Foto’s: Oor Outeniqua se berge en dale

Robert Marais kyk hoe die son opkom op die steil kranse onder Cradock-piek. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Daardie pieke bokant George is nie vir enige Jan Rap en sy maat bedoel nie. Dit is ordentlik steil, maar die mooi maak op vir al die swets, sweet en trane

Die bestemming

 Die Outeniqua-berge in die middel van die winter is nie ʼn piekniek nie. Dit is bietjie van ʼn lotery, en tydens Julie kan ʼn mens maklik vier seisoene per dag verwag, met alles van reën, mis en sneeu – tot selfs sonskyn – op die buitelug-spyskaart.

Gelukkig is die manne en vroue wat die jaarlikse George Mountain Ultra Trail – oftewel die #MUT – kom hardloop, dapper genoeg vir enige gebeurlikheid. Ja-nee, om ʼn 100 km in dié berge te hardloop, sit nie in enigiemand se broek nie, en jy kan dus seker wees hulle gaan nie vir ʼn paar druppels reën skrik nie.

Die bergreeks self is so ongerep en beeldskoon as wat ʼn mens enige plek in Suid-Afrika gaan kry, en dit is dan ook juis waarom die #MUT sedert sy oorsprong in 2017 gegroei het tot een van Suid-Afrika se top berg-draf byeenkomste.

Hierdie jaar was daar iets vir almal, vanaf die 10 km vir die beginners, reg deur die strawwe 25 km en 42 km, en dan natuurlik die 60 km en 100 km vir die ervare drawwers. Jou roete neem jou deur plekke soos onder andere Campherskloof, Cradock-pas en Tonnelbos, en ek belowe jou daar is ʼn ware wildernis wat daar in die klowe en hange op jou wag.

Atlete hardloop oor die ou George-dam se betonwal. (Foto: Jacques Marais)

Die wedren

Hardlopers begin by Witfontein, en van hier af is dit reguit berg-uit, al die pad tot bo-op Montagu-pas, en dan bo-oor Outeniqua-pas en Campherskloof, terwyl jy die pap dik aanmaak onder verby Cradock-piek. Jy moet maar weet jy gaan klim.

Gelukkig is daar soveel mooi dat dit die pyn in jou bene so effens kan uitkanselleer. Ek moet bieg dat Tonnelbos seker een van die mooiste inheemse woude is wat ek nog gesien het, met smarag-groen boomvarings, reuse podocarpus geelhoutbome en wilde amandels hier midde-in die hartjie van die Outeniqua se fynbosparadys.

Die digte woude in die klowe lei na grasveldplato’s, met sub-Alpynse rante en dramatiese kranse wat bokant die plantasies en inheemse bos verrys. Die meeste van die #MUT volg enkelspoorpaadjies, en maak dit een van Suid-Afrika se mees asemrowende roetes. Dit is dus geen wonder dit gaan dalk binnekort deel word van een van die wêreld se top veldhardloop-reekse nie.

Een ding is egter seker: moenie die #MUT onderskat nie. Selfs die 25 km-wedren kan maklik 3 ure of meer neem, terwyl die 60 km en 100 km roetes jou heel moontlik deurnag in die berge kan hou.

Gaan loer by www.georgetrailrun.co.za as jy braaf genoeg is!

Pieter Calitz raak hoog in die Outeniqua se fynbos hange. (Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.