Foto’s: Om wilde horisonne te gaan verken

Is daar ʼn mooier gesig as die son wat oor Afrika se natuurskoon sak? (Foto: Clifford Roberts)

Om ná twee dekades weer by Victoria-waterval in Zimbabwe te staan en die klein miswolkie bo die wêreldbekende valle te sien, is ʼn ware oorwinning. Of só voel dit as ʼn mens die landspolitiek en die pes wat ons bedreig het in ag neem, skryf Maryke Roberts.

Ons dagboek is vol: daar is toere en besoeke aan rehabilitasiesentrums en etes by mooi uitkykpunte en diere kyk en ontspan tussendeur, alles in die bekwame hande van Wild Horizons – die top toer-operateur in dié geweste, maar ook eienaars van The Wallow Lodge en The Elephant Camp én die diere-rehabilitasiesentrum – alles so ʼn paar kilometer buite die dorp.

Ons eerste kennismaking met die wonderlike span van Wild Horizons is by die The Lookout Cafe – die besprekingsplek vir verskeie aktiwiteite – en die naam is beslis gepas: mooier uitsigte oor die ravyne van die Zambezirivier en stroomversnellings 4 en 4,5 en die staalbrug op die draai, gaan jy nie maklik kry nie. Ver onder die rustigheid van die stoep waarop ons sit, is toeriste van reg oor die wêreld in opblaasbootjies om die wit brandertjies in die stroomversnellings aan te durf en ons giggel elke keer as jy die gille hoor. Twee dekades gelede was dit ons met vriende.

Ons het besluit om ons oggend met ʼn lekker laatontbyt af te sluit, voor ons die Victoria-waterval gaan beskou en ons gids, Land Ncube, kom haal ons na ons heerlike ete by ons tafel. Die restaurant se atmosfeer is een van vakansie en ontdekking: weerskante van die stoep stap geharnasde toeriste verby om óf te gaan reksprong of brugswaai of om met die “Flying Fox” te gaan gly, waar jy soos ʼn voël oor die diep ravyn swiep.

Agter ons tafel is ʼn Braille-reling wat die valle se geskiedenis, meer oor die ravyne en adrenalien-aktiwiteite vertel.

Land gryp reënjasse en vertel onderweg na die valle, dat die Mosi-oa-Tunya/ Victoriaval ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied is en “van die wêreld se mees asemrowende watervalle is. Dis die grootste gordyn-vallende water ter wêreld; is 1 708 m breed en met tot 500 miljoen liter per minuut wat 61 m (Duiwelskatarak), 83 m (hoofwaterval), 99 m (reënboogwaterval) en 98 m (oostelike Katarak) oor die klippe tuimel. Agt basaltklowe en verskeie eilande dien as broeiplekke vir bedreigde voëlspesies.”

Besoekers kan die valle van beide Zambië en Zimbabwe sien en as jy so in die diep skeur in die aarde inkyk, is dit moeilik om te dink dat die gemiddelde diepte van die rivier 100 m is, met die diepste punt van 108 m.

Die gedreun van die valle ʼn lae “hummmm” in die agtergrond. Met elke uitkykpunt voel jy die misreëntjie van die valle strawwer op jou lyf, tot jou hare later in toutjies oor jou voorkop hang. By die beeld van David Livingstone by Duiwelskatarak, verpoos ons vir ʼn foto en ek wonder hoeveel ander mense al hier oor die dekades presies dit gedoen het en waar daardie foto’s oral gesien is.

Die waterval laat jou nie onaangeraak nie. Die voorreg om een van die wêreld se natuurwonders te aanskou en tot op jou vel te beleef, gaan nie ongesiens verby nie.

Ons ry net na middagete uit na ons verblyf, The Wallow Lodge, wat in September vanjaar sy derde verjaardag vier. ʼn Bosbok wag ons by ontvangs in.

Jou wasgoed, minikroegie in jou yskas en plaaslike bier en -drankies is alles deel van jul oornagtarief.

Elke gas kan ook op ʼn besoek na die valle, die ravyn, ʼn plaaslike nedersetting en die wildlewe-trust gaan.

Thabiso Sibindi is een van gashere en sy sin vir humor het ons kort-kort aan die skaterlag. Hy raak egter ernstig as hy sê: “Ons is in ʼn baie spesiale plek: ʼn heiligdom.” Ons sal meer daaroor later leer, vertel hy, maar nou eers na ons ‘kamer’”.

Die tent is binne uitgevoer met ʼn materiaal-“onderrok”: die dak en sye het ʼn materiaalplafon en gordyne, so saans as al die tentflappe toegerits is, lyk dit asof jy in ʼn kamer is, nie ʼn tent nie. Dis heerlik want dit hou die koue uit.

Ons sit later op die stoep en lees – maar altyd met een oog op die water voor ons tent vir krokodille en seekoeie – en vang ʼn vinnige stort buite onder die blou hemele voor ʼn wildrit. Die gedreun van die helikopters wat oor die valle vlieg, ʼn konstante teenwoordigheid.

Ons laatmiddag wildrit begin letterlik voor die lodge se ontvangsdeur: ʼn hopie buffelmis word deur ons gids beskryf as ʼn landmyn. Hy verduidelik ook dat baie wildritte net om die hoeveelheid diere wat jy kan sien handel. “Ek hou van iets anders en daarom kyk ek ook na plante. Sommige bome en plante het dorings of steeksels of tanniene om diere van hul stamme weg te hou, dat hulle kan oorleef. Die sambokboom is goed vir maagkrampe en baie ander plante is ʼn veld-apteek,” vertel hy soos ons ry.

Ons stop by ʼn paar Acacias wat hy geplant het – alles deel van die lodge se benadering jeens natuurbewaring. Ons het sonkrag regdeur die lodges; in ʼn bio-aanleg word water gesuiwer en al die meubels in die lodges is plaaslik vervaardig. Maandeliks word daar 1 300 bome geplant.

Ons sien verskeie diere; stop om voëls in vlug te sien en bietjie oor hulle te hoor. Hy vertel hier is 18 olifante en die reservaat is die perfekte plek vir voëlkykers om verskeie raar voëlspesies te sien.

“Mense reis van reg oor die wêreld om die reusereier te sien en terwyl sy oë soek oor die veld, kom ʼn swerm piepklein blousysies verbygevlieg.

By die uitkykpunt oor die Masuwerivier, hou hy stil vir sonsaksopies. Dis ook stroomversnelling nommer 9 as jy die rivier op ʼn rubberboot aandurf, vertel hy. Ons drink Tinashe Nyamudoka, ʼn seun van Zimbabwe, se Kumusha Wines en ʼn yskoue Zambezi-lager. Na aan die grond waarvandaan dit kom, verklaar my geliefde.

Daar kom ʼn tyd op ʼn wildrit – sonsak veral – wanneer die avontuurlustigheid in introspeksie verander. Wanneer die son ʼn dik oranjestreep olieverf op ʼn pikswart aarde word en die maan en aandster skaam-skaam verskyn.

Wanneer die hitte van die middag vinnig in ʼn koue gordyn verander. Wanneer jy die kombers onder jou sitvlak uittrek en oor jou knieë gooi. Wanneer die gids die voertuig afsluit en die melkweg en Mars uitwys, dan die Skerpioen en Boogskutter. Wanneer die lig uit die handskoenkassie gehaal word en jy vir diere se oë begin soek.

Dan gewaar jy die olifante in ʼn vlak rivier en jy sien net hul swart weerkaatsing in die water teen die laaste bietjie pienk lig.

Dit is dan wanneer die dankbaarheid jou oorval. ʼn Grootse gevoel dat hierdie dag in die bos saam met jou draai.

Dan ʼn yskoue lappie as jy terug is by die lodge, aandete onder ʼn grasdak met die naggeluide om jou en dan om oop vure met ander gaste te sit en kuier, stories uit te ruil – nie net oor die dag se gebeure nie, maar sommer oor die lewe, oor reis en kultuur en politiek – is ʼn ware tonikum vir ʼn beurtkrag-waterlose-misdaadvoos Suid-Afrikaner.

Terug by jou tent is daar die klein luukses van iemand wat jou ketel vul, die waterbottels wat jy uitdrink deur die dag weer hervul en in die yskas sit. Saans as jy flou van aandete kom, met jou kop vol wild en watervalle, ook jou nagklere op jou kopkussing, die muskietnet afgevou en water op jou bedkassie gesit het.

Heelnag hoor jy seekoeie in die water en jy weet daar gly reusekrokodille rond en daar is dankbaarheid daarin dat jou tone veilig in jou tent is.

Soggens vroeg skuif jy die gordyne oop en kyk hoe die son deur die groot glasskuifdeure deur die bome begin kruip. Koffie in die bed en gesels oor die opwinding van gister en wat met dié nuwe dag op jou wag.

Toe ons ontbytkamer toe stap, sien ons ʼn bosbokkie wat baie versigtig water toe kom en ʼn baie gevaarlike paar slukke water drink – nog ʼn dag nie die prooi van ʼn krokodil nie.

Dis die kommunikasiebestuurder, Melusi Thebe, wat ons die volgende dag inwag vir ʼn toer van die rehabilitasiesentrum. Hier word sedert 2008 belangrike navorsings- en rehabilitasiewerk gedoen en skole word op besoeke daarheen genooi om kinders by natuurbewustheid en -opvoeding te betrek.

Die natuur speel natuurlik altyd tweede viool onder die mens se behoeftes en veral in lande waar armoede hoog is, is dit nog meer waar. Woude word uitgekap vir vuurmaakhout, diere word gejag en water besoedel. Dis sentrums soos hierdie een wat ʼn groot aandeel het in bewaring.

Werk in plaaslike gemeenskappe skep ʼn bewustheid vir die noodsaaklikheid van omgewingsbewaring en volhoubare praktyke. Die 2 000 hektaar-reservaat waarin die twee lodges geleë is, is natuurlik die hart van die hele projek, hoewel die span van 25 permanente personeellede oor die 520 000 km² Kavango Zambezi oorgrens-bewaringsgebied – die wêreld se grootste wat oor vyf lande strek: Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe – werk.

Die sentrum is nie net besoekersvriendelik nie, maar hier word ook belangrike navorsing oor siektes en forensiese werk onderneem en baie uitreikwerk na plaaslike gemeenskappe verrig. Hieronder is om mense te leer hoe om wilde diere uit hul veekampe en groentetuine te hou om te verhoed dat wilde diere voor die voet geskiet of vermink word.

Maar hulle werk strek ook veel wyer: hul hervestig renosters en ander grootwild; installeer en bestuur nasporingstelsels; verwyder renosters se horings waar nodig; en verwyder strikke. Met hulle opvoedingswerk het die onwettige versameling van vuurmaakhout ook afgeneem.

Die ster van die sentrum is egter ʼn volwasse Witrugaasvoël, genaamd Judge, wat ʼn misvormde vlerk het en nooit sal kan vlieg nie. Hy word nou ingespan as deel van die opvoedingsprogram onder kinders. Zimbabwe het die grootste broeipaar-kolonies in Suider-Afrika, maar die getalle neem drasties af – ten minste 15% per jaar volgens die trust se navorsing.

Dis twee baie voller, wyser en dankbaarder mense wat die oord groet.

Kitsfeite:

  • Van die lodge af kan jy allerhande aktiwiteite met Wild Horizons aanpak of die nasionale parke om jou gaan verken. Wild Horizons bied nie net verskeie aktiwiteite aan nie, hulle verskaf ook vervoer van en na aktiwiteite en wonderlike verblyf. Bespreek by Wild Horizons by www.wildhorizons.co.za.
  • Canon-kamera: Wat ʼn lekkerte as jy diere en ervarings met ʼn goeie kamera, met ʼn lang en boonop skerp lens, kan afneem. Vir hierdie reis het ons die Canon EOS R8 met drie verskillende lense en die handpalmgrootte Canon Zoom getoets. Laasgenoemde is gerieflik, want jy het nie greinerige selfoonfoto’s om op sosiale media op te laai nie. Daar is drie Zoom-verstellings: 100 mm, 400 mm en 800 mm.

Ons is alleen op die wildkykvoertuig en dit gee ons die vryheid om soveel keer te stop en soveel vrae te vra as wat ons wil, sonder om ander gaste te irriteer. (Foto: Clifford Roberts)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.