Foto’s: ʼn Kaapse lodge wat in jou hart kom lê

Spanish Farm Guest Lodge is in die hartjie van die Wes-Kaap geleë en net ʼn klipgooi van groot besienswaardighede. (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Om ʼn wegbreek na die Spanish Farm Guest Lodge in Somerset-Wes te beskryf, kan ek nie anders as om die woord “surrealisties” te gebruik nie – waar asemrowende natuurskoon en afsondering van die samelewing ʼn mens se siel verkwik.

Met ons aankoms by dié vyfster‑lodge het die plek reeds in my are geklim. Nie net oor die luukse selfsorgvillas – met eklektiese dekor nie – maar ook oor die bekoorlike uitsig.

Die lodge is op ʼn landgoed van vier hektaar in die hartjie van Somerset-Wes geleë en word omring deur die Helderbergreeks en Valsbaai.

Gaste kan nes skrop in kamers van die luukse, lugverkoelde gastehuis of hulself tuismaak in een van die vyfsterselfsorgvillas. Die gastehuis is aan die bokant van die landgoed geleë terwyl die villas aan die onderkant – in inheemse ongerepte tuine met pragtige fynbos en volop voëllewe – pronk.

Die onderskeie villas se balkonne bied ʼn uitsig waar  die berge en die see mekaar op die horison ontmoet. Dik mis lê soos ʼn kombers oor die berg getrek. ʼn Mens kan die rustige atmosfeer in een teug opneem en jouself verkyk aan die groen natuurskoon.

Die dorp lê ook in die verte onder die berg se hange, en hoewel dit sigbaar is van die landgoed af, is die afsondering byna tasbaar. Daar is nie ʼn geluidjie van enige aanduiding van samelewing nie. Dis net jy en die natuur.

In die villas is die dekor ʼn kombinasie van tradisioneel met ʼn moderne geur. Elke villa is toegerus met sy eie sit‑ en eetkamer. Die kombuise is volledig toegerus met onder meer luukse Smeg-ware.

Die Nespresso-koffiemasjien is die kersie op die koek. Wat is dan nou lekkerder as ʼn heerlike Nepresso-koffie in die oggend in jou koningsgrootte bed met sagte, wit linne terwyl die voëltjies buitekant sing?

Die villas is ook met houtdekke ingerig – perfek om ʼn skemerkelkie of aandmaaltyd te geniet.

Vier van die villas beskik oor private omgewingsvriendelike swembaddens. Ek en my medejoernaliste het baie tyd in dié swembaddens deurgebring en hier het ek veral een met die natuur gevoel. Ons het ons verwonder aan die paddatjies wat af en toe hul verskyning tussen die waterlelies in die water gemaak het.

Die glanshelder water word op ʼn natuurlike wyse gesuiwer sonder om chloor en sout te gebruik. Ek het my verstom aan hoe skoon die water is.

Ek was die gelukkige wenner om villa 5 te kry – wat ʼn private terras met ʼn jacuzzi en twee buitebeddens het. Dié villa is ʼn oopplanwoonstel van 100 m², wat slaapplek vir twee mense bied.

Ons groep joernaliste het een aand almal met ʼn glasie sjampanje in die jacuzzi geklim, terwyl die aand se rustigheid ons ingesluk het. Die sterre het bo ons geglinster en vir ʼn oomblik het tyd stilgestaan.

Wanneer jy nie in jou villa skoene uitskop en ontspan nie, kan jy ook bietjie vitamien D inneem deur ʼn draai in die tuin te gaan stap. Indien jy gelukkig is, kan jy dalk net ʼn springbokkie in die tuin sien wei.

Op jou pad sal jy ook ʼn groentetuin en hoenderhok sien – dit is waar die gastehuis sy vars groente en eiers vandaan kry.

Aktiwiteite om van te kus en te keur

Spanish Farm is in die hartjie van die Wes-Kaap geleë en besoekers kan kus en keur uit talle  moontlikhede wat om vir ontspanning te doen. Bekende besienswaardighede is net ʼn klipgooi van die lodge geleë en die toegang tot ʼn Uber in die omgewing vergemaklik jou reisplanne.

Spanish Farm is 20 minute se ry vanaf die Kaapstad Internasionale Lughawe en 40 minute vanaf Kaapstad

Wynliefhebbers kan ʼn draai by die Wes-Kaap se bekendste wynroetes in Stellenbosch (10 minute se ry), Franschhoek en die Paarl (40 minute se ry) maak.

Markies

Die Lourensford-mark op die Lourensford-wynplaas is sowat agt kilometer van Spanish Farm geleë en is elke naweek in die somer oop vir die publiek.

Ons het die Vrydag ʼn draai by die skemermark gemaak, waar ons vanuit ʼn groot mengelmoes van stalletjies met kos, handgemaakte ware en kuns, tot organiese en kunsmatige produkte kon kies. ʼn Plaaslike musikant wat ou treffers op sy kitaar gespeel het, het gesorg vir ʼn warm, feestelike atmosfeer.

Dit was so salig om op die groot grasperk te sit en te kyk hoe die kinders op die gras baljaar. Die ouers het self ná ʼn lang week op die gras uitgespan.

Die immergewilde Route 44-markie, wat tussen Stellenbosch en Somerset-Wes geleë is, het my verwagtinge oortref toe ons Saterdagmiddag daar ʼn draai gaan maak het.

Die markie is só uitgelê om jou ‘n buite- en binne-ervaring te gee. Kom reën of sonskyn, die markie is altyd oop.

Ek kan nie eers uitgepraat raak ook die groot verskeidenheid van kos waaruit jy kan kies nie. Van slaaie tot varsgebakte pasteie, seekos en poedings. Boonop maak baie stalletjies voorsiening vir vegetariërs en veganiste.

Net soos by die Lourensford-mark, is die stalletjies op vars produkte en boetiekdrankies ingestel.

Helderberg-staproete

Vir diegene wat dit geniet om hul stapskoene aan te trek, is die staproetes by die Helderberg-natuurreservaat ʼn plek waar hulle hul gate uit kan geniet. Dié reservaat is sowat 5 km van Spanish Farm geleë.

Daar is ʼn keuse van nege roetes – wat wissel van 400 meter tot 8,2 km. Ons het die Protea-roete van 6,2 km aangepak en vir sowat vier ure lank gestap. Halfpad het ons gestop om ʼn bietjie onder die skadu te rus terwyl ons aan ʼn piesang en sjokolade gepeusel het.

Hoe hoër ons die berg opgegaan het, hoe seerder het die bene geword, maar die uitsig al hoe mooier.

Die staproetes is ook ʼn paradys vir ʼn wye verskeidenheid van fynbos en dierelewe. Ons het ʼn suikerbekkie op een van die takkies gewaar en eers vir ʼn wyle by hom vertoef.

Ná jou staptog kan jy uitspan op ʼn groot stuk grasperk by die ingang van die reservaat en selfs vir jouself ʼn piekniekmandjie inpak.

Verblyfkoste

Verblyf in die selfsorgvillas by Spanish Farm sal jou tussen April en September tussen R2 600 en R4 600 per persoon per nag uit die sak jaag. Van Oktober tot Maart volgende jaar sal dié prys tussen R3 500 en R8 300 per persoon per nag kos.

Die gastehuiskamers is April en September vir R2 300 per persoon per nag beskikbaar, terwyl dit van Oktober tot Maart R3 300 per persoon per nag uitwerk.

Spanish Farm Guest Lodge vorm deel van die Raw African Boutique-versameling (voorheen die Cape Summer Villas Boutique-versameling). Besoek Raw African Boutique se webtuiste om meer van dié asemrowende bestemming te wete te kom of kontak Spanish Farm by 021 852 7352 of [email protected] sommer nou om te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Die omgewing is mooi…. Maar effe vervalle en die houtwerk kort vernis. Te duur.

ONTPS

As jy deel van ‘n gesin vorm is die koste buitesporig hoog. Gewoonlik is sulke luukse lodges en gastehuise geprys vir buitelandse gaste wat in dollars, ponde of euros betaal. Ons gewone Suid-Afrikaners kan dit bloot nie bekostig nie.