Foto’s: Daardie pad Kaap toe  

Langs die pad na die Kaap. (Foto: Dalene de Vente)

“Jou elmboog steek in my maag!”

“Ja, maar daar is nie plek vir my arm nie…” Ek is die kleinsus en dit is hoe menige van my vakansies begin het.

Op ’n tyd kon ek die dorpe en stede langs die N1 vanaf Pretoria tot Kaapstad soos ’n rympie opsê: Kroonstad, Bloemfontein, Colesberg, Beaufort-Wes, Laingsburg. Net voor Drie Susters het ons altyd oornag op die Retief-gesin se Karooplaas. En dit was altyd Theuns Jordaan of Laurika Rauch wat kliphard vir ons deur die karoo gesing het. Aan die einde van die reis het Oupa en Ouma se huis gewag in Bellville. Of my oom s’n in Durbanville.

Wat sou ek nie opgee vir daardie ure in die kar as kleinsus ingeprop tussen drie ander nie? Dit is ʼn reis wat ek enige iemand gun.

Natuurlik hoef die pad tussen Pretoria en Kaapstad nie reguit te wees nie. ʼn Paar keer het ek al saam met my vriende interessante afdraaie geneem. Elke afdraaipad het sy eie geheime en geskenke.

Die kerk in Cradock. (Foto: Dalene de Vente)

Verby Colesberg kan mens afdraai, Cradock se kant toe. Ons neem selfies by die moederkerk en gaan groet gou-gou by universiteitsvriende se ouerhuis. Toevallig staan die oom en tannie buite en gesels. Ons toet soos ou bekendes voor die hek en waai.

“Ons is Adriaan se vriende!” Hulle groet met die hand en vra oor uit oor die reis. Ons ry verby Port Elizabeth en Plettenbergbaai. Daardie aand slaap ons oor op Groot-Brakrivier se rugbyveld.

In Riversdale is daar ʼn koffieplek, die Ou Tronk. Dit was vroeër regtig ʼn tronk en jy kan so tussendeur die kreatiwiteit van die winkel ook bietjie van die geskiedenis geniet. Ons stop daar voordat ons Tradouwpas aanpak – ʼn plek waar jy nie eintlik wil weggaan nie. ʼn Heerlike wegkruipplek as jy dalk vir die 21ste eeu wil vlug.

Ons ry deur Montagu en draai daarna Worcester se kant toe. Die spesiaalste van die reis Kaap toe is miskien daardie oomblik as jy deur die Hugenote-tonnel ry. As kind is dit omtrent al waarna jy uitsien: die betowering van ʼn báie lang tonnel. Terwyl ons daardeur ry met my vriende, geniet ek die oomblik van nostalgie wat vlak in my hart kom lê. Aan die ander kant is die Kaap hier by jou.

Ons geniet die waterfront se atmosfeer, doen ʼn staproete langs Kaappunt en eet vis in Kalkbaai. Die Bo-Kaap is ʼn moet (perfekte plek vir mooi Instagram-foto’s.) Moenie vergeet om by Kirstenbosch piekniek te hou nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.