Foto’s: Die prag en praal van Porto

‘n Voorbeeld van straatkuns in Portugal. (Foto: Clifford Roberts.)

 Met die inperking wat reis verhoed, het dit Maryke Roberts meer tyd bestee aan kaste regpak, sorteer en om uiteindelik foto’s in albums kry. Een van daardie foto’s het haar onmiddellik teruggeneem na sorgelose dae in Porto, Portugal – ’n paar maande gelede.

Die eerste foto is uit ’n oulike wynvat-fotohokkie by dié wêreldbekende Port-produsent, Taylor’s geneem en van daar kan jy dit huis toe pos. En so met die foto in die hand, onthou ek daar is iewers nog ’n bottel Taylor’s 10 Year Old Tawny Port versteek in ons drankkas. Natuurlik is dit net vir spesiale geleenthede, want dit het ’n plaas se prys gekos.

Maar soos die herinneringe oor my spoel, gooi ek tog ’n sopie in die kristalglasie wat ek in Riga in Letland, se vlooimark gekoop en in my handbagasie saamgebring het.

Al teugend, met my voete op die koffietafel, herleef ek weer die wonderlike agt dae in Porto. Dis een van die billikste Europese vakansies wat ons nog gehad het en jy kan af en toe gaan uiteet en darem elke dag ’n cappuccino geniet sonder dat jy bang is een van die SMS’e op jou foon is van jou fronsende bankbestuurder.

Ons het skaars ons bagasie by ons hotel neergesit, of ons is na een van die stad se toerismekantore vir ’n Porto-kaart. Dié kaart is van een tot vier dae geldig en bied korting by en selfs gratis toegang tot verskeie plekke, vervoer en vele ander voordele. Maak seker jy koop nie ’n voetgangerkaart nie, maar een wat openbare vervoer insluit.

Porto is bekend vir sy groot aantal katedrale, en al kan jy nie almal gaan besoek nie, is die uurlikse klokkespel wat oor die stad beier, ’n gerusstellende reismaat soos jy die straatjies verken. Die stad se bekendste bakens wat naby ons hotel geleë is, is die Clérigos-toring in die Baixa-distrik van Porto wat 76 meter hoog bo die stad uittroon en ook die Porto-katedraal in Bathala op die ou stad se hoogste punt, gebou. Dié nasionale gedenkwaardigheid met sy dubbel torings wat jou eerder aan ’n ouwêreldse fort herinner, is naby die ou stadsmure geleë.

Die min slaap voor ons vertrek, die vlug na Portugal en die winterkoue om jou kuite dryf ons naby die katedraal by Mercearia das Flores in Rua das Flores, in. Hier smul paartjies in die piepklein restaurantjie aan koue vleis, kaas en sardientjies saam met ’n glas wyn of sterk koffie.

Soos ons deur die klipstrate drentel, neem ek foto’s van die pragtige teëls waarvoor die stad so bekend is. Die teëls is verteenwoordigend van die eras waarin die geboue opgerig is en dis interessant om die nuwe teëls (wat heelwat ligter of baie helderder as die res is) te sien waar herstelwerk nodig was.

Die São Bento-treinstasie met sy 20 000 teëls wat die kunstenaar Jorge Colaço 11 jaar geneem het om te skilder, is die plek waar ek ’n hele paar keer vertoef. Die stasie is nie verniet herhaalde kere as die wêreld se mooiste treinstasie gekroon nie.

Die Dom Louis-ysterbrug. (Foto: Clifford Roberts.)

Die lewe weerskante van die Douro-rivier wat soos ’n luislang deur die stad kronkel, is energiek en besig. Aandenkings is by fraai tafeltjies te koop, mense staan met glase wyn of koppies koffie en gesels op die rivieroewer terwyl ’n kabelkar hoog bo ons koppe verbygly. Neffens die kabelstasie is die indrukwekkende Dom Louis-ysterbrug – een van die stad se bekende ses brûe – waaroor ons laatmiddag stap om die son te sien ondergaan.

Aan straatkuns is daar geen tekort nie. Op een van die uitbeeldings is daar ’n meermin met ’n hoedjie en blom bo haar kop en die woorde: “Take that trip” langs haar. Ek glimlag, want dis juis sulke woorde wat ons hier in Portugal laat beland het.

Die stad se ander groot aantreklikheid is natuurlik port, en ons het proeë by drie porthuise – Quinta do Noval, Graham’s en Taylor’s – bespreek. Slegs portwyn wat in die Douro-vallei gemaak word, mag wetlik port genoem word. Elders in die wêreld praat ons van portstyl-wyn, hoor ons.

By Quinta do Noval proe ons vyf verskillende soorte port. (Foto: Clifford Roberts.)

Die gids by Graham’s vertel ook dat port al vir eeue daar op die rivieroewers in horingoue kelders verouder word. Hy sê dis tot die 1960’s vanaf die wynplase in die Douro-vallei stroomop per boot vervoer om in die koeler hawestad te verouder.

In ’n knus proekamer sit ons op gemakstoele en die groep waarin ons is, word opgedeel om die Graham’s Reserve Port, die Graham’s 10- en 20-jaar oue Tawny Port en die 2005 Vintage Port te ervaar. Die hoeveelheid soorte port wat jy kan proe, hang van jou toegangskaartjie af.

Ons leer dat die eikehoutvate vir die eerste tien jaar vir wynveroudering gebruik word en vir die volgende tot 100 jaar vir portveroudering gebruik word. Ook word alle port koud bedien, al is dit net meer as 9 grade buite. En jy kan dit enige tyd van die dag en jaar geniet, ongeag die seisoen of geleentheid. Dis allemanswyn dié, sê ons gids laggend.

Daarna stap ons na Taylor’s, wat een van wêreld se bekendste handelsmerke is en boonop kan spog met ’n allemintige groot wynvat wat 133 000 bottels kan berg. Dis daar waar ons selfie geneem is, wat etlike weke later in die posbus tuis beland het.

Ons gaan op ’n selfbegeleide toer – in een vertrek tussen talle foto’s van die pragtige Douro-vallei (wat ’n Unesco-wêrelderfenisgebied is) met sy enkelrywingerde wat netjies omsoom is met gepakte klip keerwalle, staan ’n mandjie met klip uit die vallei. Jy kan nie glo die wingerde oorleef in daardie woestynagtige droë grond nie, want die klippe hou geen waterreserwes nie.

Ons proe die Taylor’s Late Bottled Vintage 2014 en die Chip Dry, wit Port. Daar in die proelokaal bestel ons ook die pasmaat-sjokolade en -nougat en kyk hoe die vlammetjies in die vuurherd dans.

Helder Lento lei ons proe by Quinta do Noval onder op die rivieroewer en hy vertel dat veral wit port baie gewild is in die somer en as Port Tonic gedrink word: Port met tonikum en suurlemoen.

’n Paar ander goed wat jy nie moet misloop nie:

  • Eet sardientjies by ’n straatrestaurantjie langs die rivier.
  • Die wêreld se mooiste boekwinkel, Livraria Lello, wat glo JK Rowling se inspirasie vir die Hogwarts-boekwinkel was, toe sy Harry Potter geskryf het. Die Art Nouveau-styl gebou met neo-Gotiese elemente en swaar houttrap, houtrakke en rooi leerstoele, lok duisende besoekers en jy moet mooi mik vir ’n fotogeleentheid. Dis in 1906 deur die Lello-broers, José en António, gebou. Hulle was destyds deel van die stad se intellektuele kringe.
  • Francesinha, die Porto-toebroodjie met ham, biefstuk en eier met gesmelte kaas bo-oor word toegegooi onder ’n dik tamatie-en-biersous met ’n berg skyfies. Daar is verskeie restaurantjies wat dit bedien.
  • Loop by Manteigaria – Fábrica de Pastéis de Nata in en kyk hoe die sjefs pastel de nata maak. Dié wêreldbekende vlatertjies is amper so deel van die Portugese kultuur as port.
  • Die stad se oudste woonbuurt, Ribeira, is in sy geheel ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. Hier leun die geboue as’t ware teen mekaar en eeue oue hout en teëls, klou verbete aan die geboue.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Fubar

Pragtige ou geboue.