Foto’s: Verken die Langeberg-skatkis

1956 DeSoto Fireflite-sportmotor, tydens sonsondergangrit. Foto: Eunice Stoltz.

Die Kaapse Wynlande-distrik speel jaarliks gasheer vir duisende besoekers wat uitsien na die roemryke natuur- en wynbestemmings wat dié omgewing bied. Met die somerseisoen reeds in volle swang het Maroela Media die prag van die Langeberg-omgewing tydens ’n mediatoer eerstehands ervaar.

Die Langeberg vorm deel van die bekende Route 62 en sluit die unieke dorpies Robertson, McGregor, Ashton, Montagu en Bonnievale in. Net minder as twee uur vanaf Hermanus, Kaapstad en Tulbagh is die Langebergreeks ’n skatkis van die Wynland-distrik wat dag- en oornagbesoekers, ’n egte Kaapse belewenis bied.

De Wilge B&B en Selfsorg

Op die Agter-Vinkrivierpad, sowat 30 km buite Robertson, kan jy met ’n panoramiese uitsig oor die Nuy-vallei in die luukse selfsorgeenhede by De Wilge B&B uitspan. Wat voorheen ’n kelder was, is in drie ruim eenhede met twee dubbelbedkamers elk omskep. Daar is ook ’n pragtige wittebroodsuite bekend as die Tango. Die Tango is (ook) ’n pitlose nartjie afkomstig van Spanje waarmee daar op die plaas geboer word. De Wilge betaal selfs kopiereg vir elk van dié pitlose Tangonartjies.

Saggy Stone

Die rustieke styl by Saggy Stone dra by tot sy nis: boetiekbier. Medestigterslid en boetiekbiervervaardiger, Adrian Robenson, is nie skaam om te erken dat hulle niks van bier geweet het toe hulle tien jaar gelede hul eie bier begin maak het nie. In dieselfde asem vertel hy gemaklik watter eienskappe sy bier besonders maak en hoe elke Saggy Stone-bier ontwerp is vir verskillende palette.

Volgens Adrian gebruik hulle net bergwater om hul bier mee te maak. As daar nie water is nie, sal daar nie bier wees nie, sê Adrian. Tot op hede was daar gelukkig genoeg water, en kan bierliefhebbers op die uitkyk wees vir ’n splinternuwe reeks, CitruNova, wat voor Kersfees vanjaar sy opwagting gaan maak.

Saggy Stone-boutiekbiere kan slegs in die Wes-Kaap in drankwinkels en in 100 kroeë verkry word. Besoek die kindervriendelike plaas skaars 25 km buite Robertson, in die rigting van Worcester. Verkieslik tydens die warmste tyd van die dag.

Graham Beck Méthode Cap Classique

Ná erge vloedskade in 1981 het ’n ene Van der Merwe sy plaas aan wyle Graham Beck verkoop en is die Graham Beck-handelsnaam in 1983 tot stand gebring. Die luukse landgoed vervaardig wêreldklas-Cap Classique.

Pierre de Klerk, wynmaker vir nege jaar by Graham Beck MCC, vertel dat hulle in 2015 besluit het om hul aandag uitsluitlik op Cap Classique te stel. Vandag het hulle agt verskillende MCC-reekse, elk met ’n unieke geur en kleur.

Genestel in die Langebergklowe bied die Graham Beck MCC-proelokale met sy roterende kunsuitstallings en variasies van uitgesoekte plaaslike kase en vleise ’n eksklusiewe ervaring vir fynproewers en aanhangers van Cap Classique.

Bon Courage Wynlandgoed

Op die vloedvlakte van die Breederivier is die 1818 Kaaps-Hollandse opstal wat sedert 1927 aan die Bruwer-familie behoort. Met ’n wynversameling van beide rooi en wit asook die Cap Classique-reekse is Bon Courage beslis ’n familie- en wynfynproewer-bestemming.

Die wynlandgoed spog met, onder meer, Michelangelo International Wine & Spirits-, Novare SA Terroir- en Veritas-pryse. Buiten vir ’n wynproe, kan die verskeidenheid wyne in die landgoed se restaurant, Café Maude, geniet word. Indien jy besluit om die omgewing vir langer as ’n dag te besoek, is die luukse Vigne-kothuis op die landgoed op bespreking beskikbaar.

Sheilam Kwekery

’n Tuin wat die warmste somers in die Robertson-vallei kan weerstaan, is die kanniedood Sheilam Kwekery.

Dié kwekery wat herken word as een van die plekke met die mees uitsonderlike versameling van vetplantspesies ter wêreld, huisves ’n variasie van kaktusse, vetplante en broodbome – sommiges ouer as 60 jaar. Van die Ou Man van Peru, Skoonma-se-stoel, Olifantsvoet en klipplante is hier raar tot bekende plante te koop.

Owl’s Rest

Steeds langs die Langeberg op die Klaasvoogdspad bied Owl’s Rest vir jou lafenis in die vorm van ’n olyf- en laventeltuin. Vind olyf en laventel in ’n reeks produkte. Van olies, rome, haarprodukte na preserveermiddels en strope.

Indien jy egter beperkte tyd tot jou beskikking het, sal ek nie aanbeveel om ’n U-draai te maak vir dié plaas nie. Alle produkte kan aanlyn bestel word.

Montagu

Verskuil tussen berge is dit ’n samevoeging van Kaaps-Georgiaanse, Kaaps-Hollandse, Victoriaanse en Britse-Koloniale argitektuur wat die 1851-dorpie Montagu met beeldskoonheid klee.

Vir ’n genotvolle reis bepaal vooraf watter aantreklikhede jy wil besoek – dit is natuurlik nie verpligtend nie, maar sal sorg dat jy jou voorkeurplek(ke) nie misloop nie.

Een nag in Montagu is net genoeg om die reisiger siel in jou te prikkel. Dus, bly minstens twee nagte om die strate, museums, warmwaterbronne, bergklim, natuur en restaurante binne en om dié toeristedorp te waardeer.

Die eerste hotel in Montagu, die vierster Montagu Country Hotel, se art deco-styl en pragtuine in Bathstraat laat besoekers weer gou-gou terugkom. Die hotel het 32 kamers waarvan elk se meubelment persoonlik deur die eienaar, wyle Gert Lubbe, uitgekies is.

Jy kan ook ’n sonsondergang in ’n 1956 Cadillac Sedan de Ville of 1956 DeSoto Fireflite-sportmotor bespreek. Of ontspan in die hotel se spa en gesondheidsentrum of maak gebruik van die haarsalon. Die hotel is ’n gemaklike stapafstand van verskeie doendinge in Montagu.

’n Hanetree verder is die Toeristesentrum. Verken die dorp met ’n egte Ouma-fiets. Dié fietse is deur plaaslike kunstenaars geverf en maak elke fiets besonders! Fietstoere duur twee en ’n halwe uur en beloop R250 per persoon. Kies ook tussen ’n dorp- of kunstoer.

Voordat jy die dorpie verlaat, kan jy nie anders as om die uiters moderne BluVines Restaurant te besoek nie. Die restaurant het in April vanjaar sy deure geopen en het reeds die Burgemeesterskomitee-prys vir die beste Wynbestemming ontvang. Delikate disse, wyn en Truth-koffie is van die eienskappe wat die restaurant besonders maak.

En… wees op die uitkyk – jou kelner mag dalk vir jou begin sing! Die kelners by dié restaurant is almal alumni van die niewinsgewende organisasie, RAD, (Rural Arts Development-stigting). RAD bied visuele en uitvoerende kunste vir plaaslike jeugdiges aan in ‘n poging om kinders binne die gemeenskap te bemagtig.

Maak ook seker jy draai by die badkamer voordat jy weer die pad aandurf – jy wíl die luukse vertrek beleef wat jou ewe skielik laat voel of jy onder ’n waterval staan.

McGregor

’n Dorpie waarin die tyd byna gaan stilstaan het en die vulstasies nog tussen 13:00 en 14:00 daagliks vir middagete toemaak, vind jy op die R290 sowat 20 km duskant Robertson. McGregor (1862), voorheen bekend as Lady Grey, is na die predikant Andrew McGregor vernoem, nadat die poskantoor die naamsverandering versoek het.

Die plaaslike opslaanmark vind al vir meer as 15 jaar elke Saterdag in Voortrekkerstraat plaas en is ’n groot aantrekkingskrag vir beide inwoners en besoekers. Die mark verkoop organiese groente, tuisgemaakte pasteie, konfyt, wegneemetes, koffie en kunswerke van kunstenaars.

Maak seker jy besoek ook die Vrolijkheid-natuurreservaat en rus by Eseltjiesrus – dalk neem jy nog ’n donkie aan!

Besoekersnotas:

  • Meeste van die restaurante en winkels in McGregor is Maandae en Dinsdae gesluit.
  • Die Langeberg in die Kaapse Wynlande-distrik bied wêreldklasbestemmings en -aktiwiteite aan sy besoekers. Hoewel jy gou sal voel jy is tog met vakansie, is dit die warmte van eg-Suid-Afrikaanse mense in die omgewing wat jou eerder nader aan die huis sal laat voel as ’n paar honderd kilometers weg.
  • Laai die Kaapse Wynlande-toeristeroetes- en gebeurtenis-app. af (Cape Winelands Tourism Routes and Events App). Dit vergemaklik reisbeplanning.
  • Dit is somer! Neem muskietafweermiddels saam.
  • Die gebied het warm dagtemperature en koel nagtemperature.
  • Wees op die uitkyk vir die nuwe Stoomfees in 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.