Foto’s: Nagtoer by monument ’n ervaring

(Foto verskaf)

Ek is altyd op soek na ʼn verskoning om die stadsliggies van Pretoria te beskou – gee my ʼn geleentheid met goeie kos, ʼn stukkie geskiedenis of mooi argitektuur en ʼn leerervaring en ek is heel waarskynlik daar.

So land die eerste uitnodiging na ʼn eksklusiewe nagtoer by die Voortrekkermonument in my e-posbus, maar ek moet dit ongelukkig misloop want my dagboek is reeds vol. Dis ʼn bietjie van ʼn teleurstelling, maar nou ja, ʼn mens kan ook nie altyd orals wees nie.

Toe ʼn tweede uitnodiging vir ʼn nagtoer in Meimaand in my e-posbus beland, is dit sonder twyfel ʼn besliste ja.

Die nagtoere by die Voortrekkermonument is voorwaar ʼn onvergelykbare ervaring. Op so ʼn aand kry jy die geleentheid om die geskiedenis lewendig te sien word, en boonop is dit ʼn wonderlike geleentheid om ʼn skemerkelkie op die imposante granietgebou van 40 meter se dak te geniet.

Ons toer skop kort na 17:00 af waar FC Pelser, mediabeampte van die FAK aangetrek vir die geleentheid in ʼn jas en keil, ons voor die vrou- en kinderbeeld van die monument ontvang.

Nou moet ons die 299 trappies aandurf tot by die uitkykpunte van die monument waar ons uitkyk oor die liggies van die Jakarandastad. Syntiche Claassen, ʼn violis, skep met haar musiek net die regte atmosfeer vir so ʼn mooi aand.

Hoogtevrees of te nie, klim ek die Vrydagaand selfs verder tot bo-op die dak van die Voortrekkermonument om vandaar reg oor Gauteng tot in Sandton, Limpopo en selfs die Magaliesberge om Hartebeespoortdam in die Noordwes te kyk.

My hande en voete sweet behoorlik van beangstheid oor die hoogte, maar dit is alles die moeite werd – want die uitsig is asemrowend en dit is ook nie elke toergroep wat tot bo-op die dak mag kom nie.

Dit is hier waar jy die glasvenster vind, waardeur die sonlig telkens die senotaaf elke jaar presies om 12:00 net op 16 Desember belig. Gerard Moerdijk, die argitek van die Voortrekkermonument, het dit juis so beplan omdat hy dit as God se seën oor die lewe en werk van die Voortrekker wou simboliseer.

Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK, is ons toerleier vir die aand. Slim beligting op die friespanele van die Voortrekkermonument word die agtergrond waarteen Charles vir ons die verhaal van die Groot Trek vertel. Opnuut word jy weer bewus van die uitdagings en drome oor vryheid van die Voortrekkers. Dikwels was dit slegs hulle onwrikbare geloof wat hulle deur die ondenkbare moeilike tye gedra het.

ʼn Absolute hoogtepunte van die toer vir my was die aangrypende monoloog uit Die Gelofte-blyspel, wat fokus op die Slag van Bloukrans. Dit word uitstekend vertolk deur Karla Hoogendoorn, aktrise van die monument, en as jy nie ʼn traantjie afvee nie, gaan jy waarskynlik vir ʼn minuut of twee stil wees terwyl jy die woorde verwerk.

Christiaan Jordaan, nog ʼn akteur, wat die Gelofte op die einste Grietjie-kanon aflê onder in die senotaafsaal soos Sarel Cilliers dit met die oploop na 16 Desember gedoen het, voltooi die nagtoer by die Voortrekkermonument perfek.

(Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Vir ons groep van 30 besoekers word die aand netjies afgerond met ʼn koppie boeretroos, ʼn stukkie melktert en koeksisters op die grasperk van die Voortrekkermonument, waar die etse van die voortrekkerwaens op die mure waghou. Hier kuier ons vir oulaas saam om ʼn gesellige vuurtjie by die koffiekanne waar ons die ervaring van die aand verwoord in die lig van lanterns wat oor ons en ons bekers dans.

ʼn Nagtoer by die Voortrekkermonument is ʼn besonderse geleentheid, wat hoog op die emmerskoplys moet wees van enige geskiedenisliefhebber. Dit is ʼn vars manier om die monument, sy eie geskiedenis en ware verhale van die Groot Trek te ervaar.

  • Die datum vir die volgende nagtoer sal binnekort bekend gemaak word. Hou gerus die Voortrekkermonument se Facebook en Instagram dop vir meer nuus hieroor, of stuur ʼn navraag aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.