Foto’s: Puglia – die hak van Italië

‘n Restaurant op die dorpsplein by Nardo. (Foto: Verskaf)

Italie is hoog op almal se wenslys, maar die oorvol toerismestede en besoekpunte kan soms te veel wees vir die eenvoudige reisiger. Tanya de Vente-Bijker het besluit om te gaan soek na die stiller Italië, die een wat ʼn mens nog kan geniet en vir minder euro’s ʼn ryker ervaring kan hê.

Dié deel word die hak van Italië genoem, die Puglia-streek. Dis ʼn gebied van Italië wat ek voor my besoek glad nie geken het nie, maar waar ek my hart finaal op Italië verloor het.

Die suid-oostelike gebied van Italië is bekend vir helderwit strande, kristalblou waters en die bekende trulli-huisies. Dit is hier waar Italianers in die somermaande self kom vakansie hou om te vlug van die massas mense wat op gebiede soos Toskane, die Amalfi-kus en mere toesak.

Ná ʼn naweek in Nederland vir ʼn troue, vlieg ons saam met my Nederlandse niggie en haar man vanaf Eindhoven met een van die goedkoop lugrederye na Brindisi in Italië. Van daar ry ons nog ʼn uur en ʼn half na Torre Specchia Ruggeri, naby San Foca, ’n dorpie aan die kus. Hier woon ons vir twee weke in ʼn basiese selfsorgeenheid. Die strand is 100 m van ons huis af, en die naaste pizzeria 200 m. Die naam van die buurt waar ons woon, is afgelei van die Torre Specchia Ruggeri-fort wat hier staan, een van die vele forte wat die kus kenmerk en jou laat dink aan ʼn tyd toe dit normaal was om vir oorlogskepe op die uitkyk te wees.

In Italië is dit normaal om eers laat aandete te eet, ná negeuur saans. Tussen sewe en nege geniet hulle gewoonlik ’n aperitivo, ʼn ná werk-drankie van jou keuse met ʼn paar peuselhappies. Gelukkig vir ons kon ons dus nog, nadat ons by ons vakansiehuis aangekom het, afpak, uitpak en toe mooimaak om kuslangs terug te ry na San Foca waar ons by ʼn plaaslike pizzeria pizza kon eet en wyn drink.

Ek en my man, Marius, was eintlik so dapper om hierdie reis met ʼn baba aan te pak. Carien was een en ʼn halfjaar oud ten tyde van ons reis. ʼn Baba het wel beteken ons kon nie reis soos wat ons gewoond was nie. In ons era voor kinders het ons gereis tot ons omval. Maar nou het ons ʼn klein mensie gehad om voor te sorg en moes haar behoeftes in ag neem. Ons het soms beurte gemaak om met haar tuis te bly, soms alleen met haar tuisgebly en strand toe gestap terwyl ons vriende die omgewing verken, en soms gehuil omdat reis met ʼn baba nie ʼn grap is nie. Maar oor die algemeen was sy baie soet en het goed aangepas by ons roetine.

Ons is baie lief vir reis, maar almal weet die rand trek maar swaar teen die euro. Wanneer ons reis, doen ons dit volgens ʼn streng begroting wat ʼn oorhoofse, weeklikse en letterlik daaglikse begroting vereis.

Ons eerste dag in Puglia behels dus ook om eers die groot plaaslike supermark te besoek. Dit klink so onromanties, maar só bespaar ons baie geld omdat ons nie elke dag by die winkel om die hoek ons inkopies hoef te doen nie. En hoe eenvoudig dit ook al mag klink, geniet ek dit om tussen gewone Italianers in ʼn supermark te loop. Ek gaan bieg, hierdie oefening sou baie moeiliker gewees het sonder ons Nederlandse reisgenote. Ons koop ʼn trollie vol benodigdhede vir ons tyd hier.

Die Florence van die Suide

Lecce, die Florence van die suide. (Foto: Verskaf)

Die hoofstad Lecce, word ook die Florence van die Suide genoem. Om egter parkeerplek in díe stad te kry, grens aan onmoontlik. Die ideaal sal wees om die stad met openbare vervoer te besoek. Ná sowat vyf rondtes om die stad vind ons ’n markplein met ’n parkering verbode-bord – waar almal parkeer. Ons besluit om die kans te waag.

Saans is die stad asemrowend mooi verlig. Ek is mal oor die vibe en die eetplekkies in die nou stegies. Die historiese sentrum, of ou stad, is bekend vir sy barokargitektuur en dit maak dit ook ʼn gewilde toeristebestemming. Die argitektuur word gekenmerk deur ‘n tipiese geel steen wat hier in die bouwerk gebruik is en soms word daar daarna verwys as die Lecce steen.

Ons geniet aperitivo by die ikoniese Caffè Alvino op die Piazza Sant’Oronzo. Dit is een van die oudste historiese kroeë in die stad en is oorkant die ou Romeinse amfiteater. Die Romeinse amfiteater was vir eeue begrawe onder geboue en is eers in 1901 deur konstruksiewerkers ontdek toe hulle begin grawe het om ‘n bank te bou. Vandag is dit steeds half begrawe onder die grond, maar die teater is duidelik sigbaar en kan jou op ʼn verbeeldingsvlug na die antieke Romeinse tyd neem. Daar word vermoed dat daar nog interessante dinge onder die geboue om die plein is.

Die barokargitektuur, die interessante winkels en verskeidenheid van mense maak dit ʼn lekker ervaring om hierdie stad te verken. Ek moet sê, ek voel soms as ek in die een katedraal was, was jy in almal. Almal lyk vir my dieselfde binne. Ons proe hier in Lecce die tipiese tertjie uit Puglia, die pasticciotto. Dit is ʼn gebakte Italiaanse pasteitjie, gevul met vla.

Ons het ʼn paar keer in Lecce gaan draai en op een van ons togte uit Lecce gaan verken ons Guagnano om te gaan wynproe. Die dorp is in die Negroamaro wynstreek geleë. Newens sy geskiedenis, olywe, tipiese pastageregte en argitektuur is die Puglia-streek ook bekend vir sy wyn. In die hartjie van Guagnano stop ons by Claudio Quarta waar ons ʼn wyntoer in ʼn ondergrondse museum doen.

Nog ʼn interessante feit oor Italië is dat min restaurante op Maandagaande oop is. Ja, jy gaan dalk die groot toeristerestaurante oopkry, maar jou juwele, daar waar die plaaslike inwoners uithang, is beslis gesluit.

Rits al langs die kus

Gallipoli (Foto: Verskaf)

My Nederlandse niggie is jou tipiese toeris wat met haar neus in die toergids loer om te kyk wat ons volgende moet doen. Haar man is die teenoorgestelde, hy ry waar sy neus hom lei. Ek en Marius is te dankbaar om reisgenote te hê wat die Italiaanse taal min of meer onder die knie het. (Onthou in Europa is ʼn vakansie in Italië amper soos ons jaarlikse vakansie in die wildtuin).

Vir ons eerste verkenning van die kus, vat ons vroegoggend die pad na Nardo en Gallipoli en gaan maak ʼn draai om die suidelikste punt van Italië. Nardo is ʼn mooi ou stad en ons gaan drink cappuccino’s op die plein in die middestad. Hier stap ons net rond en verkyk ons aan die nou straatjies, kerke en geniet die oomblik. Een van die kenmerkendste Italiaanse dinge is seker die ouer mans wat op die plein bymekaarkom vir ʼn vroegoggendgeselsie met hul neuse in die koerant.

Van hier af ry ons verder wes na die kusdorpie Gallipoli. Gallipoli is Grieks vir “mooi stad” en mooi is dit inderdaad. Veral die ou stad wat op ʼn eiland gebou is, doen sy naam gestand. Die kenmerkende kasteel wat uitstaan as jy daar aankom, was ongelukkig toe vir siësta-tyd net mooi toe ons daar aankom, maar ons kon steeds deur die ou stad se straatjies wandel.

Ons reis verder om die mees suidelike punt van Puglia op soek na die lyn waar die Adriatiese en Ioniese oseane bymekaarkom. By Leuca kyk ons by ’n uitkykpunt uit oor die hawe van Leuca en verbeel onsself daar is ’n duidelike skeidslyn tussen die twee oseane (maar jy moet wel redelike verbeelding gebruik).

Op ʼn ander dag (dis luuks om twee weke te kan verken) beplan ons ’n dag kuslangs na Santa Cesarea Terme, binnelands deur na Martano voordat ons aandete eet in Otranto.

In Santa Cesarea Terme is die Villa Sticchi iets wat ons onmiddellik opval. Die gebou wat met argitektuur van Moorse invloed spog, se helder kleure staan skerp uit teen die blou kuslyn. By ’n klein caffè eet ons ontbyt wat bestaan uit cornetto’s gevul met room (dit is die Italiaanse weergawe van croissants) met Prosecco, ’n vonkelwyn (want ons is immers met vakansie). Ná die vonkelontbyt ry ons deur die binneland na Martano. By hierdie dorp sou ek graag ʼn nag of twee wou oorbly – dis skilderagtig mooi. Van daar reis ons terug via Otranto waar ons pizzas in die ou stad eet. Vir my was dit die lekkerste pizzas van ons hele reis en dit is interessant hoe sekere herinnerings so helder in jou gedagtes kan bly herleef.

Verlief op die wit stad

‘n Straat in Alberobello. (Foto: Verskaf)

Die Itria-vallei, bekend vir sy kenmerkende trulli-huisies, olywe en wyn, was een van die redes hoekom ek baie graag Puglia wou verken. Die bekende dorpie Alberobello is ongeveer twee uur se ry vanaf San Foca. Vir hierdie uitstappie het Marius met Carien by die huis gebly, sodat ek saam met my niggie en haar man die omgewing kon verken.

Ons ry vroegoggend in die rigting van Lecce, verby Brindisi na Ostuni. Ons kom net ná nege die oggend al daar aan, die winkels is skaars oop. Soos wat mens aangery, sien jy die sogenaamde “wit stad” afgeëts teen die heuwel. My niggie se reisgids beveel die Mona Lisa Bar aan vir ontbyt en ons besluit om dit te probeer. Die kroeg is in ’n grot, uitgrawe in die grond. Ons eet (vir ontbyt) die tipiese pasticciotto met ’n cappuccino. Die kroegman is vriendelik en dit was beslis ’n goeie plek om te begin.

Van daar loop ons met die Via Cattedrale-pad deur die ou stad op na die boonste punt. Dit is ’n lieflike ou stad en ’n mens kan verdwaal in die doolhof van nou stegies en wit huise. Winkels verkoop produkte wat baie tiperend is aan die omgewing. Ek swig voor ’n leerhandsak en ’n paar leersandale. Op die stadsmuur staan ons vir ʼn oomblik stil terwyl ʼn klein Fiat by ons verbyskuur. My niggie en haar man begin te droom van ʼn huisie hier op die stadsmuur wat uitkyk oor die see en vallei.

Van Ostuni af ry ons na Alberobello wat bekend is vir sy trulli-huisies. Alhoewel die Puglia-streek oor die algemeen minder toeristies is, is die Itria-vallei, en spesifiek Alberobello met die trulli-huisies wel ʼn groot toeristeaantreklikheid. Op ʼn besige dag (voor Covid-19) vleg ʼn mens behoorlik tussen die toeriste deur. Jy kan ook in ʼn trulli oornag, iets wat ek dink beslis die moeite werd sal wees. Dit is ook hier in Alberobello waar ons vir die eerste keer die orecchiette-pasta eet. Die naam beteken letterlik “klein oortjie”; dit lyk soos klein oortjies en word tuisgemaak deur die Italiaanse mama’s.

Ons ry ’n vinnige draai deur Locorotondo, en teen die tyd dat ons by die pragtige dorpie Martina Franca kom, is alles reeds toe vir siësta-tyd. Iets waaraan ons Suid-Afrikaners glad nie gewoond is nie: dat alles vir siësta sluit. Dis tyd vir middagete en ʼn kort slapie voor die res van die dag aangepak word. Onthou, die winkels bly wel baie langer oop saans as ons gebruiklike tye.

Ostuni, die wit stad, was liefde met die eerste oogopslag, maar Otranto… op Otranto het ek my hart verloor. Otranto, een van die mooiste dorpe in die streek, het ’n ryk, maar hartseer en wrede geskiedenis. Ons eerste ontmoeting was op ʼn stormagtige aand. Die golwe het teen die rotse geslaan waar ons beskut in ʼn restaurant gesit het met uitsig op die strand. Die derde keer het ek op my eie die ou stad ingevaar, oorgestimuleer deur die mooiheid en alles wat die vakansie meebring. Dit was tyd om myself te “ground” en ek het alleen deur die ou stad gaan dwaal – op soek na myself. Ek het die ou katedraal gaan soek waar die ryk geskiedenis van die stad uitgebeeld word.

Op ‘n straathoek in Ostuni. (Foto: Verskaf)

Ostuni is die mees oostelike Italiaanse dorp op die vasteland en is regoor Albanië geleë. Een van die grootste geskiedkundige gebeurtenisse was die Ottoman-inval in 1480 waar 800 Rooms-Katolieke inwoners onthoof is. Die Turke het vir dertien maande oor die stad geregeer. Die ou katedraal dateer uit 1088. Die indrukwekkendste is die mosaïekvloer wat deur die eeue behoue gebly het. Die bene en skedels van die 800 mense wat in die Ottoman-inval gesterwe het, is in glaskaste rondom die altaar. Vreemd, maar indrukwekkend. Die kerk se grafkelder word deur 42 marmerpilare gesteun.

Vir Carien was die lekkerste van dié dorp waarskynlik die groot speeltuin. Marius het baie geduldig elke keer met haar gaan speel. Ek vermoed deels omdat hy dit verkies bo slenter deur die dorp en winkeltjies. Later, toe hy so terloops aan my noem dat die Italiaanse vrouens nie so mooi is soos almal altyd sê nie, besef ek dat hy waarskynlik een van die min pa’s in die speeltuin was.

Die ou stad het die eerste aand in die donker soos iets uit ’n sprokie teen die kuslyn gelyk. Soos reisigers maar maak, het ons buite die ou stad gaan eet voor ons daaraan gedink het om eerder in ou stad te gaan soek vir kos. Maar van waar ons gesit het, kon ons die ou stad aan die een kant en die vuurtoring en baai bekyk.

Selfs met drie besoeke het ons nog nie die dorp ten volle verken nie. Tog, van al die plekke wat ons in die hak van Italië besoek het, staan Otranto beslis uit as een van die mooiste en lekkerste.

  • Foto’s: Tanya de Vente-Bijker, Harald Houtman, Tineke Houtman-Cordia en Marius Bijker

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elmarie

Hoe mis ek nie om te kan reis nie. Nog altyd mal oor kleiner dorpies in Europa, dis waar die hart en siel van ‘n volk lê. Dankie vir ‘n heerlike artikel en foto’s!

Ellie

Eendag as ek groot is…….

Kobus

Inspirerend! Met groot verlange na ‘n post-Covid-tyd!

Boksombende

Maggies, maar dis pragtig! Miskien eendag sal ek en my vrou geseend wees om met ons eie oe te gaan sien hoe dit daar lyk.