Foto’s: Fietstrap deur drie riviere

ʼn Arend se perspektief van die enkelspoorpaadjies by 3Rivers. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Die Oos-Kaap is een van daai lekker-soos-ʼn-krêkker plekke, en die provinsie loop letterlik oor van bergfietsroetes en avonture. Ja-nee, hier kan jy trap totdat jou bene stomp raak terwyl jy jouself verlustig, en verloor, binne van Suid-Afrika se mees ongerepte wildernisbestemmings.

Moeder Natuur wag al met die enkelspoor langs, en 3Rivers Trails naby Thornhill is beslis een van die beste plekke om jou ysterperd op te saal. Van hier af gooi die enkelspoor guitige S-draaie, verby die uitgestrekte Longmore-woude tot in die asemrowende hange van Elandsrivier se berge.

Die roetes by 3River Trails sluit onder andere ook puik stap- en velddrafpaadjies in, met toegang tot die Gamtoos-, Van Stadens- en Elandsrivier se onherbergsame klowe. Hier wag daar Khoisan-rotskuns wat slegs ʼn handjievol mense al onder oë gehad het, die fraaiste endemiese orgideë en genoeg vars lug om jou longe te laat juig.

Gaan loer gerus by www.3riverstrails.co.za.

Hier en daar gaan jy teen volspoed oor ʼn houtbruggie moet kom! (Foto: Jacques Marais)

Die wedrenne

Indien jy die opwinding van maratonwedrenne op ʼn bergfiets mis, kan jy jou endorfiene by die Midnight Express op hol gaan jaag wat rondom middernag tussen Steytlerville en Patensie plaasvind. Daar is ook die bekende 4-dagwedren, FedGroup PE Plett, en natuurlik die legendariese Trans Baviaans, ʼn 24-uur monster van ʼn fietstrap oor 230 kilometer deur die Baviaanskloof.

Grant Comley gee gas in Die Rotstuin op sy e-fiets. (Foto: Jacques Marais)

Die roetes

Jou grootste struikelblok by 3Rivers Trails is eintlik om te besluit waar jy wil ry. Wil jy rof en onbeskof raak op die tawwe gruis- en uithouroetes al met die Black Porcupine-rybaan langs, of dalk liewer die pap dik aanmaak met die vier kilometer tegniese enkelspoor tot in die Longmore-plantasie, waar voëls soos die rooivalkies wag?

Ander nuwe roetes sluit onder andere Protea Fields- en die Dam Buster-rybane in, wat oor 200 kilometer se gruispaaie en enkelspoorroetes strek. Beide begin by die bopunt van Purple Cow, met vet pret en plesier wat jou van oor-tot-oor sal laat grynslag binne-in hierdie asemrowende fynbosparadys. Kom kuier, want dis verseker die beste manier om werklik die gasvryheid hier te kan voel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.