Foto’s: Die bootvaart van ’n leeftyd

Norwegian Prima wag vir ons in die Skarfbakki-hawe!

Deur  Clifford Roberts           

Ná enkele jare se stilte is skeepsvaart-vakansies nou besig om die verlore tyd vinnig in te haal. Clifford Roberts het onlangs op een van Norwegian Cruise Lines se nuutste skepe ʼn onvergeetlike vaart vanaf Ysland meegemaak.

As daar een waarheid is, een onwrikbare geloof wat ʼn mens as vanselfsprekend in onsekere tye kan aanvaar, is dit dít: bemanning weet. Hierdie formidabele korps, hetsy op ʼn vliegtuig of elders, wéét – waar die nooduitgang is; hoe laat ons vertrek; watter kraan die warm een is, ensovoorts. Verbeel dan my verbasing toe ek op een van die opwindendste reise van ʼn kordaat jong lid in haar kraakvars uniform rigting vra en sy huiwer. Sy kyk links in die gang af en dan regs. ʼn Krakie verskyn in haar glimlag en toe tref die besef my: Sy. Weet. Nie.

Die nuwe skip se dekor is waarlik asemrowend en laat jou nie voel asof jy op ʼn skip is nie, maar eerder ʼn luukse hotel.

Al stamel ek toe (stilletjies, in my binneste) van verbasing, is dit op hierdie oomblik net heeltemal te verwagte. Ek moes van beter geweet het. Ons is twee van 3 100 gaste op ʼn splinternuwe skip van 20 verdiepings, wat enkele dae terug uit die skeepsboudokke van Venesië te water gelaat is. Boonop, hoe geolie kan ʼn mense nou verwag almal moet wees na maande se pandemie-werkloosheid?

Ons het haar – dis nou die skip – ure voor ons aankoms in Skarfbakki, Reykjavik se hawe, reeds raakgesien, al was ons ʼn paar kilometers ver. Die hoogste gebou in die stad, die Hallgrímskirkja-kerk,  is maar ʼn tikkie meer as 74 m hoog – net 11 m hoër as die skip en kan ook nie misgekyk word nie. Maar vir die tyd wat sy in die hawe lê, neem mense eerder foto’s van die skip as van die kerk!

Die personeellid voor my herstel. Dalk die entoesiasme om weer die lewensbloed van nuwe gaste wat in-settle en vandag deur die gange soos miere vloei te ervaar. Ons bestudeer saam ʼn kaart van die skip en ek laat my deur die gemaal wegsleep.

“Gemaal” is dalk ʼn té sterk woord, maar is ook in ʼn mate gepas. Dis immers ʼn ongelooflike bekendstelling wat ons meemaak. Ek en my vrou is saam op die Norwegian Prima, die eerste van ʼn nuwe klas skepe in die vloot van die Amerikaanse-maatskappy, Norwegian Cruise Lines (NCL). Vir hierdie loodsvaart, vertrek Prima vanaf die Yslandse hoofstad, Reykjavik, en reis dan na Amsterdam, met dag-lange stoppe in Ierland, Engeland en Frankryk.

Die aankoms in ons kamer is vir ons ʼn hoogtepunt – onbewus van dit wat nog wag. Nie net dat ons die kamer tussen die honderde ander gekry het nie, maar dis ʼn oomblik om die deur toe te maak, ʼn paar kiekies te neem want die dekor en spasie is asemrowend, en dan op die bed te kan neerplof.

Dis sag en koel soos die donsies om my wange vou, maar my sintuie wil net nie saam gaan lê nie – maak nie saak hoe die moegheid in my kuite opkruip nie. Hier is baie om te sien en doen; ʼn plan moet beraam word.

My spesiale oomblik met Orlando Bloom op Norwegian Prima se renbaan op die dak van die 20-verdieping skip.

Prima het ʼn klein resiesbaan aan boord, ʼn VR-speelkamer asook ʼn hele rits spesialiteitsrestaurante. Daar is ʼn kossaal met ʼn dosyn spyskaarte wat gunstelinge van regoor die wêreld aanbied. Daar is die twee Supertube-styl glyplanke wat jou binne sekondes van die boonste dek na die onderste een, neem – en jy word nie eers nat nie. Om nie eers te praat van die swembad, kroeë, teaters wat in ʼn ommesientjie in ʼn nagklub omskep word nie, pretpark, Escape-room, casino, winkels en kuns-staproete nie. Dit is ʼn gesin se droomplek, veral omdat daar verskeie stil sithoekies is wat orals – insluitend jou eie balkon – vir ʼn uitgeputte ouer te vinde is.

Die skouspelagtigheid begin stadig insink, nie net oor die verskeie ekstras wat vir hierdie eerste rit gereël is nie, soos ʼn vertoning in die stad se operahuis, Harpa, en ʼn lewendige vertoning op die skip deur popster Katy Perry. Na die vertoning, soek ek en my vrou ʼn bietjie stilte en suiker ons op na die hoogste dek, toevallig waar die renbaan om die skip se reuse-skoorstene ʼn draai maak. Perry, haar kinders, en metgesel, Orlando (ja, daai een), is daar. Ek dink sekuriteit het aangeneem ons is deel van die groep, want ons is alleen. Orlando waai vir my soos hy in een van die plat karretjies verbyjaag. Later op die telbord sien ek hy is die enigste een wat die NCL-grootbaas se baanrekord breek.

Soos die dae aanskuif, verander eienaardigheid in gemaklike gewoonte. Jy sien uit om ʼn bietjie meer spoggerig vir aandete aan te trek. Jy begin die mense wat jou hyser deel, herken en verwag die groet van enigiemand in uniform wat verbystap. Al minder hoef jy vir aanwysings te vra, en die kere wat jy moet, is enige teken van huiwering weg. Selfs die personeel het hul seevoete gevind.

Digitale skerms in die eetsaal laat jou toe om van ʼn wye verskeidenheid kos te bestel met slegs ʼn vingertik op die skerm.

Onder die bekendstellings wat aan boord plaasvind, is dié van The Haven – die luukse, private deel van die skip met sy eie kuierareas en restaurant. Die plek waar die hoofbestuur, Perry en Orlando en diesmeer oornag. Ons leer ook van Prima se kaptein, Roger Gustavson, en NCL HUB Harry Sommer, meer van die maatskappy se projekte en tegnologie wat gebruik word om die impak van sy skepe op die omgewing te verminder.

Ons eet te veel. Maar hoe gemaak as daar aan elke lekker nuuskierigheid voorsien word? Op ʼn aand, versprei die nuus oor ʼn spesiale seekos-gedoente. (Of was dit ʼn aankondiging in die daaglikse nuusbrief wat elke aand onder jou deur ingeskuif word?) Ons kom toe in die betrokke selfhelp-eetplek en kry hope soos wat ʼn mens min kere in jou lewe sal ervaar – krappe, krewe, oesters, garnale en meer, hoog gestapel.

Die nuwe gaste en skip is in Reykjavik deur ʼn spesiale vertoning in die stad se operahuis, Harpa, verwelkom.

Ek troos myself dat die “oefening” van enkele begeleide dag-uitstappies wat ons in Cork, Honfleur en in Amsterdam aanpak, help om ʼn bietjie ekstra vetjies af te skud.

Terwyl ons vaar gaan salige ure verby, gewoonlik waar ek ʼn uitsig op die see het, of nog beter, die briesie kan voel en die rustige suising van water teen boeg kan hoor. Die weer bly mooi en daar is geen sprake van onstuimigheid (die skip is met stabiliseerders toegerus en ʼn boeg soos ʼn ysbreker wat die kwaaiste oseaan kan trotseer).

Elke dag kom gewoonlik tot ʼn einde met ʼn sopie by die Whiskey Bar in die Penrose Atrium en die sagte tapyt-paadjie terug na ons kamer.

Die dag toe ons Nederland se Noordzeekanaal invaar, is almal bo-dek of by ʼn venster. Ons eindpunt is op hande en vir ʼn kort rukkie, lei ʼn sleepboot ons in. Die brandblussers spuit ʼn boog in die lug – tradisie vir nuwe skepe. Aan wal, stop mense om die reus te aanskou. Klein bootjies doer onder klou verbete aan die oewer vas.

Almal se bagasie is gepak en ons moet af. Daar is min tyd vir totsiens, maar dit was lekker. Ons sal terug wees – dit weet elke lid van die 1 388 bemanning al te goed.

Ditjies en datjies:

  • Daar is sowat 20 skepe in die NCL-vloot, waarvan sommige ook in Suid-Afrika aandoen. Besoek www.ncl.com vir meer inligting.
  • Sou jy een van hulle oorsese reise onderneem, maak seker van visums wat benodig word. Jy het visums nodig in elke hawe waar die skip aandoen – ongeag of jy aan wal gaan.
  • Foto’s deur Clifford en Maryke Roberts en verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.