Foto’s: Wanneer die bos roep

kudu2.jpg

Foto: Berchtesgaden

Vir die meeste stadsjapies is daar niks so lekker as om wakker te word met die sang van voëls, omring deur die skoonheid van die Bosveld en natuurlik, geen verkeer nie. Om so nou en dan weg te glip bos toe is medisyne vir die siel, tyd om kop skoon te maak en net weer een te word met die natuur.

Wanneer die bos jou roep is Berchtesgaden dié plek om te besoek. Nie net is die naam van dié plaas uniek nie, ook die gasheer en -vrou is twee besonderse mense wat jou van die eerste oomblik af laat welkom voel. Johannes en Anneke Kleinhans het ʼn unieke oase in die Bosveld kom skep.

Berchtesgaden is ʼn naam wat al ʼn hele paar jaar saam met die familie kom. Toe die Kleinhans-gesin so drie jaar terug hulself in die Bosveld kom vestig het, is besluit om die naam te laat voortleef. Dié oase, geleë in die Vaalwater-omgewing in die hartjie van die Waterberge, is veel meer as net ʼn wildsplaas.

Leefstyl-boerdery

Berchtesgaden_veld 3.jpeg

Foto: Berchtesgaden leefstyl-boerdery

Berchtesgaden strek oor twee plase: een gedeelte die wildsplaas en akkommodasie en die ander die boerdery. Op laasgenoemde word al die vars- en suiwelprodukte wat nodig is vir die wildsplaas geproduseer.

Johannes en Anneke het dit ʼn stappie verder geneem en besluit om die boerdery te inkorporeer by die wildsplaas se aktiwiteite. ʼn Program wat spesifiek op kinders gemik is, is ontwikkel. Nie net het hulle die geleentheid om meer te leer oor die veld en wild nie, maar hier leer hulle ook wat dit is om te boer. Kinders kan onder toesig ʼn volle dag hier deurbring waar hulle help varke voer, skape aanjaag, koeie melk, eiers uithaal en vrugte pluk, om maar net ʼn paar goed te noem. Kinders is weer kinders die oomblik wat hulle op die plaas aankom en besef vinnig hoe lekker dit is om per ongeluk in warm beesmis te trap! Sien meer foto’s aan einde van die artikel.

Dié boerdery het ook ʼn slaghuis waar die heerlikste vleissnitte, biltong, droëwors en suiwelprodukte gekoop kan word.

Wildsplaas-aktiwiteite

 berchtesgaden_welkom_1.jpeg

Foto: Berchtesgaden

Die lodge is omring deur Bosveld. Verskeie boksoorte en kameelperde kom groet gereeld deur die draad. ʼn Mens is deurgaans bewus van die ongelooflike mooi natuurskoon rondom jou. Die lowergroen grasperk met verskeie kuierareas bied elke gas die geleentheid om te ontspan, of dit nou is om ʼn boek te lees of heerlik saam met familie en vriende te kuier.

ʼn Verskeidenheid aktiwiteite word aangebied:

  • Skoonheidsalon

Wat kan dan nou meer ontspanne wees as ʼn rugmassering terwyl jy kyk hoe die kameelperde staan en vreet. Daar is ook ʼn opelug gimnasium met verskeie apparate.

  • Konferensiefasiliteit

Dié fasiliteit kan tot 18 persone akkommodeer.

  • Wildbesigtiging

Die plaas het ʼn verskeidenheid wild wat saam met ʼn gids besigtig kan word.

Wildritte kan vroegoggend of in die namiddag onderneem word. Die nagritte bied besoekers ook die geleentheid om moontlik nagdiere soos jakkalse, tierboskatte, rooikatte en die baie skaars nagapies te sien wat nie sommer deur die dag te siene is nie. Daar kan ook saam met ʼn gids vir ʼn paar uur nadat die son gesak het, in ʼn skuiling gesit word. Hier gaan jy waarskynlik ratels, bosvarke, sivetkatte en hiënas kan sien in dié rooibeligte area.

horsesafaris.jpg

Foto: Berchtesgaden

In plaas van op ʼn voertuig kan die bos ook te voet verken word of selfs met ʼn fiets. Jy kan jou eie fiets bring of een huur. Perdry-ekskursies is ook baie gewild en stel jou in staat om tot teenaan die wild te kom.

Sou jy die groot vyf deur jou kameralens wou vasvang, kan ʼn dagsafari gereël word.

  • Jagsafari’s

Natuurlik is ʼn wildsplaas gewoonlik sinoniem met jag. Berchtesgaden bied die jagter die geleentheid om saam met opgeleide veldwagters te gaan jag.  Verskeie pakkette word aangebied.

Wat Berchtesgaden so besonders maak, is dat die luukse fasiliteite nie net beperk is tot die manne wat gaan jag nie, maar dat dit ook aan die hele gesin se behoeftes voldoen.

Ander fasiliteite en akkommodasie

Berchtesgaden het ook lapa (kuierplek met ʼn eetsaal, kroeg en sitarea) met ʼn warm, huislike atmosfeer. Etes kan vooraf gereël word. ʼn Lieflike boma met vuurput is ook beskikbaar en het ʼn volledig toegeruste selfsorg-kombuis waar heerlik saam met vriende en familie gekuier kan word.  Natuurlik is daar ook ʼn swembad (verhit wanneer nodig) waarin afgekoel kan word na ʼn dag in die bos asook ʼn borrelbad waar jy met jou geliefdes ʼn glasie vonkelwyn kan geniet terwyl jy na die diere voor jou staar.

  • Luukse chalets

Die en suite-verblyf het slaapplek vir tot en met vier persone en is toegerus met alles wat nodig is om jou verblyf so gerieflik moontlik te maak. ʼn Totaal van tot 20 gaste kan hier gehuisves word.

berchtesgaden_fiets_1.jpeg

Foto: Berchtesgaden

  • Luukse tente

Volledig toegeruste luukse tente sal van Oktober 2020 beskikbaar wees en sal twee tot vier persone kan huisves. Hier sal jy werklik voel dat jy deel van die natuur is met ʼn uitsig oor voerareas waar daar meeste van die tyd wild teenwoordig is.

  • Boskamp

Die boskamp bied jou die geleentheid om in die natuur te gaan ontspan en te kan bladskud met die wild wat verbyloop. Die fasiliteit is ten volle selfsorg. Daar is wel vars water, ʼn braaiarea en baie hout.

Berchtesgaden is dalk nie ʼn tradisionele Afrika-naam vir ʼn wildsplaas nie, maar hier gaan jy een word met die natuur. Dit is ʼn stukkie Bosveld wat sommer diep onder jou vel inkruip.  ʼn Plek wat jy weer en weer sal wil besoek.

As ek die grondpad vat, stamp dit tot hier in my hart
Want hierdie sinkplaat pad, weet net hoe om met my te praat

Vat die afdraai, tot by die plaas hek
Waar die Bosveld-loerie hello kwê
Hierdie Bosveld Afrika, gebrandmerk in my are – Bok van Blerk, “Afrika Bosveld”

Vir enige navrae skakel 083 250 7989 of stuur e-pos na [email protected]. Besoek ook die webwerf of volg Berchtesgaden op Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.