[Foto’s] Die man wat ʼn stad in die woestyn gebou het

Baron Edouard Louis Joseph Empain (Foto: Wikipedia)

Baron Edouard Louis Joseph Empain (Foto: Wikipedia)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Wanneer jy in Heliopolis, ‘n voorstad van Kaïro, stap, kom jy af op ‘n imposante betongebou. Dit staan leeg, die vensters en deure is gebreek. Die omheining is egter stewig en wagte en waghonde pas die terrein en gebou op.

Doen jy navraag oor die gebou, kom jy af op die merkwaardige storie van een van die minder bekende 19de eeuse entrepreneurs – die verhaal van Baron Edouard Louis Joseph Empain.

Edouard Empain is op 20 September 1852 in België gebore. Saam met sy broer, Francois, bou hy ʼn sakeryk op waardeur hulle nie net skatryk sou word nie, maar wat tot vandag toe ʼn invloed uitoefen in Europa.

Edouard se pa was ʼn onderwyser. Na skool werk hy as ‘n tekenaar by ‘n metallurgiese maatskappy. Hy merk op dat die vervoer in die Belgiese platteland baie gebrekkig is en begin spoorlyne bou. Behalwe die spoorlyne in België, bou hy ook verskeie spoorlyne in Europa en is ook betrokke by die bou van die indrukwekkende Paryse moltreinstelsel.

In 1881 begin hy sy eie bank, Banque Empain, wat later die Belgiese Nywerheidsbank sou word. Vanaf 1890 bou hy verskillende elektriese tremlyne in stede in Europa, Rusland, China, die Belgiese Kongo en in Kaïro. Hy begin ook verskeie elektriese maatskappye om krag op te wek vir sy treinprojekte.

Heliopolis (Foto: Thomas Dreyer, verskaf aan Maroela Media)

Heliopolis (Foto: Thomas Dreyer, verskaf aan Maroela Media)

Edouard Empain arriveer in 1904 in Kaïro om na een van sy projekte om te sien en hy besluit om in Egipte aan te bly. In 1906 stig hy die “Cairo Electric Railways Company” en die “Heliopolis Oases Company” en koop teen ‘n winskoop 25 vierkante kilometer woestyn van die Britse regering. Op dié stuk sand in die woestyn, 10 km oos van Kaïro, bou hy ‘n nuwe dorp, Heliopolis.

Hy beplan Heliopolis as ‘n stad van welvaart en gemak met boomryke lanings. Hy lê water aan en bou riolerings- en elektriese aansluitings. Grond word opsy gesit vir hotelle, soos die “Heliopolis Palace Hotel”, wat later die presidentspaleis van President Hosni Hoebarak sou word. Hy bou ‘n gholfbaan, ‘n baan vir perderesies en parke.

Vandag is Heliopolis ‘n groot voorstad van Kaïro met dubbelbaan paaie, kerke, moskees, besighede en ‘n metrospoorlyn. Stap jy in die strate is daar min te sien van die boomryke lanings van Eduard Empain se droom. Jy sien nog van die pragtige herehuise, maar party staan leeg. Die meeste mense bly nou in beton woonstelblokke met vuil strate en vuil agterplase.

Loop jy af in Oroubalaan (vroeër Avenue des Palais) kom jy af op die “Paleis Baron Empain”. Dit is ‘n bisarre bruin beton “paleis” met gewels en torings wat vreemd afsteek teen die ander geboue – ʼn laaste herinnering aan die man wat Heliopolis op ‘n stuk woestyn gebou het. Die gebou is in 1911 voltooi.

In 1907 ontvang Eduard Empain die titel “baron” van die Belgiese koning. As amateur Egiptoloog onderhandel hy dat verskeie opgrawingskatte aan die Brusselse Museum geskenk word. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog ontvang hy die rang van generaal-majoor en vervaardig in Parys en Le Havre wapens vir die Belgiese weermag. Hy sterf op 22 Julie 1929 in België en word begrawe in die katolieke Basilique Notre Dame in Heliopolis, die stad wat hy gebou het.

Soos met elkeen, was sy lewe nie net ‘n verhaal voorspoed en sukses nie. Binne-in sy paleis is ‘n pragtig uitgekerfde hout spiraaltrap. Van hierdie trap val sy vrou na haar dood. Nie lank na haar dood nie, is sy dogter, wat met tye dae lank alleen in ‘n kamer onder die paleis gebly het, dood aangetref in een van hierdie kamers. In 1978 word sy kleinseun, Baron Eduard-Jean Empain III, in Parys ontvoer, maar word gelukkig na 63 dae lewend teruggekry.

(Met erkenning aan Wikipedia)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos1 ·

25 vierkante meter? Dis sal genoeg wees as die inwoners miere is!

Sune van Heerden ·

Dagsê Koos1

Ons vra om verskoning vir die blaps! Dit moet “25 vierkante kilometer” wees.
Die berig is gewysig.

Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

JC ·

Sjoe, wat ‘n goeie stuk van ‘n wonderbaarlik interessante persoon wat mens nie eens regtig van geweet het nie. Die geskiedenis is so wyd en uiteenlopend dat dit seker is dat indien jy 20uur per dag vir die res van jou lewe aan dit spandeer jy nooit werklik agter die kap van die byl sal kom nie.
Wys jou net hoe baie het ondernemende koloniste en kolonialisme eintlik vir o.a. Afrika beteken, ongelukkig is dit deesdae ongewaardeer en ‘n vloekwoord om buite die grense van politiese korrektheid van die goedhede en prestasies van kolonialisme te praat. Hopelik binnekort sal daar weer met trots gepraat, en die prestasies van kolonialisme bespreek kan word, sonder vrees daarvoor om in die HSM gekasty te word. Snaaks hoe kolonialisme op hippokritiese wyse nou swartgesmeer word, maar kyk net na al die prag en goed wat dit die wereld gebring het, niks gaan uit die aard van die saak ook net seepglad verkloop of perfek wees nie, veral gesien in die lig daarvan dat kolonialisme ‘n produk van sy tyd en denkwyses was. Hopelik eendag sal iets van daardie besondere denkwyses en die opregte en op-die-punt-af, eenvoudige en hardwerkendheid en ondernemingsgees en gesonde waardes en gepaardgaande vernuftigheid eendag weer blom.

Anton ·

…Hi almal…dit is Nico, MaroelaMedia se redakteur, se 30ste verjaarsdag…Geluk met jou verjaarsdag Nico…mag daar nog baie wees…ek geniet jou op Die Groot Ontbyt…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.