Fraserburg en sy skatte

Marthinus Kruger – die man agter die Walking with Dinosaurs-projek. (Foto: Bernard K Hellberg)

Op die oog af is Fraserburg ’n tipiese Karoodorp – afgeleë en met weinig te bied vir die hedendaagse oorhaastige toeris. Voeg hierby dat elkeen van die buurdorpe soos Sutherland, Williston en Leeu-Gamka, wat aan die N1 lê, almal sowat 100 kilometer van Fraserburg af is, en die rustige afgesonderdheid staan duideliker uit.

Terloops, al gewonder waarom so vele Suid-Afrikaanse plattelandse dorpe nagenoeg 100 kilometer uitmekaar is? Dis min of meer die afstand (60 myl) wat ’n fiks man en ewe fiks perd in ’n dag kan aflê!

Hierbenewens is Fraserburg, tesame met sy buurdorp Sutherland, van die koudste plekke in ons land met sneeu wat dikwels in die wintermaande voorkom, want dit lê net noord van die Nuweveldberge op ’n hoogte van 1 385 meter bo seespieël.

Dus, vir liefhebbers van kouer klimate is Fraserburg ’n toevlugsoord vir sneeulandskapfotograwe in Junie, Julie en Augustus wanneer minimum temperature bedags sukkel om dubbelsyfers te behaal, terwyl die nagte gereeld -3 ℃ en selfs nog kouer word.

Trouens, tydens ons besoek aan die einde van Augustus 2020 het dit liggies begin sneeu op die omliggende berge onderwyl ons na fossiele begin soek het. Ons storie begin hier…

Goeie voorbeeld van ‘n tipiese korbeelhuisie wat aan trekboere skuiling gebied het. (Foto: Bernard K Hellberg)

Fraserburg is veel meer as ’n dorpie bekend vir sy koue winters, en loer jy ’n bietjie dieper, ontdek jy skatte wat wissel van eindelose horisonne, fassinerende aspekte uit ons Trekboer-geskiedenis uit die jare 1759 en Victoriaanse huise uit die era toe volstruisvere hoogmode was en die wolprys deur die dak geskiet het. Selfs die Trekboere se unieke korbeelhuise van gestapelde klip wat lyk soos ’n groot byekorf bied ’n fassinerende blik op die jare voor die dorp in 1851 op die plaas Rietfontein tot stand gekom het.

Dit is dan ook in hierdie omgewing, op ’n hoogte van 1 500 meter waar die eerste fossiele in 1968 ontdek is, en waar ’n bekende afgetrede Bronkhorstspruitse landdros en amateur paleontoloog, Marthinus Kruger, die gewilde Walking with Dinosaurs-uitstappies aanbied.

Maar Marthinus, wie se omvangryke belangstellingsveld heelwat verder strek as oerdierreste, raak ook opgewonde oor die korbeelhuise van die omgewing, en bekende Fraserburgers, onder andere A.G. Visser.

Hierdie unieke paleontologiese omgewing – die enigste plek op aarde waar fossielreste en voetspore gesamentlik van hierdie diere te sien is – het aan Fraserburg internasionale aansien gegee, want hierdie skatte is redelik toeganklik vir plaaslike sowel as buitelandse toeriste wat toenemend in groot getalle die dorp besoek.

As ’n entoesiastiese en geregistreerde toergids is Marthinus se kennis egter nie beperk tot sy gunsteling “diere” soos die Pareiasaurus serridens – ’n kalfgrootte plantvreter wat die omgewing bewandel het nie – maar het hy ook uitgebreide kennis van die vroeëre Trekboere se korbeelhuise en die geskiedenis van Fraserburg self.

Een van die gewildste toerismagnete is slegs enkele kilometer buite die dorp op die plaas Gansfontein wat op die R353 na Calvinia lê en onder paleontoloë bekend is as Site C4. Hierdie bekende sandsteenoppervlak bied ’n treffende beeld van hoe die Karoo sowat 250 miljoen jaar gelede daar uitgesien het – destyds ’n land met kronkelende riviere en wat dikwels deur vloedwaters oorstroom is. En dit is juis die daaropvolgende oorstromings van die paleo-oppervlak wat hierdie prehistoriese tekens bewaar het.

Soos die water weggesak het, is sleepmerke van slakke, loopmerke van litpotige varswaterdiertjies en die diep spore van landelike reptiele soos die Bradysaurus, ’n primitiewe oerdier met ’n lengte van sowat 2,5 meter en ’n indrukwekkende massa van 500 kilogram, in die nat slik bewaar.

Marthinus Kruger, wat gereeld saam met die wetenskaplikes van die Iziko/Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad navorsing doen en kort-kort nuwe fossiele ontdek, se gunstelingdier bly egter die reeds vermelde Pareiasaurus serridens waarvan uitstekend bewaarde reste in die Steenkampsberg-omgewing sowat 23 kilometer buite die dorp ontdek is.

Vandag is dit ’n uitermate droë omgewing wat vir skaapboerdery gebruik word en is daar geen tekens meer van die riviere en vleie van die oertyd nie.

Al hierdie aspekte maak van Fraserburg ’n noodsaaklike besoekpunt. Daar is baie om te ervaar, en besoekers word aangeraai om minstens twee dae te vertoef ten einde die dorp en omgewing beter te leer ken.

  • Kontak Marthinus gerus per e-pos by [email protected] om te reël vir ’n toer wat jou verstom sal laat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.