Foto’s: Kom kuier in Botlierskop

Die restaurant en kuiergedeelte van Botlierskop sit lekker hoog teen ’n heuwel. (Foto: Clifford Roberts)

Wildkyk, grasdaklapas en bossieveld nie ver van jou eie drumpel nie hou sy eie bekoring in. Maryke Roberts vertel van haar kuier by Botlierskop Game Reserves & Villas op die Tuinroete.

Die reservaat wat so halfpad tussen Mosselbaai en George lê, strek oor 4 200 hektaar, is malariavry en tuiste van vier van die Groot Vyf: leeu, olifant, buffel en renoster. Wildritte is in 2000 begin en die lodge met akkommodasie is in 2004 geopen.

Die reservaat verwelkom nie net oornaggaste in ’n verskeidenheid luukse tentkamers, herehuise of selfsorgvillas nie; dagbesoekers het hul eie luukse sentrum vanwaar die reservaat vir hulle wink. Wildritvoertuie vertrek van hier af op verskeie tye van die dag, kinders baljaar op die houtdek en voëlkykers ontspan in een van die piekniekskuilings. Elke ete – voor die kaggel of langs die dam – is ʼn heerlike feesmaal terwyl jy na die wild kyk wat rustig wei.

Twee nagte, teen die spesiale Suid-Afrikaner tarief wat ontbyt insluit, bring ʼn welkome blaaskans uit die stresvolle pandemie.

Ons het ’n swart krat in ons klein stoorkamer. Vir die grootste deel van die jaar staan dit tussen die swartpot en kampstoele stof en vergader. Wanneer reis egter op die kaarte wys, kom die krat waskamer toe.

Elke reis het sy eie behoeftes, maar dié krat is die basis. Daar is altyd twee goeie wynglase, ’n kers wat lekker ruik, vuurhoutjies, badsout, kougoed – maak nie saak hoe fênsie die verblyf gaan wees nie. Plunger en goeie koffie, botteloopmaker, skerp mes, sout, swartpeper, afdroogdoek, foelie en ’n roomysbak of twee vir oorskietkos.

Dan word die ander goed bo-op gepak.

Vanaand as jy koud en moeg van jou ontdekkingstogte af kom, is die gin en tonic en lemmetjie uit die krat verkwikkend op jou tong, die rooiwyn ’n veilige kombersie teen die koue of voor ’n ander man se vuur.

Ons hou van musiek. Soms die soort wat jou voet ritmies laat saamtik, met jou ruit af en jou hand wat patrone in die wind langs die deur maak. Soms op jou stoep wat laatmiddag oor die golwende grasvelde of branders uitkyk; daardie viool of klavierklanke wat die kleurespel teen die hemel se klankbaan word. Daarvoor ry ons ’n klein luidsprekertjie saam. Ja, ook in die krat.

En o ja. Ons eie kussings – vere met wit linneslope – ongeag hoeveel sterre voor die verblyf se ingang vir jou knipoog.

Klere en kouse en deodorant en tjips koop jy enige plek. Jou troosgoeters ry jy saam.

Die deurwag by ontvangs wag met ’n skinkbord vol verfrissende lappies en yskoue limonade. Sy wye glimlag taan so effens toe hy vra of hy met die bagasie kan help en die eerste ding wat hy kry ons kussings is … Hy moes seker wonder of ons weet hoe luuks die tente is. Voor sy voete lees die deurmatjie: “Don’t limit your challenges. Challenge your limits.” Ek proes in my limonade.

Botlierskop se tentverblyf is nie selfsorg nie, daarom hoef die krat nie saamgesleep te word nie. Dis net die wynglase en luidsprekertjie wat ek sommer in my oornagsak glip. Die restaurant en kuiergedeeltes sit hoog teen ’n koppie en onder in die vallei wei olifante langs die water, ’n trop buffels herkou langs die grondpad en die Darling Cellars Blanc de Blanc Brut 2018 se borrels is yskoud in die glas wanneer jy inteken.

Ons het voor ons 14:00 by Botlierskop kon aanmeld by die Boplaas wynproesentrum, so ʼn paar kilometer terug op Klipheuwelplaas, gestop. Daar het ons heerlik aan ’n kaasbord gesmul en die nuwe oesjaar Bobbejaanberg Sauvignon Blanc uit die Family Reserve-reeks gedrink. Dit beteken egter nie dat die geure uit die restaurant nie my mond laat water nie!

Die gholfkarretjie kreun behoorlik onder die bagasie en ons lywe toe ons oor die bultjie na nommer 15 ry. Die reusetent is ’n volledige hotelkamer in eie reg: groot beskutte stoep, koningsgrootte hemelbed met ’n muskietnet, lekker gemakstoele vir lees, yslike badkamer en verversingstasie met ʼn buitestort in die ruigtes. Nie ver van die tent af nie loop ’n rivier en ’n wye rivieroewer terwyl daar rustig ’n paar Njalas wei. Nie lank nie, of die bokke is reg langs die houtpaadjie na ons tent, skynbaar ongehinderd deur ons teenwoordigheid en kliekende kamera.

Die sonstoele op die stoep is die ideale kykplek vir voëltjies. Daar is ’n lekker bottel Spier Merlot in die yskas en ons ontspan daarmee met droëwors wat ons langs die pad gekoop het. ’n Klein Kaapse vlieëvanger vang al tjirpend insekte teen die lug en kom sit dan op die tak langs die stoep.

’n Rooiborsjakkalsvoël kom in die massiewe boom langs die rivier sit en ’n janfrederik verdwyn kort-kort met bekkies vol blare en takkies in die bosse wat teen die stoep groei. Ons lê op ons mae, ons neuse deur die houtheining om te kyk waarheen hy gaan. Vyftien keer kom hy met bekkies vol – sommige blare half klam en buigbaar, ander hard en stokkerig – en deponeer dit in die ruwe nes. Dan verdwyn hy; seker honger en dors gewerk. Dit is immers middagete.

Die loomte van die middag kry die oorhand en middagslapies is op die spyskaart. ’n Lang bad met kersies wat personeel keurig uitgepak het, is net die regte medisyne voor aandete. Die luggie buite is koel met die opstap restaurant toe, maar binne brand daar vure in enorme kaggels en buite op die stoep ontspan gaste om die vuur met skemerkelkies terwyl die wildebeeste, koedoes en waterbokke onder kom water drink.

Ons eet elke aand die murgbeen, sampioensous en biefstuk met ’n glas Hartenberg Doorkeeper Shiraz; elke oggend drink ons weer Cap Classique met hompe salm, roomkaas en ʼn omelet. Die ontbyte is só groot, daar is nooit lus vir middagete nie, maar dan smaak die biefstuk saans weer so lekker!

Laataand op die stoep snuffel ’n muskeljaatkat op ons stoep, wat glad nie gepla is deur twee grootoog wesens wat hom aangaap nie. Ons geniet die pikswart nag, die sterre flonkerend, en af en toe die geritsel van iets in die donker net anderkant die elektriese heining, wat jou herinner jy word deur wilde diere omring.

Vroegoggend vertrek die wildrit voor ontvangs. Die opdraande stappie van ons tent af geskied toe daar nog sterre teen die swart hemel hang. Dis ysig – miskien omdat die tent in ’n vallei teen die kranse lê; die warm bed moeilik om agter te laat. By die restaurant en sitkamer brand die kaggels nog van die vorige aand se ekstra groot stompe.

Warmwatersakke op die skoot, kombers oor die knieë, verkykers om die nek en die avontuur begin. Masimba Mbere (maar almal noem hom Simba), is ons gids. Hy gesels vrolik met die agt gaste: “Hierdie is ’n fauna en flora toer. Hou jul oë oop vir enigiets interessants en vra gerus vrae.”

Die beloning is groot: spinnerakke vol doudruppels wat soos pêrels aan die ragfyn draadjies kleef; sonop oor die rug van ’n wildebees wat die maanhare in skakerings van okkerneut, rooibruin en goud kleur; ’n baba sebra wat vinnig agter sy ma se lyf inkruip sodat die talle strepies van agt bene die kyker moet verwar.

Deur die loop van die oggend is daar interessanthede wat hy deel, soos die Bontebok Nasionale Park wat gestig is omdat die bontebokgetalle só drasties gedaal het dat dié bok bykans uitgesterf het. ʼn Mens kan dit amper nie glo as jy na die veelkleurige bokke voor jou in die veld staar nie.

Teen die horison stap ’n kameelperd. Simba het te vertelle dat kameelperde in ouderdomsgroepe saamleef, maar hul getalle daal ook drasties en dis nou op die bedreigde spesielys. “Die vulletjie moet met geboorte hard val om sy hart en longe aan die gang te kry. As hy nie hard genoeg val nie, sal sy ma hom met haar voorpote skop.” Ek dink die storie gee ’n heel ander betekenis aan die woord kickstart!

Hy vertel ook ’n blouwildebees se horings groei sywaarts. Dis ook bekend as die “armmansbuffel” omdat die horings aan dié van ’n buffel herinner. Ons leer dat Kaapse buffels pesvry en duur is en dat Savannabuffels goedkoper is om aan te koop omdat hulle nie pesvry is nie.

Nie lank na die rit onderweg is nie, gewaar ons olifante. Daar is vyf olifante waarvan een agter ’n bos wegkruip. Simba sê hulle is van die Knysna Olifantpark af gebring maar saai verwoesting. ʼn Mens wonder hoe lank hulle hier sal kan aanbly as hulle skade aan fynbos en weiding van ander diere begin benadeel.

“Afrika-olifante se ore lyk soos die Afrika-kontinent – so hulle dra altyd hul paspoort langs hul koppe,” vertel Simba, en die jong seun op die voertuig los opslag sy slimfoon en begin luister.

Die Njalas kom vreet bossies reg langs die paadjie en ons stoep. (Foto: Clifford Roberts)

Simba se geoefende oog sien renostermis in die gras. Hy weet waar om te kyk en wys twee renosters uit wat onder bome lê. Een kyk vorentoe en een kyk agtertoe. Lê styf teen mekaar om gevaar van alle kante te kan sien kom. Ons laat die kameras sak, te bang stropers spoor die diere via ons sosialemedia-inskrywings op. Die stilte in die veld toe die voertuig afgesluit word, is byna oorverdowend. Niemand praat nie; almal drink die natuurskoon, vars lug en gevoel van vryheid in.

Simba vertel dis ongewoon om wild in fynbos te sien – te ervaar hoe logge buffels hul velle teen speldekussings of erikas skuur. “Baie ander plekke het ook fynbos, maar hier loop ons wild tussen ware fynbos – dié dele met proteas in.”

Kort-kort ry ons oor ’n heuwel en Mosselbaai se blou branders breek net agter die heuwels, asof dit Simba se woorde eggo.

Ná ’n koffie-en-beskuit stop bo-op ’n plato, begin die terugtog na die ontvangs en restaurant. Die oggend was insiggewend en vry. Die jong knaap – wie se foon steeds gebêre is – vra wat almal wil weet: Gaan ons dan nie leeus sien nie?

Simba glimlag en gly deur ’n hek, heuweltjie op, in ’n oopte in, sy oog al geruime tyd op sebras wat almal in een rigting staan en kyk. Om ’n draai kom die leeuwyfie aangestap. Sy grom aanhoudend en onwillekeurig trek ek my voete hoër op. Sy stap digby die voertuig verby, gaan hurk by ’n waterpoel in ’n drif en verdwyn dan in die fynbos. Die verwondering en doodse stilte duur tot by die kamp.

Jou stort na die wildrit en ’n reusagtige ontbyt is onder die krullende woudplante wat hul jong, elastiese lote oral indruk en toekrul. Jy voel die son warm op jou rug, al is die windjie koud.

Bokant my kop sit die verebol wat gewoonlik laatmiddag kom jag en spring kort-kort van die takkie op om muggies in die lug te vang. Die piepklein voëltjie lyk soos ’n grys wattebolletjie met tandestokkie-beentjies, en die geklap van sy bekkie is amper oorverdowend in die bosstilte terwyl ek afdroog.

Laatmiddag neem die gholfkarretjie ons na die spa waar my geliefde lengtes in die onderdakswembad swem en daarna sy boek in die skeutjies son wat deur die groot vensters patrone maak, lê en lees. Ek geniet die pamperlang van ’n spa, die rustige musiek, die koel windjie wat deur die venster waai en die reuk van die vlugtige olies waarmee die terapeut werk; kort-kort met hernieude geure wat deur die vertrek waai.

Die reuk van grasdakke en veld; die stilte van die nag weg van verkeer en mense; groot kaggels en fynproewerskos met uithalerwyn; wildkyk in die fynbos. Dis net wat die dokter teen die pandemie-inperkingsvrees, wat jou knieë lam laat en jou voorkop in sweet laat uitbars, voorgeskryf het!

  • Bespreek jou verblyf en etes by Botlierskop in Klein Brakrivier by (044) 333 0021, e-pos [email protected] of besoek www.botlierskop.co.za. Daar is gereeld spesiale aanbiedinge vir Suid-Afrikaners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.