Foto’s: Gaan draai by Ithala voor jy see toe gaan

(Foto: Janet Feun)

Ithala-wildreservaat lê knus in die valleie van Kwazulu-Natal – ʼn boomryke omgewing waar die Piet-my-vrou deur die klowe roep en saans ʼn paddakoor optree.

Dit is my eerste keer dat ek die R33 na Louwsburg toe ry, die dorp net buite die reservaat. Dit reën. Ek kan nie aan ʼn beter manier dink om só ʼn woeste jaar af te sluit nie

In Louwsburg stop ons by die NG kerk en loer vinnig in. Dit lyk presies nog soos toe dit in 1929 gebou is. Ons vind die koster daar en vra uit.

“Die boere trek weg stad toe en die gemeente is maar yl gesaai. Julle kan kom koffiedrink” sê sy. “My man weet alles van geskiedenis.”

Ja, sonder een van my vriendinne, Annemarie, sou ons nooit ʼn draai gaan maak het by die kerk nie.

Die rustigheid van die reservaat en die wildlewe (rooibokkies, waterbokke, kameelperde en volstruise) is genoeg om jou deel te maak van die natuur en al die ander dinge te vergeet.

(Foto: Dalene de Vente)

Ek is saam met ʼn groep vriende wat ʼn hele toer doen deur die noorde van Suid-Afrika. Telkens tydens hierdie toer dink ek aan die gesegde wat lui “ʼn Reis word gemeet aan jou vriende, nie aan kilometers nie.” Elke mens wat saam met jou reis, dra ʼn stukkie van hulle eie siel by.

(Foto: Dalene de Vente)

Ons maak daardie aand ’n sampioen gaar wat Albert in die veld loop soek het en een van my vriende, Robert, vertel vir ons een van sy oupa se Hooghollandse stories in die pikdonker nag om die vuur.

Oorspronklik sou ons groep in twee verdeel het – die een helfte by Ithala en die ander helfte by Ndumo (ʼn ander reservaat met dieselfde bestuur). ʼn Paar dae voor ons vertrek laat weet die bestuur egter dat ons hele groep by Ithala kan bly (Ndumo het blykbaar ʼn waterprobleem) en ons kan een chalet kry teen die prys van ʼn kampeerplek.

Die kamp en chalets is 17 km vanaf mekaar. Dus maak ons beurte om in die chalet slaap. Die kampeerplek is egter my gunsteling, omdat mens langs ʼn rivier slaap (waar jy mag rondloop) en in die bos kan stort. Alles is baie netjies.

Voordat jy by die kampplek inry, is daar ’n bordjie wat jou waarsku om op die uitkyk te wees vir olifante. Ek sien egter nie ʼn enkele olifant in daardie drie dae nie.

In die reservaat is daar spesifieke roetes waar jy sonder begeleiding mag stap. Ons klim die een middag op die koppie, omtrent die enigste plek met sein in die hele reservaat. Vandaar kan jy net in die verte tuur vir die skoonheid.

Wanneer jy ooit op ʼn warm somersdag jou tentjie opslaan in die stilte van die kampterrein, onthou om saans boontoe te kyk en die sterrehemel te geniet. Daar is min plekke soos dié.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Dit is ‘n absolute moet om die park te besoek.Baie wild en gemoedsrus is daar volop van.Jy kan nie glo wat se kalmerende uitwerking die natuurskoon op jou het nie.Daai kranse is die mooiste wat jy ooit sal sien en wild is daar genoeg.

Elsabe ·

Ek bly in die stad en my hele wese roep uit en smag na hierdie stilte en kleure.

Cecilia ·

Dis pragtog daar. Het jare trug op Vryheid gebly en ons het gereeld daar gaan wegbreek vir n naweek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.