Foto’s: Stanford se betowering

’n Riviervaart op die Kleinrivier teen sononder is die perfekte manier om jou dag af te sluit, veral as daar ’n braaivleisie in die prentjie is. Die drie rivierbote, African Queen, Lady Stanford en River Rat doen ook voëlkykvaarte.

My oorlede skoonpa het elke keer as ons op ’n hip en happening dorpie aankom onderlangs gebrom: “Dis nou nog ’n safaripark dorpie met ’n aandpak pose”. Dan het hy aan sy pyp getrek. Hy sou anders gevoel het as ons ooit saam op Stanford net buite Hermanus kon gaan kuier, vertel Maryke Roberts.

Dis eerder ’n aandpak dorpie met ’n safaripak pose, want die kos én wyn én ervaringe is wêreldklas, maar die natuurskoon en stilte is pure platteland sonder voorgee. Hier vorm 11 plase deel van die Stanford-wynroete, en ek glo dis die dorpie met die meeste fynproewersrestaurante per vierkante kilometer in die land! As jy iemand by ’n koffiewinkel raakloop, ruil jy pronkerig wenke uit oor die beste eetplek, en of jy plek kon bespreek of voor ’n volbespreekte restaurant moes omdraai.

Dis juis waarin die dorpie se bekoring lê: klein stofstraatjies tussen historiese geboutjies vleg deur teerstrate en moderne luukses. Terwyl jy tussen die winkeltjies snuffel, skuur Italiaanse gelato skouer met botterige Franse croissants, terwyl antieke linne met handborduurwerk ewe tuis is as die dorp se bekende bier en gin.

Stanford is in 1857 gestig en na Sir Robert Stanford vernoem, en is die derde beste bewaarde dorpie in die Wes-Kaap, danksy die werk van die Stanford-bewaringstrust. Stanford is in sy geheel as erfenisgebied verklaar.

Whitewater Farm is pure plaas, met al die luukses waarvoor jy kan vra. Smiddae kom die springbokkies om jou huis wei.

Dis beslis nie ’n plek om in een naweek te ervaar nie: Kies plaasverblyf, los jou foon en motorsleutels by die deur en slof in jou plakkies en uitgerekte T-hemp rond, of doen die dorpding en geniet die kuierplekke.

’n Lekker manier om die dorp te ontdek, is met die Historical Stanford on foot-boekie wat by die toerismeburo te koop is. Dit sluit 58 historiese geboue in en die stap begin voor die biblioteek en volg die HW-teëls vooraan elke gebou. Dit laat jou Caledon-, Kerk-, Du Toit-, Longmarket-, Quick- en Bezuidenhoutstrate verken.

Oral waar jy gaan hou die NG kerkgebou uit plaaslike sandsteen wag. Ek lees dat wanneer ’n bekende destyds uit die kerk begrawe is, die kerkklok soveel maal gelui is as wat die oorledene oud was.

Ons kuier in die ou perdestalle wat uit 1913 dateer by twee jong wynmakers, Paul Hoogwerf en Douglas Mylrea, wat onder die Maanschijn-etiket wyn maak. Hulle was saam op skool en universiteit waar hulle wynkunde gestudeer het, voor hulle elkeen hul eie paadjies in kelders en wingerde regoor die wêreld gestap het.

Ons speel in die laatmiddagwindjie boules onder die reuseakkerboom. Die baan is reg langs die oulike hoenderhuis.

Die grond waarop hul proelokaal geleë is, behoort aan Douglas se familie en hy het as kind altyd hier kom kuier. Na ’n brand in 2013 die bome om die ou perdestalle verwoes en die geboutjie blootgelê het, is dit gerestoureer en toe sommer sonder om te vra deur die tweemanskap as proelokaal oorgeneem.

Hulle is sedert 2020 voltyds hier en het een hektaar sauvignon blanc waar hulle organies boer. Die res van hul druiwe word uit die Walkerbaai-wyndistrik gekoop. “Ons wil die smaak van die distrik in ons wyne vasvang: bietjie see, bietjie fynbos, bietjie berggrond – maar met minimum inmenging,” vertel Paul terwyl ons hul twee versnitte, Herbarium, proe. Dit is só genoem om hulde aan oom Sampie te bring wat jare gelede in dié geboutjie gewoon en veldplante van die dakbalke gehang het om te droog. Douglas sê: “Herbarium is ’n versamelnaam vir dié plante, maar ook simbolies van die versameling plante wat ons uit verskillende wingerde in die streek gaan uitsoek.”

Koop pakkies kos en neem die kleinspan saam om die donkies op Whitewater Farm te voer.

Die proe is informeel; ons hang aan ’n reusewynvat voor die deur. Die windjie roer die horingoue bloekomtakke en anderkant die dik stamme wink hul wingerd en die Kleinriviermeer.

Die eerste probeerslag in 2017 was vier vate en verlede jaar het hulle 10 000 bottels wyn gebottel.

Ons verblyf is buite die dorp. “Dis witwarm,” laat die wysneus agter die stuurwiel hoor toe ons by die bord met die groot w’s indraai. Dis heel gepas, maar ons het by Whitewater Farm aangekom.

Die ou huisie is heerlik koel en die spierwit bed onder die muskietnet wink erg uitnodigend, maar twee plaasdamme wag en Beverley du Preez wys effens na regs na sambrele, waar die swembad blou glinster.

Die swembad is nader en toe ons by die kampie verbystap, hoor ek weer haar stem: “Daar is twee baie vriendelike varkies hierbinne,” en sy sien die ongeloof op ons gesigte toe ons oor die kaal kamp staar. “Die gras is nou lekker lank, so hou maar net dop waar die gras so elke nou en dan ritsel.” Inderdaad – nie lank voor ons met die natsnoet varke kennis maak nie; albei spekvet en amper ideale voetstoeltjies.

Wanneer laas het jy ’n varkie se kop gekrap dat sy beentjies stokstyf skop van lekkerte? By Whitewater Farm wag daar twee oulike varkies vir ’n kopkrap.

Na die koele lafenis van die swembad en ’n uur of wat se boeklees op die oulike hemelbedagtige dagbeddens waar rankplante die agterkante toegerank het, speel ons in die laatmiddagwindjie boules onder die reuseakkerboom. Die baan is reg langs die oulike hoenderhuis, nee dié kontrepsie kan nie ’n hoenderhok genoem word nie, en te oordeel aan die ywerige geskrop en onderlangse gekekkel en koergeluide uit die kele van klein en groot hoenders, weet ek dis ’n huis dié. Verder teen die wit heining staan en spog Nguni’s en ek kan nie dink dat ek al ooit in my lewe boules gespeel het met varke, hoenders en beeste as toeskouers nie. Ek weet hulle is nie regtig toeskouers nie, maar almal is teen die heining of draad platgedruk om te sien wat ons doen …

Laatmiddag gaan verken ons die plaasdam en sit lank by die piekniektafeltjie en speel kaart met yskoue gin en tonics. Die deli op die plaas verkoop kospakkies vir die twee varke, George en Kevin, die alpakkas en donkies. Kort-kort kom ’n paar kleuters opgewonde oor die gras met hul handjies bolwang van die eetgoed, reg om die diere te ontmoet.

Die koelte daal uiteindelik neer; die springbokkies kom rustig langs ons huisie wei toe ons die Maanschijn Herbarium rooi se kurk laat klap en op die stoep gaan sit. Die Nguni’s se sterte swiep-swiep soos cheerleaders se boksterte. Die tarentaalkoor kry sopraannote by deur hadeda-roepe.

Nie lank nie, of aandete word bedien. Dis nie Mr Delivery nie, maar in hierdie geval Mev. Aflewering: Whitewater het danksy Covid-maatreëls begin om gaste se aandetes by hul huisies af te lewer, en hoe heerlik is dié bederf nie.

Ons smul aan burgers en kruisskyf wat ons ’n week tevore vanuit ’n deurmekaar en besige kantoor bestel het, en dit smaak nog beter as toe ons die spyskaart bestudeer het.

Wanneer jy by Whitewater Farm vertrek, is die deli en geskenkwinkel propvol lekker goeters om te koop, maar dis die vars groente en kruie uit hul tuin wat ons oog vang.

Vroegoggend stap ons oor na die ontbytkamer en trek die plaaslug diep in ons longe in. Dit verbaas my elke keer hoe vinnig ʼn mens die week se stres en stywe skouers kan afskud, sonder dat jy veel hoef te doen. Of wag, dis juis omdat jy nie veel doen nie, maar jy verstaan wat ek bedoel.

Die luggie op ons stoepie is lekker koel en dis so ’n mengsel van slaap en lees voor middagete, ’n entjie verder in die pad af by Stanford Valley Guest Farm se Manor House Restaurant.

Net voor die teerpad sit ’n gros swaeltjies op drie telefoondrade wat soos drie groot glimlagte onder mekaar hang. Die swaeltjies lyk soos klein swart musieknote op bladmusiek, en as ek aan skemeraand se fyn tjilp-tjilp-tjilp dink waar hulle krulle teen die lug gevlieg het, kan ek my indink dat hulle met kooroefening besig is.

Die restaurant se dakwaaiers roer die hitte van die stoep af wat op die perdekamp en grasperk uitkyk wat soos ’n dik tapyt voor die geboue uitrol. “As dit jou hare of rok opmors, roep net!” laat eienaar Elsabe Nauta hoor toe sy die dakwaaiers een kerfie vinniger stel.

Die driemanskap – Elsabe, haar regterhand Sarah Dix en sjef Janine van der Nest – maak dit een van die omgewing se moet-besoek restaurante. Die spyskaart verander vier maal per jaar en gee ’n nuwe kinkel aan ou gunstelinge. Die omgewing se beste wyne kan hier geniet word, terwyl jy die wye versameling kuns teen die mure waardeer.

Aandete by Whitewater Farm word bedien. Dis nie Mr Delivery nie, maar Mev. Aflewering in hierdie geval: Beverley du Preez met ons kos uit die restaurant se kombuis.

Daar is ook ’n nuwe kunsgalery onder bestuur van Barbara Lindop van Intethe Kunsgalery in Hermanus. Met nagereg hoor ek hoe die gaste by die tafel agter ons opstaan om na die nuwe spa te gaan en ek is skoon onthuts omdat ek nie daaraan gedink het nie.

Die dam by Whitewater bied egter ’n koele verwelkoming, voor ons om 17:00 by die Kleinrivier-optelpunt vir ons sonsakrit met River Rat Cruises aanmeld. Daar is drie bote wat elkeen ’n unieke ervaring bied: African Queen, Lady Stanford en River Rat. Wat ek van die vaart op die kleiner bootjie geniet, is minder mense. Jy kan jou eie vleis of wors bring en dat die kaptein vir jou in ’n braaidrom vuurmaak wat teen die een kant oorhang. Jy bring jou eie kougoed en wyn, en soos die namiddag stil word, gly die boot geruisloos oor die water. Daar is geen toergids wat goed uitwys nie. Ons kyk voëls, soek hul name in ons voëlboeke op en toe klim een van ons in die reusebuitebande wat agter die boot aangesleep word.

Die bote doen ook vroegoggend voëlkykvaarte.

As jy so stadig oor die water gly dat jy die ligte windjie in die riete kan hoor, of kan volg hoe die swaeltjies op die klein romp sit en duik en sirkel, of sien hoe ’n paar baba- geelbekeendjies watertrap, sak die lomerigheid tot in jou tone.

Saans omvou die sterre jou huisie as die nagkore op die plaas by die dag se klanke oorneem.

Met ons groet Sondagoggend tel ons die vars groente-en-kruieboks van die plaas af op om die plattelandse heerlikheid nog langer uit te rek as ons tuiskom.

Gatehouse, ons verblyf op Whitewater Farm, is heerlik koel en die spierwit bed onder die muskietnet én die reusestort wink erg uitnodigend.

Gaan ontdek ook:

  • Die Egret & the Owl Book Café het nie net die beste tweedehandse boekversameling nie, maar ook heerlike koffie en die lekkerste kaaskoek onder die son. Glo my, ek toets oral waar ek gaan!
  • Elkeen van die wynplase se wynproe bied iets anders, maar as jy heelmiddag wil kuier, bespreek ’n tafel onder die bome by Raka en koop peuselgoed in die plaasdeli.
  • Stanford is die tuiste van Antjie se handgemaakte seep en as jy nie ’n blokkie van haar boerseep in jou waskamer het nie, is daar ’n gemis in jou lewe.
  • Die nuutste lekkerbekplek op die dorp is Wortelgat Restaurant op Springfontein-wynlandgoed, sowat 5 km buite die dorp, Hermanus se kant toe. Twee Michelin-ster sjefs, Edwin en Tom Vinke, hou vanaf Oktober dié opskietrestaurant daar, waar die kos en opdiening jou asem sal wegslaan. Hulle is die eienaars van De Kromme Watergang in Hoofdplaat, Nederland.
  • Naweeksaande kuier die hele wêreld by Searle’s Garagiste in Queen Victoriastraat, waar jy jou sandale kan uitskop en jou voete op die koel sementstoep kan laat rus. Hier sing en speel iemand kitaar en voor jy jou kom kry, dans jy saam in die hoofstraat. Agter die Stanford Hotel oorkant die pad se gewel met sy gepleisterde, kom die volmaan soos ’n vet kaaswiel op.

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf.

Stanford Valley Guest Farm is een van ons ander akkommodasielieflinge, maar hul volbespreekte verblyf het ons nuwe horisonne laat ontdek. Ons pas egter altyd ’n ete by die Manor House Restaurant in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.