Foto’s: Karoo, jou rusplek langs die pad  

Die pad na De Zeekoe Gasteplaas buite Oudtshoorn.

Van Calitzdorp is Oudtshoorn net 40 km weg. As jy die R62-roete deur die Karoo ontdek, is die volstruishoofstad natuurlik een van die plekke waarby jy nie kan verbyry nie, skryf Maryke Roberts.

Ons ry die sementpad na Oudtshoorn. Die klop-klop van die bande op die sement, klink amper soos die ysterwiele van ’n trein op die spoor. Dié roete bied baie meer om te sien, maar gee ook ’n dieper kykie in armoede en verval in.

Nie ver buite Calitzdorp nie, sien ons die eerste volstruise en weer voel dit soos ’n tuiskoms. Altesaam 20 Klein Karoo Nasionale Kunstefeeste, het Oudtshoorn diep in ons harte laat inkruip. De Zeekoe Gasteplaas, sowat 8 km buite die dorp, se selfsorghuisies is ons huis vir twee nagte. Dis deel van Cape Country Routes.

Toe ons by die eerste plaashek indraai, vlieg ’n spannetjie duiwe laag oor ons koppe. Dis duidelik iemand se trots, dié vlugduiwe, en ons kyk hoe hulle hul vryheid teen die blou lug geniet. Dis swaaie en draaie en swiep-swiep in die koel middaglug.

Nadat ons afgepak het, gaan stap ons in die grondpad om van die middag se stywe bene ná die lang sit en ooretery ontslae te raak. Afkoel in die soutswembad is volgende, maar die windjie kom op en jaag ons effe koud uit die water. Tog is die tinteling op ons lywe ná die koue water, ’n wonderlike gevoel toe ons buite op die stoep die vuur pak, en gou sing die dik gesnyde lamstjoppies oor die kole.

Een vir een gaan die ligte in die verte aan. Sommige wit, ander skyn ligblou of oranje. ’n Tamaai groot verligte kruis waak oor die vallei se mense. Die blou lug word later oranje en weer donkerblou toe die sterre begin sigbaar word. In die laatskemer draf twee hase met groot ore tussen die bossies verby.

“Husse met lang ore,” merk my man droog op.

De Zeekoe Gasteplaas het verskeie verblyfopsies. Ons het een van die afgesonderde selfsorghuisies van klip met die mooi uitsig gekies.

In die romantiese hemelbed met sy muskietnet om, slaap ons soos dooies en dis voëlgesang wat ons vroegoggend opjaag. My man gaan ry fiets en ek stap. Saam kom ons op die stoep bymekaar vir koffie en beskuit, voor die warm water ons lywe lawe.

Ons is deur die dorp – nadat ons vir koffie en gebakte kaaskoek op die historiese Queens Hotel se stoepkafee, Café Brûlé, vertoef het. Op die plaaspad, parallel met die teerpad uit na Schoemanshoek, ry ’n trok dat ’n stofwolk agter hom nog in sirkels draai en later gaan lê. Die tabaklande op die rante is vaal van die stof en oral staan droogskure waarin die lang, goue blare hang.

Dis net mooi middagete toe ons by Karusa in die Kangovallei aankom. Jacques Conradie wag ons in met sy vonkelwyn, Karoo Classique House Brut, wat 12 maande op die gismoer was. Hy het nie verniet vir vyf jaar saam met Suid-Afrika se vonkelwynkoning, Pieter (Bubbles) Ferreira by Graham Beck gewerk nie. Die yskoue borrels brand my keel met ’n beskuitjiegeur-lekkerte. Jacques sê dié vonkelwyn wat in die tradisionele manier gemaak is, het hy as Karoo Classique registreer, terwyl die res van Suid-Afrika se vonkelwyne in hierdie styl, Cap Classique genoem word.

Die ruim stoep bied ’n uitsig oor die dik grasperk en dam met wilgerbome wat liggies in die windjie dans.

Mense smul aan tuisgemaakte pizza’s, geniet Jacques se eie bier (ses verskillende geure, vertel hy trots) en kinders baljaar sorgeloos. Jacques maak die bier ook op die tradisionele manier en dit het ’n 18 maande-raklewe. Baie mense proe dit hier en koop dan hul gunsteling vir saamvat huis toe.

Die lowergroen Karusa in die Kangovallei bied bekroonde wyne, craftbiere, pizza’s en ander heerlikhede en naby vele ander toeriste-attraksies in die omgewing.

Die wingerd beslaan slegs agt hektaar van die plaas, waar elke kultivar net ’n halwe hektaar beslaan. Dit gee natuurlik ’n hele rits kultivars, maar Jacques sê hy sal hom dood verveel as hy net ’n handjievol wyne kan maak. Die eerste wingerde is in 2007 geplant. Jacques verduidelik dat hulle volumegewys hul vonkelwyn, sauvignon blanc, viognier en chenin in die grootste hoeveelhede maak.

Die plaas is eintlik ’n vrugteplaas onder 30 hektaar uitvoervrugte en bied akkommodasie asook ’n lekker staproete deur die wingerde.

“Ons is die kleinste kelder met die grootste verskeidenheid wyne,” sê Jacques laggend. Hy glo hul diverse wynreeks is hul behoud. Karusa hou ook die hele Grundheim-ginreeks aan. Jacques help uit met interessante wynstyle op Grundheim, sowat 10 km voor Oudtshoorn.

Benewens die lekker stilwyne, is daar drie vonkelwyne, een van 100 persent Chardonnay een Brut Rosé en die Karoo Classique Zero Dosage Brut Nature Reserve 2014 – wat vyf jaar op die gismoer was.

Hy sê hulle is gewis lekker sentraal, en binne 20 km van hulle kan jy wraggies uiteenlopende goed doen: aan ’n olifant vat, zipline, met ’n krokodil onder die water in ’n hok klim, in die Kangogrotte rondstap, op ’n kameel ry, of op ’n wildrit gaan en leeus kyk.

Die CP Nel-museum in die dorp is een van die bekendste bakens en beslis ’n besoek werd.

Karusa, die San-woord vir “land met min water” wat die semidorre Karoo goed beskryf, bied ’n wynproe van 5 wyne op ’n houtrakkie aan. Proenotas word by jou neergesit en jy proe op jou eie tyd.

“As gaste nie ons wynreeks ken nie, begin ek altyd met hierdie stelling: As jy van vars, aromatiese, ligte witwyne hou, doen die witwynproe. As jy onseker is oor waar jou gunsteling tussen wit en rooi lê, laat die dames van die proelokaal jou raadgee.”

Jacques sê hul rooiwyne is goed gestruktureerd en bied iets vir elke smaak.

“Ons baklei nie met ons klimaat nie. Ons bied lekker gemaklike drinkwyne aan.”

Hul wyne kom in verskillende style en prysklasse.

Met die wynproe agter die rug, bekyk ons die spyskaart met sy lekker pizza’s, wraps en peuselborde. Alles op die spyskaart is streekspesifiek en mens is dus nie verbaas as jy volstruis carpaccio op die peuselbord sien, of ’n pizza met gepluisde volstruisvleis kan bestel nie. Die kos gaan heerlik af saam met die vonkelwyn en Jacques se One Tree Pinotage, wat die volstruisvleis komplementeer en hom nie deur die hitte buite laat onderkry nie.

By Safari Volstruisplaas is ons toergids Chinetia Malgas. Sy het selfs vir ons op eiers geloop!

Gay’s Dairy van Prins Albert se suiwelprodukte word in baie disse gebruik en die piekniekmandjies wat op die plaas bestel kan word en onder die wilgerbome langs die dam geniet kan word, is ’n ware vertoonstuk van die plaaslike kostalent.

Die boks wyn wat ons in die kattebak laai, is uiteenlopend, opwindend en gaan beslis lekker geselsies ontlok as ons dit tuis met vriende deel.

Ons besluit om weer vir aandete te braai, al is die huisie goed toegerus as jy wou kook.

Die veld is goud van die laaste bietjie son, toe ons weer met ons drankies op die stoep by De Zeekoe sit. Die vuur knetter. Daar is braaibroodjies en ’n berg slaai, en dit voel asof alles hier in die Karoo net heilsamer proe. Die Karusa, rooi in ons glase, herroep weer die dag se gasvryheid aan die anderkant van die dorp.

Ons is ’n paar minute vroeër by ’n pastelpienk-en-mentgroen sinkgebou op ’n buurplaas verby. Dis ’n skool, lees ons toe ons verbyry. Watter sagte siel het besluit om die gebou só mooi te verf, wonder ons albei.

Ons lê laataand op die bank voor die kaggeltjie en lees. Buite maak die nag sy eie gerusstellende geluide.

De Zeekoe se rustigheid en afgesonderdheid maak dit ’n ware oase vir die siel.

Voor sonop fluit die ketel met koffiewater. Die maan hang vaalwit en volrond in ’n babapienk en -blou hemel. Die motor is gepak, die waterbottels gevul en De Zeekoe lê vinnig in ons truspieëltjie.

Sulke tonele as die son sak of op opkom, laat voel jou die Karoo se vryheid.

Met die eerste oggendstrale, teken die son goue strepe oor die grondpad, waar ’n mistigheid in die stof kom lê. Die musiek is die klankbaan van die televisiereeks, Planet Earth. Ons ruite is afgedraai, ons hare waai deurmekaar en ’n reier kom stadig aangevlieg – oor die pad en verder oor ’n dam. Op die horison is die berge ’n alomteenwoordige pers rantjie soos ’n hekelrandjie om ’n kombers. Pierneef-berge noem my geliefde dit. Mens kan amper ’n Pierneef-skildery in jou geestesoog sien as jy die vlaktes so bejeën.

Buffelsdrift Game Lodge is stil toe ons voor 07:00 aanmeld vir die bos-safari. Daar is elke dag vyf van hierdie wildritte: Van 07:00 tot 09:00; 09:00 tot 11:00; 15:00 tot 17:00; 17:00 tot 19:00 en ’n nagrit om 20:00.

Die gids, Joe Koorts, vertel die reservaat is 3 000 hektaar groot en lê in die vetplant-Karoo en alle diere loop vry, behalwe die leeus en olifante wat in gevangenskap gebore is. Vir elkeen van dié diersoorte is daar ’n besoekerservaring. Ons brand egter om weer op ’n wildkykvoertuig te sit; ons oë en ore gespits vir elande, koedoes, swartwildebeeste, Kaapse bergsebras, gemsbokke en vele meer. Joe is jonk en entoesiasties en sê ons is dalk gelukkig om ook nog van die nagdiere raak te sien, omdat dit nog vroeg en koel is. Hier dink hy, onder meer, aan vlakhase, luiperds en aardvarke.”

Toe hy hoor ons is kranige voëlkykers, swenk hy van die hoofpad af en ry ’n draaitjie.

“Daar bo in die boom is ’n kaal singvalknes. Ek het gehoop ons is nog betyds om die voëls by die huis te kry, maar hulle jag vanoggend lekker vroeg.”

Ons vra uit oor wat dié roofvoël vir ontbyt verkies en hy vertel dat hy onlangs gaste uitgeneem het en hulle toe die voël raaksien terwyl hy iets vreet. Met nadere inspeksie is dit toe ’n jong meerkat en die gaste is bedroef, want die meerkattoer is een van die gewildstes op die reservaat.

Dit was heerlik om weer terug te wees op ’n safari by Buffelsdrift Game Lodge.

Die eerste dier wat ons raaksien ná ’n lang 24 maande-afwesigheid uit die bos, is ’n klein springbokkie. Sy stap alleen en Joe vermoed sy het die vorige nag haar kleintjie iewers onder ’n bos versteek om ’n roofdier se aandag af te trek en nou soek sy haar lammetjie.

“Springbokke loop gewoonlik in troppe van tussen 20 en 70 in groot reservate. Hier by ons is dit gewoonlik tussen 20 en 30. Springbokke het ’n haremstruktuur met een jong ram en baie ooie. Kameelperde het dieselfde struktuur: een bul lei die trop en paar met die ooie. As ’n ander jong bul hom tot ’n geveg uitdaag en wen, word die verloorder uit die trop geskop en neem die nuweling die leierskap oor. Daarom is daar baie “oujongkêrels” wat hul eie troppe vorm.

Sewe kameelperde stap in die pad voor ons. Vyf van hulle is skaars hoër as die bossies waaraan hulle vreet. Joe wys die bul tussen die twee volwasse kameelperde uit: die bulle is donkerder van kleur en hul horings (kraakbeengroeisels wat deel van die kopbeen uitmaak en met vel bedek is) is kaal bo-op weens die nekgevegte met ander kameelperdbulle.

Hulle stap voor ons uit na die watergat toe. Joe verduidelik dat kameelperde altyd aan’t beweeg is, op pad êrens heen, want hul bloedsirkulasie moet aktief bly. As hulle te lank rus en stilstaan, verminder die bloedsirkulasie gevaarlik laag.

“Kameelperde is die minste geraak deur die droogte, want hulle eet die groen blare van die bome af. Of daar gras is of nie, maak geen verskil aan hul dieet nie. Verskeie grootwildspesies en grasvreters, kry swaar as die veld so kaal en droog is.”

Terwyl hy die veld bespied, brul ’n leeu en hy lag en sê: “Nee, dis maar net omdat dit so stil is dat ons hom hoor. Hy is nie vrylopend nie.”

As jy oor die vlaktes en koppies uitkyk, is dit net die oordadige aalwyne – wat soos soldate teen die hange wagstaan – wat verklap dat hierdie nie die Bosveld is nie.

In die verte kyk ’n koedoebul op en die son vang sy horings. Neffens hom staan nog ’n bul, heelwat groter, met praghorings wat al bykans drie draaie het. Die draaie verwys na ouderdom, verduidelik Joe. Hy wys ook vinnig daarna ’n swartwildebees uit.

“Hulle is die ergste deur die droogte geraak en ek sien deesdae net een of twee per wildrit. Hulle eet net natuurlike gras en vreet nie die voer wat ons uitsit nie. Jy ken die swartwildebees aan sy wit stert en vorentoe horings uit. Die blouwildebees se stert is swart en sy horings draai na die kant toe uit.”

Ontbyt by Buffelsdrift Game Lodge.

Joe wys na die lang bergreeks agter ons en verduidelik dat die Swartberg die grens tussen die Klein- en Groot Karoo is. Aan die teenoorgestelde kant van dié reeks, is die Outeniekwaberge, waaragter die oseaan lê. Teen die een hang, staan ’n yslike Kaapse eland – die grootste boksoort in die wêreld. Daar is jong kalfies by, maar die digte spekbome verskuil hulle baie goed.

Soos ons ry, is daar vars bokmis en baie spore in en langs die pad. Dit vertel daar is baie lewe hier, maar die hitte dwing alles onder die naaste koeltebossie in. Die wildrit eindig met 13 kameelperde wat teen die rante uitstap – net hul nekke is teen die blou lug sigbaar. Die ruie plantegroei verskans hulle goed.

Later met ontbyt op die lekker groot houtdek by die restaurant en geskenkwinkel, loer ’n paar olifante oor die heining en damwal. In die verte baljaar seekoeie en kort-kort hoor jy net ’n gesnork soos hulle die koel, vlak water in die warm oggend geniet.

Ons kuier op Oudtshoorn is nog nie verby nie. Met die platteland se minder gejaagdheid, voel dit asof ons al dae hier is.

By Safari Volstruisplaas wag Danny Swiegelaar ons met die trekker en sleepwa met sy rye bankies in. Ons gids is Chinetia Malgas wat die 60 minute-toer met ons gaan doen. Dié volstruisplaas is die enigste plek ter wêreld waar jy met ’n trekker deur die kampe kan ry. Die plaas is 1 800 hektaar groot en behoort sedert 1932 aan die Lipschitz-familie, wat in 1956 met toerisme op die plaas begin het.

Tans is daar 2 500 volstruise op die plaas, maar nie alle kampe is vir toeriste toeganklik nie.

Safari Volstruisplaas se volstruise.

Sy verduidelik dat ons volstruise van drie lande – Suid-Afrika, Kenia en Zimbabwe – sal sien, ter illustrasie van die hoogte en voorkoms van plaaslike volstruise. Jy sien ook Australiese emoes en Chinetia waarsku: “Hy is klein, maar hy is kwaai.”

Elke besoeker kry ’n houertjie met lusernpille in, wat later vir die volstruise gevoer kan word.

“Volstruise is nuuskierig en sal redelik hardhandig die lusernpille uit jou bakkie pik. Jy moet styf vashou. Jy kan ook die pille op jou hand sit as jy braaf is,” verduidelik sy.

Safari het geen slagpale nie en verkoop die volwasse voëls op 14 maande aan slagpale. Alles van die voël word gebruik: die vel maak leerprodukte, die eiers en vleis is voedsame kos en die vere is natuurlik die groot trekpleister vir hierdie tipe boerdery. Suid-Afrikaanse vere het baie meer volume en daarom was die vere teen die draai van die vorige eeu meer werd as goud. Selfs ons plaaslike volstruise se vleis is beter, omdat die diere minder stres as hul Keniaanse eweknie en die vleis dus nie taai is nie.

Die Zimbabwe-volstruis is groter as die Suid-Afrikaanse volstruis en sy velkleur is amper metaalblou. Die Suid-Afrikaanse volstruis is gryser en die Kenia-volstruis rooierig.

“Die pikswart mannetjie sit snags op die eiers en die vaalgrys wyfie bedags, sodat hulle perfek gekamoefleer is teen roofdiere,” sê sy.

Jy mag nie meer op volstruise ry nie, want antiwreedheid-drukgroepe het dié gebruik ses jaar gelede verbied.

Dit neem 42 dae vir die eiers om uit te broei en die kuikens moet drie maande by volwassenes bly om hul immuniteitsisteem te versterk. Die warm, droë weer van die Karoo is ideaal vir volstruise.

Daar is oulike uitstalkaste met verskeie interessanthede in, soos alles wat al in volstruise se mae gevind is: van gholfballe tot moersleutels.

“’n Volstruis se brein weeg maar 40 gram, terwyl ’n volstruisoog 60 gram weeg.”

Chinetia verpoos by die foto’s van die volstruispaleise uit die vroeë 1900’s en sê dis so luuks gebou omdat volstruisboere wou wys hoeveel geld hulle het. Die volstruisbedryf se goue jare het egter met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 skipbreuk begin lei.

Sowat 20 km op die N12 op pad na De Rust, wag Doornkraal Padstal met sy skelpienk deure en luike ons in. Dis “wawyd oop” op Saterdae en “bot toe” Sondae, kondig vrolike borde aan. Dis ons groet aan die Karoo en ons wil die besoek so lank moontlik uitrek om die magiese herinneringe aan die Karoo in ons harte te verewig.

Doornkraal Padstal bied meeste van die Klein Karoo Wynroete se wyne te koop aan en het selfs hul eie reeks wat jy met roosterkoek kan geniet.

Celia le Roux, die vyfde geslag hier en al tien jaar terug op Doornkraal – ’n werkende plaas sowat 15 km verder – kom groet. Sy is hier gebore en getoë voor sy in Pretoria gewoon het.

“Ek is ’n terugkommer,” vertel sy trots. Haar ouers het die padstal in 1986 geopen en toe was dit hoofsaaklik ’n wynhuis met ’n paar ingelegde produkte en bokmelkkaas langsaan in ’n aparte kamer.

Nou is dit ’n groot, oop gebou met baie karakter. Die botteltjies ingelegde vrugte, groente, souse, asyn, gerookte sonneblompitte, tuisgebakte roosterkoek, olyfolie, varsgemaalde koffiebone en ander padstalware is aan die een kant uitgestal en die ander helfte word deur die Klein Karoo Wynroete se wyne in beslag geneem. Tien hiervan is Doornkraal se eie etiket. Die drie soorte huiswyn – Kannaland Wit (chenin blanc), Kannaland Rooi (merlot) en Kuierwyn (semisoet) se vrolike etikette is deur die bekende kunstenaar, Wendy Malan, geverf. Sy is Celia se tannie.

Landi en Michael Harmse, neem om die beurt die wynproe waar. Benewens die drie huiswyne, is daar ook ’n Tickled Pink-druiwesap en Tickled Pink-vonkelwyn.

“Mense ry van oral in die land om die Huis van Tickled Pink te kom besoek,” vertel Landi. Daar is ook Majoor (wit muskadel), Jerepigo (rooi muskadel), Kaptein (’n rooi muskadel wat vyf jaar in vate verouder is), Luitenant (mediumroom-sjerrie) en Pinta (jong pinotage portstylwyn). Almal is te proe. Die laaste lid van die Doornkraal wynfamilie is ’n 1992-oesjaar port.

Ek wil nie enige van die soetes proe nie, maar Landi is my een voor:

“Proe hierdie, Mevrou. Dis die hanepoot met baie ys en suurlemoenskil. Dis glad nie soet nie en baie verfrissend in die Karoo-hitte.” Dis heerlik en ek maak ’n nota om voortaan my soetwyne in die somer só te bedien.

Ons kies die Kannaland Rooi saam met twee roosterkoeke – een met “souserige skaapvleis” en een met “gepluisde volstruis met ’n skop”. Buite op die stoep speel Dean Martin se liedjies en bye kom sit op die bossies blomme wat op elke tafel staan.

Eetgoed by Doornkraal se padstal.

Celia en haar broer, Piet, se Afrikaanse beskrywings op etikette, tekens by die badkamer of selfs die spyskaart, is só beskrywend en uniek, ek verlang sommer na my oorlede Afrikaanse juffrou, wie se oë sou traan van die mooi. Op die konfyt staan, onder meer, “Vrugte en suiker. Dis al.” Celia sê hulle in die Karoo moet omhels wat anders en uniek is aan die streek.

“Hier by ons kry jy wat jy sien en gewoonlik is dit baie meer as wat jy verwag het. Ons hou daarvan om besoekers te verras.”

Haar pa, Gerrit le Roux, oftewel Swepie, is op 84 steeds die keldermeester en rook ook sy eie Karoobossiesout en pampoenpitte en haar oorlede ma, Ann, het konfyte, sitroenkrulle, kweperkaas en vele ander gemaak. Nou leef haar erfenis voort in haar resepte. Celia sê sy kan wyn drink, maar nie maak nie, en hy moes maar weer inspring ná haar broer die wêreld gaan verken het.

Celia is een van sewe kinders (waarvan 6 dogters) en toe Piet nie meer die familieplaas wou boer nie, het sy besluit om terug te kom plaas toe.

“Ons maak nou telefoonwyn – jy weet, daar waar jy nie verder weet nie en dan die buurman/my broer, Piet/die neef/suster Marie of ander wynmakers bel en sê ‘Hoe nou verder?’ ”

Celia sê vir haar pa is wyndrink ’n belangrike deel van die Karoo-leefstyl.

“Hy glo ook daaraan as jou wyn nie lekker is nie, gooi sommer bietjie Kuierwyn by. Hy is ’n groot aanhanger van wat hy ‘glasversnitte’ noem,” vertel sy laggend.

Met die groetslag, kry ons twee Delica-pampoene present.

“Hierdie pampoene gaan Italië toe, want dis wat hulle vir gnocchi gebruik. Dis net so geurig soos kastaiings,” vertel Celia.

Agter haar vang my oog die netjiese bondeltjies druiwestompies wat met draad vasgebind is. Die nostalgie van kindwees en sulke hopies dra vir braai, spoel oor my.

Ons volgende bestemming wag, al het ons nie ’n druppel van die toeriste-aantreklikhede besoek nie… Oudtshoorn sal altyd in ons harte wees.

Kitsfeite

  • Vir meer inligting oor ons oornagverblyf, besoek www.dezeekoe.co.za
  • Vir al die wynplase op die Klein Karoo Wynroete wat in en om Oudtshoorn wag, besoek www.kleinkaroowines.co.za.
  • Vir al die interessante dinge wat jy op Oudtshoorn kan doen, loer by die toerismekantoor in Voortrekkerstraat 80 in, skakel 044 279 2532 of besoek Oudsthoorn.com
  • Kyk by Capecountryroutes.com vir al die lekker goed wat jy kan doen, waar jy kan oorbly en ervaar dié roete wat deur die Wes- en Oos-Kaap strek.

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.