Foto’s: Beleef die fantastiese heuwels van Karkloof en Howick

(Foto: Jacques Marais)

Howick is ʼn ougat dorp midde-in die hart van die Karkloof-bewaringsgebied. Inheemse mis-belt-woude, wêreld-gehalte bergfiets-, stap- en drafroetes, en dosyne avonture wag op jou hier in KZN se Middellande, vertel Jacques Marais.

Ek is dol oor Karkloof se ou woude. Hier in Moeder Natuur se kerk is dit altyd tjoepstil, en die soel briesie wat die tamaai bosreuse se blare so effens laat bewe, hang deurtrek van aardse aromas. Indien jy dié groen skaduwêreld gaan verken, wag daar verassings om elke draai op jou voetpad.

Dis soos ʼn natuurskatkis wat voor jou ontvou, met sampioene wat rooi en bruin en spook-vaal bloei op verrotte boomstompe. Daar is ʼn mikroskopiese mostapyt in neon skakerings teen rotse, met skilpadbesies wat soos blink druppels bloed oor die satyn-groen biggel. Die gezoem van die bye uit ʼn gat, diep in ʼn eeue-oue kiepersol se stam, weerklink hoog in die takke en daar êrens kabbel ʼn helderskoon bergstroom as ʼn agtergrond klankbaan.

(Foto: Jacques Marais)

Dis magies en mistiek hier in die inheemse woude rondom Howick, en ʼn mens voel half asof jy dalk een van Tolkien se mitiese karakters hier mag raakloop. Vir my is veral die Spitzkop deel van die gebied poskaart-prentjie-mooi, met sowat 60% van Suid-Afrika se mis-belt-fauna en -flora wat hier teen die geronde heuwels en hoë grasveldhange floreer.

Mis-belt-woude word sowat 1 000 tot 1 750 m bo seespieël gevind, en kenners beskou dié bosse as een van Suid-Afrika se mees biodiverse ekostelsels. Drie plaaslike kraanvoëlspesies word hier gevind, en jy kan dalk ook die uiterse skugter en skaars oribie, grys duiker, samango-aap, musseljaatkat, rooikat, luiperd, bosvark en vele ander diere gewaar.

Die buitelug-brigade baljaar nou al vir dekades in hierdie paradys, met veldloopwedrenne – soos die Three Cranes – wat elke jaar honderde deelnemers lok. Bergfietsryers kan kus en keur tussen dosyne roetes, met honderde kilometers se grondpaaie, enkelspoor- en 4×4-paadjies. En ja, duisende voëlkykers, stappers, natuurkundiges en buitemense kom hier uitspan om rustig te raak.

Gaan loer gerus by www.karkloofconservancy.com vir meer inligting.

(Foto: Jacques Marais)

Doen-dinge in Karkloof:

Sappi beheer groot dele van die Karkloof-bewaringsgebied, en poog om ʼn balans te skep tussen ekonomies vatbare plantasies, en ʼn groeiende ekotoerisme mark in die land. Curry’s Post, Rietvlei en Howick is ʼn natuurparadys, en is dus dié plek waar ʼn mens wil begin verken.

Trap bergfiets: Karkloof is ongetwyfeld een van Suid-Afrika se mees uitstaande bergfietsbestemmings, met roetes en byeenkomste wat ryers van reg oor die wêreld lok. Een van die groot trekpleisters is die Karkloof Classic wat elke jaar in Mei aangebied word, maar daar is meer as genoeg grondpaaie en enkelspoor om jou vir maande lank besig te hou. Gaan loer ʼn bietjie na die roetes by www.karkloofconservancy.org.za.

(Foto: Jacques Marais)

Hoog in die takke: Karkloof Canopy Tours bied ʼn twee-uur kabel-gly-avontuur, waar jy tussen nege platforms met glybane deur die boomtoppe van hierdie inheemse woud kan sweef. Vergeet van die hoogtevrees, want jy sal vasgegordel wees in ʼn harnas met al die nodige veiligheidstoerusting. Professionele gidse vergesel elke groep en deel interessante feite oor die ekologie van die woud. Besoek www.karkloofcanopytour.co.za vir meer inligting.

Heerlike kaas: Swissland Cheese, geleë tussen golwende groen heuwels met lieflike uitsigte, is die tuiste van een van Suid-Afrika se mees bekroonde bokmelkkaserye. Besoekers kan hier kaas proe en koop, of lekker met ʼn piekniekmandjie ontspan terwyl die jong klomp die bokke voer. Besoek www.swisslandcheese.net.

(Foto: Jacques Marais)

Groet Madiba: Die Capture Site is ʼn kontemporêre monument ter ere van wyle president Nelson Mandela, en is opgerig waar hy op 6 Augustus 1962 gearresteer is. Die uitstalling hier beeld beide sy lewe uit, asook die geskiedkundige rol wat hy tydens die stryd teen apartheid gespeel het. Daar is ook ʼn Indrukwekkende beeld wat uit bestaan uit 50 staalkolomme, wat uit die regte hoek en afstand ʼn portret van hierdie beroemde leier in fokus bring.

Kyk voëls: Karkloof is heel bo aan die lysie van bestemmings in suidelike Afrika vir mense wat graag geveerde vriende deur vêrkykers wil beloer. Jou kanse is goed om drie van ons eie kraanvoëlspesies hier raak te loop. Kontak die Karkloof-bewaringsentrum en sluit aan by een van hul begeleide staptoere, of gaan sit rustig in een van hulle puik voëlskerms.

(Foto: Jacques Marais)

Water-wonder: Die asemrowende Karkloof-valle is nie verniet deur die vroeë setlaars “die pragtigste waterval in die land” genoem nie. Hierdie skouspelagtige waterval val 105 m oor ʼn ruwe krans by Shafton Grange.

Hoe om te maak:

Waar om te bly: Puik verblyf is beskikbaar om elke hoek en draai, met ʼn wye reeks top opsies wat op jou wag indien jy by Rockwood Lodges gaan aanklop. Howick self is natuurlik net om die draai, met hope bed-en-ontbyt-plekke, herberge, plaashuise en ander boheemse opsies, soos die organiese Old Mushroom Farm. Besoek www.tomf.co.za.

Dan is daar ook Westwood Trout Lodge, ʼn wonderlike 1840 Setlaars-opstal wat gerestoureer is en nou luukse selfsorgverblyf bied, met uitstekende vlieg-hengel-geleenthede in drie groot damme vol reënboogforel.

(Foto: Jacques Marais)

Wanneer om te gaan: Howick en Karkloof is geleë in ʼn redelike hoë reënvalstreek, maar die klimaat is relatief matig. ʼn Mens kan dus enige tyd van die jaar lekker hier kuier.

Hoe om daar te kom: Volg die N3-deurpad en neem dan die Howick-afrit naby Tweedie. Volg die hoofstraat tot in die dorp, en gaan sit rustig by een van die baie koffiewinkels of bierbrouery. Daar is dosyne bestemmings wat wink.

  • Jacques Marais is ʼn bekroonde fotograaf en skrywer van gidse soos Top MTB Trails en Doen-Dinge in ʼn Dorp – @jacqmaraisphoto / jacquesmarais.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.