Foto’s: Verken die geheime Gourikwa

Kom snorkel las die ongerepte kuslyn van Gourikwa. (Foto: Verskaf)

Iewers aan die kus tussen Mosselbaai en Stilbaai, ’n hele ent van die hoofroete, lê Gourikwa – ’n versteekte natuurreservaat van 2 000 hektaar met ’n ongerepte kuslyn van 5 km. Al woon ek al agttien jaar in die Wes-Kaap en verken byna elke maand ’n ander hoek en draai, het ek in al my omswerwinge nog nooit van Gourikwa gehoor nie.

Die geskiedenis van dié pragplek is in geheimsinnigheid gehul. Die eerste bewoners was waarskynlik die Khoi-Khois en sommige argeoloë glo dat die visstrikke teen die kus reeds 4 000 jaar gelede gebou is.

Terwyl ek en my gesin die klipperige strikke verken, kan ons ons indink hoe die vis met die inkomende gety hierheen gelok is. Uit die see het die Khoi-Khois ook perlemoen, alikreukel en mossels geoes. Dekriet is gebruik vir skuilings en boegoe vir genesing. In die 1700’s het die eerste bestaansboere hier aangeland en van melk, koring, skaap, wildvleis en vrugte geleef. ’n Eenkantbestaan is vir eeue hier gevoer, ver van die hoofpaaie.

In 1980 het die destydse regering se Raad op Atoomkrag die plase opgekoop met die plan om ’n kernkragaanleg hier te vestig. Dit was streng bewaak met veiligheidshekke en lemmetjiesdraad wat tot in die see strek, soldate wat die kuslyn per boot patrolleer en die lugruim wat verbode was vir vliegtuie. Wat agter al die slotte en grendels gepleeg is, was ’n staatsgeheim. In 1994 het die regering dit aan ’n Duitse egpaar verkoop wat die mooi stuk aarde in ’n natuurreservaat wou omskep met huisies teen die see. Toe die eienaar se vrou sterf, het hy ’n lieflike ronde kapel teen die see gebou ter herdenking van sy geliefde vrou: Monica’s Kapelle.

Die huidige eienaars noem die reservaat Gourikwa en die bewaring van die natuur is duidelik na aan hulle hart. Sommer vanaf die stoep van die selfsorghuisie waar ons oornag, sien ons ’n trop elande wei – só naby, ons kan die bulle se klikklank hoor terwyl hulle loop, spiraalhorings omhoog. Later blaas die sebras in ons rigting en stamp die hoewe. Hiert! skarrel ’n dierasie so groot soos ’n hond met ’n grys rug deur die riete. Jakkalskind?

Gourikwa se huisies is ruim, gerieflik en goed toegerus. Daar is ’n vaas vars blomme op die tafel en landskapskilderye van die omgewing teen die mure. Ons braai elke aand tog te lekker met ’n wye uitsig oor die see. Wanneer daar saans ’n knyp in die lug is, steek ons die kaggel aan en speel die bordspeletjies wat ons saamgebring het. Daarna skuif ons voor die vuur in met ons storieboeke. Gesellige gesinstyd. Iewers in die aand hoor ek die hoe-hoe van ’n gevlekte ooruil en sy wyfie wat hoe-hoe-hoee antwoord.

By Gourikwa bewaring die eienaars na aan die hart. (Foto: Verskaf)

Vroegdag durf ons die wandelpaadjies aan. Eers brul ons die Scenic Route uit met Karjakker, ons 2×4. Vanaf die uitsigpunt stap ons verder deur die fynbos. Dit wemel van die vogeltjies, veral die Kaapse suikervoëls met hul lang stertslierte en krysende metaalklinkende roepe. Die rooibandsuikerbekkies zwiekzwiek in die proteas. Die jangroentjies is blinkgroen en die bosbontrokkies dra swart gesigmaskers. ’n Swerm koddige muisvoëls kwetter verby. Die geur van boegoe is in die lug; op ’n kusduin sien ons sandviooltjies en geel hongerblomme. Die mooiste verrassing is die rooi koningskandelare – die adellikste blomme van almal – en die bloedlelies met hul gespikkelde stingels. In die suid-weste van die reservaat blom hulle in massas soos ek dit nog nêrens anders gesien het nie.

Die klein Botha-begraafplasie by Gourikwa. (Foto: Verskaf)

Die plaaslike inwoners vertel vir ons die weer is onvoorspelbaar. Die kusbos verraai dat die wind gereeld hier waai, maar ons het drie windstil dae belewe met bewolkte oggende en sonnige middae. Toe ons een laatmiddag die roete deur die kloof stap, is dit duidelik dat die duinewoud omvorm is deur eeue se wind. Hier is nie ’n enkele regop boom nie! Al die bome lyk soos tekeninge in ’n sprokiesboek: verdraai, uitgesprei, verwring, vervleg met mekaar, behang met rankers en oumansbaard. Die saffrane, melkhoute en kalanders voel óúd. Storieboekbome. Minstens twintig spinnekoppe se goue spinnewebbe glinster oor ons paadjie. Later kruis ons pad met dié van vleikrappe wat kilometers van die see af rondloop. Hulle vies gesiggies laat ons lag.

Die klein Botha-begraafplasie is ook langs die pad. Die grafstene is byna onleesbaar, maar ons pluis uit die oudste graf dateer uit 1860 en dat een Botha 89 jaar oud geword het – stokoud vir desjare! Later hoor ons dat die oorspronklike Botha-woning gerestoureer is en nou die wittebroodshuisie van Gourikwa is – eenkant, op ’n (romantiese) afstand met die allerpragtigste uitsig op die see.

‘n Potjie put-put was ook op die doenlysie. (Foto: Verskaf)

Laatmiddag speel ons gesin ’n potjie put-put wat die letters van die woord GOURIKWA in hoofletters uitspel. Glad nie so maklik soos dit lyk nie – daai R en I is verpestelik! Die put-put eindig by ’n oulike miniatuurvuurtoring.

Die volgende oggend bestyg ons die ware vuurtoring, Ystervarkpunt. Dié indrukwekkende rooi-en-wit vuurtoring van 51 m hoog is in 1964 opgerig en in 2006 opgeknap. Seeff Oosthuizen neem ons op met die toring. Hy het in die kontrei grootgeword. Laggend vertel hy die buurdorpie waar hy vandaan kom is so klein, “as jy vir ’n hoender uitswaai, ry jy die dorpie mis en as jy die hoender raakry, is die hele dorpie vir jou vies!”

Ná skool het Seeff vir ’n groot internasionale organisasie as sjef in die Ooste gewerk, maar toe sy ouma siekword, het hy teruggekeer na sy grootwordplek en nou is hy al vir vier jaar die geleentheidskoördineerder van Gourikwa. Doenig is hy gewis, met tot dertig troues wat per jaar hier gehou word – sommige in die kapelletjie, ander op die strand.

“As ’n voornemende bruid instap, lees ek haar en sien ek klaar die prentjie wat sy vir haar troue sien.” Ek glo hom goed.

Vandag is die enigste bewyse van dié geheime kernkragoperasie die stoorkamers, hawemure, verroeste staal teen die rotse en die goeie paaie in die reservaat. (Foto: Verskaf)

Nou wat presies het die regering destyds hier aangevang – ruimtemannetjies gekweek? grap ek. Seeff skud net sy kop, glimlag. Wie weet? Vandag is die enigste bewyse van dié geheime kernkragoperasie die stoorkamers, hawemure, verroeste staal teen die rotse en die goeie paaie in die reservaat.

’n Ander nalatenskap van die jare van geheimhouding is die ongetemde kuslyn. Vir jare is hier nie dekriet-oesters en verbyloper-vissermanne toegelaat nie en vandag krioel die see van lewe. In die getypoel naby die ligtoring waar ek snorkel, steek ’n seekat sy kop bo die water uit en loer nuuskierig vir my voordat hy weer teen ’n klip kamoefleer. In ’n ander poeletjie sien ek sewe soorte vissies en bont seeanemone, wiere, slakkies en seesterre. My man, Gerrit, en ons dertienjarige seunskind duik binne minute twee bielie-arikreukels uit.

Ek raak aan die gesels ’n visserman-oompie met branderblou oë wat vir my verduidelik hoe om arikreukel oor die kole te braai. Ons het nie botter óf ’n permit nie, daarom gooi ons dit liewers terug in die see. Die oom vertel dat hy plaaslik grootgeword het en hy kén stories, ook oor die ministers van 19-toet.

“Gourikwa was hul speelplek!” skerts hy.

Ek snorkel verder terwyl my gesin op die gekleurde rotse rondklouter. Die geel en oranje korsmos gloei in die skemerlig en die rotse vorm ontelbare trappe, terrasse, stoepe en sitplekke. My tienjarige knapie tel ’n skulpie op en kyk aandagtig na die knypers wat uitloer.

“’n Kluisenaarkrap se huisie!” roep hy.

Soveel onontdekte skatte langs hierdie see…

Die ware vuurtoring, Ystervarkpunt. (Foto: Verskaf)

Reisraad

  • Die Gourikwa-natuurreservaat is slegs ’n uur se ry vanaf George lughawe. Die naaste dorpie is Gouritsmond.
  • Gaste kan kies tussen ses kothuisies wat slegs 100 m van die strand af is, nege vissermanshuise wat versprei is teen die kuslyn en vyftien villa’s wat ’n ent teen die bult op is, maar met mooi seeuitsigte. Alle verblyf is selfsorg.
  • Die kraanwater is drinkbaar, maar smaak sleg. Ons het die ystersmaak gou-gou met suurlemoenskyfies weggetoor.
  • Die reservaat kan per voet, fiets, kar of te perd verken word.
  • Reënval is meestal van Mei tot November, maar dit kan enige tyd van die jaar reën. Die kaggels in die huisies sal sorg vir knusheid teen die koue.
  • Blomtyd is in die somer vir die kandelaarblomme en bloedlelies; in die lente vir die proteas en heide.
  • Skakel: 087 702 9126. Vonkpos: [email protected] of besoek Gourikwa se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Elsabe

Nog nooit gehoor van Gourikwa. Nie bekend aan baie. Seker daarom dat dit so ongerep is. Jou beskrywings en foto’s terdee geniet, Carina. Baie dankie.