies.

Vir meer besonderhede oor Great Kei Trek, besoek www.greatkeitrek.co.za.

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.