Foto’s: ’n Tuiste in die hawestad Porto

Die stad se ligte weerkaats op die water in die aand in Porto. (Foto: Gerike Eefting)

Die eerste ding wat ek op haar stemboodskap hoor, is die geruis van ʼn besige stad in die agtergrond. Porto: die groot hawestad aan die voet van Portugal. Die onbekende… maar vir die Suid-Afrikaner Gerike Eefting het hierdie hawestad haar huis geword. Ek gesels met haar en reis saam na dié verre land.

Gerike is 27 jaar oud, maar haar lewe tot nou toe was vol wye draaie deur die wêreld. Sy het al as au pair in Amerika, België en Ierland gewerk. En in België was sy nie net au pair nie, maar het sy ook soms by kampeerterreine gewerk. “So sien ek die wêreld.”

In Porto werk sy by ʼn aanlyn onderneming waar sy betrokke is by kliëntediens en meestal boodskappe, e-posse of die telefoon moet beantwoord.  Sy werk van die huis af en help die klante in die Nederlandse taal. Natuurlik was dit aan die begin nie alles maanskyn en rose nie.

Hoe is die atmosfeer? Dis my eerste vraag aan haar soos ons oor WhatsApp praat. Soos sy dit beskryf, kan ek saam reis, word ek deel van hierdie groot hawestad, kan ek my verbeel ek sit in ʼn restaurant langs die groot rivier waar om die stad gebou is.

Sy het onmiddellik hier tussen water en land tuis gevoel. “Dit is nogal soos Kaapstad, maar net sonder die berge,” sê sy. “My eerste herinnering is dat ek hier geland het en geweet het, hier sal ek kan leef. Die vreemde taal om jou en die rustiger leefstyl van die mense laat mens nogal so bietjie aan Suid-Afrika dink.”

Uitsig oor die hawedorp vanaf Igreja da Serra do Pilar. (Foto: Gerike Eefting)

Porto spog met mense van oraloor in die wêreld en meestal kuier Gerike met immigrante uit ander lande, dan ontmoet hulle by ʼn kroeg in die stad en speel sportspeletjies. Al is die stad bedrywig, is dit darem by haar huisie stil. Soms gaan soek sy ekstra lafenis by die parke wat in die stad te vinde is. Daar is hier en daar natuur te vinde en selfs ʼn ou park met die naam “Jardins do Palacio de Cristal,” wat dateer uit die vroeë 1900’s; “dit is baie mooi, maar moenie my vra oor die presiese detail nie,” spot sy. “En natuurlik gaan ek soms strand toe.”

Die stapelvoedsel is enige vissoort. Selfs seekatte is op die spyskaart, verder is daar ook baie verskillende pasteie om van te kies.

Gerike se motto is: “As jy wag vir ander mense om saam met jou te reis, gaan jy vir altyd wag. Just go for it. Kom Portugal toe, bring net gemaklike skoene saam!” Soos ons groet, vertel sy vir my van die toer wat sy aanpak. Coimbra, Lissabon, Logos en Faro. “Ek gaan hike, bike en kajak.” Nie een van ons sal kan sê ons is nie jaloers nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.