Foto’s: Kersfees op die Platteland

Kinders vier fees in die skuim op Bredasdorp. Foto: Zoon Jacobs

Deur Yolanda Wessels

Vir baie is Bredasdorp dalk maar net nog ’n deurrydorp na hul vakansiebestemming aan die voet van die Indiese Oseaan, hetsy Waenhuiskrans, Struisbaai of die mees suidelikste dorp, L’Agulhas. Maar verder van die waarheid kan dit nie wees nie…

Hier is ’n gemeenskap wat kan saamstaan, hande vat en vir almal – inwoner, toeris of selfs mense van vêr – daardie ekstra myl sal loop.

Kersfees is soveel meer spesiaal hier op die platteland waar die dorp verfraai word en almal met die hartlikheid van Kersfees verwelkom word. Behalwe die gewone kettingwinkels wat al vanaf Oktober (of is dit September?) in tinsel getooi is, is hier die gewilde jaarlikse Kersmark, geskenke te kies en te keur. En om jou in die vakansie- en feesbui te kry, is Kerkstraat getooi met kleurvolle, glinsterende Kersliggies.

Die Kersmark se ontstaan het ’n nederige begin gehad en is die geestelike visioen van Irene Groenewald, ’n haarkapper van Bredasdorp. Dié boodskap het gelei tot die begin van Vrede in die Boonste Vertrek, ’n Kersmark waar jy nie net daardie spesiale geskenk kan koop nie, maar ook geestelik vervul word. Boonop het dit ’n “Pay it Forward”-reaksie gehad, iets wat Irene nie verwag het nie, maar innig voor dankbaar is.

“Ek is nooit ongehoorsaam aan die Stem wat ek hoor nie. Al bestuur ons vyf besighede, het ek dié geleentheid om ’n Kersmark in Bredasdorp tot stand te bring, in 2012 met albei hande aangegryp en ontwikkel tot iets baie spesiaal waarby die hele gemeenskap – Napier, Bredasdorp en Struisbaai – betrokke geraak het.”

Die perseel waar dit eers aangebied is, die Meulhuis is skuins oorkant die imposante Nederduitse Gereformeerde Kerk. Hier het sy en mede-Bredasdorpers die vertrekke in verskillende Kerskamers verdeel. ’n Geestelike atmosfeer het gou geheers met geestelike musiek, wierook, geestelike simbole, draadengele en beligting.

“Ek het skoolkinders uit die gemeenskap betrek om kos te bedien en sodoende het die hele gemeenskap stelselmatig betrokke geraak by liefdadigheid.”

Kort voor lank was daar 165 uitstallers en tente is opgeslaan waar daar mark gehou is vir drie dae. Dit is ook ’n jaarlikse instelling waar die brandweer ’n gedeelte van die straat afbaken en dan skuim spuit vir die kinders om in te baljaar – dit sorg vir groot feestelikheid!

“Hier is baie mooi dinge hieruit gebore: mense wat byvoorbeeld beertjies met lang arms en bene maak vir persone met gestremdhede, wat groot bestellings hierna gekry het. Of van haar salonkliënte wat op ’n gereeld begin het om koekies te bak. Ek het beloof om dit vir drie jaar te doen, daarna is dit oorgeneem deur die kerk en gemeenskap en is dit nou ’n jaarlikse instelling.”

Behalwe die vrolike verskeidenheid geskenke wat by die Kersmark te kry is, spog die plaaslike geskenkwinkels ook met oulike Kersgoed, te kies en te keur. By Fiksie en Fantasie-boekwinkel kan jy ’n kind bederf met ’n prettige, kleurvolle kinderboek of jouself of ’n geliefde met die nuutste fiksie. Elke jaar in November is dit tradisie dat Bredasdorp Square getooi word in die kleurskema van die jaar. Vanjaar se modekleur is roosgoud en pienk en die uitstalling word daarvolgens gedoen. Hierdie jaar is dit die beurt van die Nutcracker, met ’n Russiese en Oostenrykse inslag, getooi in wit en rooi, om kinderogies te laat glinster. Elke jaar word dit aangepas na gelang van die tema en die uitstallings word daarvolgens gebou – selfs familiestukke word gebruik. Dit is aansteeklik en baie ander gesinne bou ook uitstalling en vul dit jaarliks met ietsie nuuts aan.

Kersfees is ’n emosionele tyd van die jaar vir Zoon Jacobs, eienaar van Bredasdorp Square.

“’n Mens dink terug aan jou kinderdae, jou herinneringe en aan jou grootouers en ons probeer die Square só maak dat mense daardie hunkering kry om terug te keer om te sien hoe dit elke jaar verander. Almal gaan op ’n emosionele reis as hulle die uitstalling ervaar en dit is byna soos teater.”

Nie net is hier baie uitsonderlike en unieke geskenke en versamelstukke nie, jy kan ook weglê aan ’n heerlike spyskaart wat almal se smaak sal geval.

Wat is Kersfees sonder kinders en teruggee aan die gemeenskap. Die plaaslike ACVV het jaarliks ’n Kersliggieprojek waar die gemeenskap vir slegs R100 ’n Kersliggie kan koop en die geld word aangewend vir verswakte bejaardes by die aftreeoord. Hierdie is ’n gunsteling vir kinders en sodoende leer hulle omgee en dra ’n klein deeltjie by aan die gemeenskap.

Nog ’n inisiatief wat op Bredasdorp posgevat het is die onbaatsugtige bederf deur middel van die Boks vir ’n Boervrou-projek vir vroue in droogtegeteisterde gebiede. Dit het blitsvinnig uitgekring tot ’n enorme skenkingsprojek waar geskenkies uit verskeie dorpe aan Karoo-boervrouens gestuur word.

Natuurlik spog dié dorpie ook met fraai Kersliggies wat vanjaar op 27 November met groot genot in Kerkstraat aangeskakel is. Hierna vaar al wat jubelende kind is die strate in om dit te bewonder. Dan is dit amptelik die aftel na Kersfees, naamlik Jesus Christus se geboortedag.

Die hoofuitstalling van Kersliggies eindig aan die bokant van Kerkstraat by die NG kerk met ’n fraai liggieboom reg voor die majestueuse Northumberland-denneboom.

Dié bekende Kersboom is geplant deur die Rothman-familie wat in ongeveer 1905 vanaf Swellendam na Bredasdorp gekom en ’n handelshuis, die Rothman General Dealers, geopen het. Elke twee jaar het mev. Rothman vir drie maande na Londen gereis vir aankope en op een van dié reise het sy óf die saad óf ’n klein Northumberland-boompie saamgebring en vir hul vriende as Kersgeskenk gegee. Dus, waar jy vandag nog in Bredasdorp so ’n boom gewaar, weet jy dit is waar ’n Rothman-vriendskap byna ’n eeu gelede ontstaan het.

Dit kan nie weggeredeneer word nie, hierdie dorp aan die voet van Afrika is ’n gemeenskapsdorp met ’n ryk geskiedenis. Behalwe vir die hartroerende en verrykende viering van Christus se geboorte tydens die Kersseisoen op die platteland, heers hier groot kameraderie en dekade lange vriendskappe waarop voortgebou word sodat Bredasdorp beslís nie net nóg ’n dorp is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.