Gamkaskloof: Die hemel in die Hel

(Foto: Carina Stander)

Elf jaar gelede, skaars drie maande ná die geboorte van ons jongste, het ons ons baba, sy driejarige boetie en my ouers op ʼn reisavontuur na die hart van die Swartberge geneem: Gamkaskloof, oftewel, die Hel.

Verlede jaar is my ouers oorlede, en nou het ons vir die eerste keer weer die kloof besoek, dié keer met ons twee uitgevrete seunskinders wat al hoog bo my rank.

Ons neem die suidelike gedeelte van die magtige Swartbergpas. Binne 12 km styg die pas met 1 000 m. Naby die kruin is ʼn naambord, Die Hel. Vir omtrent 40 km sig-sag die gruispad af na die kloof. Klip verwring klip. Tuimelend. Net ʼn klipmuurtjie tussen ons en die hiernamaals. Ons Fortuner Karjakker is ʼn 2×4 en heel in sy noppies met die stofpad.

Hoe dieper ons die berg in ry, hoe meer lyk dit soos ʼn sandsteenkatedraal. Só anderwêrelds. Die lug is hemelsblou. Die klipspringerram en -ooi is so mak, hulle lê sommerso langs die pad in die wintersonnetjie, niks bang vir die Karjakker nie.

“Wanneer die natuur nie bedreig voel nie, is dit bereid om terug te keer na ʼn hemelse staat,” mymer ek terwyl ons voortspoed na die Hel.

En dié verdoemende naam? Sommiges blameer dit op die moeilikheidsgraad van die pad. Ander dink dis die somerhitte se skuld. Maar die digterlike verklaring is my gunsteling: In die winter, wanneer honderde aalwyne en vuurpyle teen die hange blom, lyk dit of alles brand! (Met ons vorige besoek het ons geskater toe ons oudste, toe ʼn kleuter, grootoog wou weet: “Wat doen ons hier in Die Duiwel?”)

Die Swartbergpas. (Foto: Carina Stander)

As daar al ooit ʼn onverdiende pleknaam was. Hierdie is ʼn mooi vallei. Paradys-mooi. Die bergstrome sprankel. Die ruigtes is ʼn tuiste vir bakoorvosse, ystervarke, vaalribbokke, duikers, grysbokke, koedoes en luiperds. ʼn Bobbejaanmannetjie so groot soos ʼn buffelkalf loop doodluiters oor die pad. Die klipdassies is regte dikkedensies en die spekbome is spekvet. Dis al ʼn kwarteeu lank ʼn Wêrelderfenisgebied wat sewe flora en fauna biosfere betrek.

Die pad na die Hel is nie juis breed nie en die wat daarop gaan, is min. Dis skoolvakansie, ʼn naweekdag, en ons tref slegs vier ander voertuie en twee motorfietse aan. Voor Covid-19 was hier glo tot 2 000 toeriste per maand.

By Ouma Sannie se Winkel (“die Hel se kontreistoppie”) hou ons stil vir roosterkoek en koffie. Buite is ʼn standbeeld van ʼn donkie, ʼn ou wawiel, koedoehorings, vrolike vlaggies en tuinbankies met gehekelde oortreksels. Dit voel pure plaas toe die hoenderhaan, werfhonde en katte tussen die tafels deur loop.

Marinette Joubert bestuur die winkel. Sy woon al 20 jaar in die Hel, helfte van haar lewe, en tuisskool haar kinders. Dis haar skoonma se winkel, maar sy het die pligte oorgeneem. Ons koop haar ingelegde turksvye en aalwynkonfyt.

Ons ry verder, verby gerestoureerde huisies wat deur Cape Nature verhuur word, ʼn ou skoolgeboutjie en begraafplaas, tot by die privaat grond, Boplaas. Dis hier waar ons in die netjiese grasdakhuisie, Jan Eentand, gaan oornag. Elf jaar tevore het ons in die einste huisie saam met my ouers gebly. Die riempiesstoele, solderkamer, kaggel en swempoeletjie dra by tot die sjarme.

Die eienaar, Johan, is tans in die buiteland en sy vriende, Christelle en Duncan, verwelkom ons met vriendelikheid en vars vetkoek. Hulle bied aan om die volgende oggend die aanwysings na staproetes met ons te deel.

Aandete is vetkoek met aalwynkonfyt en die vleisie en soutpatats wat my manne braai. Ons kuier onder die maan langs die braaivleisvuur. Vinkneste swaai aan die doringboom. Toe die wolke opsteek, stook ons die Welcome Dover-stoof in die kombuis en die seuns lees die storieboeke wat hulle saamgebring het.

Ná ʼn goeie nagrus neem Christelle en Duncan ons na die stapplek. Dis nog vroeg genoeg dat ons die sonsopkoms kan beleef. Ons lag lekker vir die bordjie: “Warning! Trespassers will be shot! Survivors will be shot again!”

Diepkloof. (Foto: Carina Stander)

Ons ry af in ʼn steil-steil pad met die moedbrekende naam, Rugbrekersnek. Van hier af stap ons gesin op met die Leer − toeka die Klowers se enigste roete na die buitewêreld. Die son skuif oor die horison en die kranse verkleur. ʼn Swartarend sweef in die verte, die berge alom. Suikervoëls tros om proteas en aalwynblomme. Altesaam 150 voëlspesies is hier opgeteken. Geen boom is in sig nie en ons is dankbaar om in die bergskaduwee terug te stap.

Die middag nooi Christelle-hulle ons vir ʼn braai en bier by die Ploegkroeg. Dis nou ʼn ware siviele ingenieur soos Johan se fantasie: Die mure is ou plaashekke wat met klippe gevul is en met sproeiers afgekoel word op ʼn warm dag. Op ʼn koue dag kan jy in die opelug-jacuzzi sit: ʼn oondjie in die swembad wat jy met hout stook. Die plan is dat motorfietsryers en bergfietsryers, voetslaners en ander reisigers die Ploegkroeg se braaiplek en eerlikheidskroeg kan benut terwyl hulle op Middellande oornag. Anderkant die vrugteboord met die amandel-, perske-, appelkoos- en lemoenbome staan die kampeerplek gereed om ingelyf te word.

Die laaste oggend

Die laaste oggend ry ons weer met sonop na Rugbrekersnek sodat ons in Diepkloof kan opstap. Kronkel op, kronkel af. Klipkoepels en kliptorings. Diep gleuwe in die berg se lyf. Kiepersol, fynbos, kershout en wilde granaat, riete met pluime en fyn vygies. ʼn Skare vuurpyle teen die hange. Die oorhangkranse maak ʼn muur.

Wanneer ons uiteindelik Gamkaskloof met die slingerpad verlaat, hou ons stil en kyk terug na die hemelgroen dorpie doer ver onder op die valleivloer. ʼn Oase in die halfwoestyn, ʼn geheim in die boesem van die Swartberge. Dis onbeskryflik. Ek sit my pen neer. Verby woorde.

Die geskiedenis van Gamkaskloof

Die uitsig vanaf die Leer. (Foto: Carina Stander)

Gamkaskloof is 25 km lank en 600 m wyd en jy is nooit ver van ʼn berguitsig af nie. “Gamka” is die Khoi-woord vir leeu.

Hoe die eerste nedersetters hier beland het, bly ʼn raaisel. Daar word vertel dat ʼn trekboer tydens ʼn soektog na verdwaalde vee die kloof ontdek het, maar ander beweer dat ʼn wit seun tweehonderd jaar gelede deur die Khoi hierheen ontvoer is. Ná sy ontsnapping het hy vir sy mense van die verlate vallei vertel en hulle is soontoe om die belastinggaarder te ontduik. Hoe ook al. Die leenplaas, Gamkapoorts, is in 1830 aan die eerste wit boer, ene Swanepoel, uitgegee.

Daarna het die Marais, Nels, Cordiers, Joubert en Mosterts kom wortelskiet. Die Gamkasrivier en vrugbare grond het bestaansboerdery moontlik gemaak en vir bykans 150 jaar het ʼn Afrikaanse gemeenskap hier in afsondering geleef – en góéd oorleef.

Vrugte is ingelê, gepekel en gedroog. Vyekoeke is in buiteoonde gebak. Hulle het heuningbostee en bokmelk gedrink en muskadeldruiwe geplant vir wyn. Die rosyne was so groot soos ʼn duim en adamsvye, kwepers, granate en pere is geoes.

Die huise is gebou van kleistene en gemessel met strooi en mis, die mure is afgewit met klei en kalk en die dakke is gedek met riet. Die vloere was van beesmis en soetdoringgom, met ʼn perskepitlaag vir versterking en versiering. Matrasse is gestop met strooi en kussings met kalkoenvere. Teen 1904 was hier 160 inwoners in die Kloof en teen 1929 byna 120 kinders, wit en bruin.

Vir langer as ʼn eeu kon die vallei net per voet, perd of esel bereik word. Soos in Griekeland het esels hier ikoniese status geniet. Nie net is hulle gebruik om graankorrels op die trapvloer fyn te maal nie, maar een maal ʼn maand is ʼn konvooi van honderd pakesels teen die pas uit met produkte wat op nabye dorpe gesmous is. Dis die donkietrein genoem.

Nadat die karpad in 1962 gebou is, het meeste Klowers die vallei verlaat en teen 1974 was hier slegs agt gesinne oor. Dié ontvolking was die einde van ʼn era. In 1986 is Gamkaskloof deur Natuurbewaring oorgeneem en vandag is die Joubertgesin, wat die winkel bedryf, die enigste van die oorspronklike inwoners en deel van ʼn handjievol voltydse inwoners.

Reisraad:

*Moet liefs nie probeer om Gamkaskloof met ʼn gewone sedanmotor te bereik of met ʼn dagbesoek af te rammel nie – die roete is veels te rof, pragtig en tydrowend. Die amper 40 km, vanaf die afdraai by die Swartbergpas tot in Gamkaskloof, neem twee tot drie uur.

* Boplaas is die westelike gedeelte van Gamkaskloof en in privaatbesit. Dié pragtige 4 000 ha-plaas is vir die eksklusiewe gebruik van besoekers. Slegs oornaggaste mag die Leer uitklouter en die ander staproetes stap, geen dagbesoekers nie. Vir ʼn knus kontreikuier, oornag gerus by Jan-Eentand se huis by Middellande op Boplaas. Dit bestaan uit ʼn solder met ʼn enkelbed, ʼn kamer met twee enkelbeddens en ʼn kamer met ʼn dubbelbed. Dus: slaapplek vir vyf. Die oopplankombuis is selfsorg en die kuierstoep en braaiplek is ruim. Vir ʼn romantiese wegbreek, oornag in die pragtige Klipstapel. Dit het ʼn dubbelbed, rietplafon en keramiekkaggel. Beddegoed en badhanddoeke word vir albei huisies verskaf. Sonkrag hou die ligte en yskas aan, sodat Eskom jou lewe nie verdonker nie. Stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel 083 269 7192 vir meer inligting.

*Maak ʼn draai by die museum wat deur Cape Nature bestuur word. Daar is outydse foto’s en oulike staaltjies.

*Besoek Ouma Sannie se Winkel vir vars plaasprodukte. Kontak Marinette Joubert by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris dupreez ·

n 2×2 voertuig het net twee wiele, jy bedoel seker n 4×2.

Kokerboom ·

GOD se skepping het GEEN gelyke!!!Was ‘n voorreg om in Klein Karoo te kon grootword!

Wicus ·

Die skrywe baie genie, dankie. Ons het paar jaar terug een nag daar oornag oppad om die Walvis te gaan stap. Prentjie mooi. Een van die plaaslike ouens is met spoed daaruit met iets soos ‘n Nissan NP200 bakkie, en ons het met ‘n 4×4 Ranger gesukkel!

Wicus ·

Nou wonder ek skielik oor die stories van die ondertrouery destyds daar agv die onbegaanbaarheid, waar of wolhaar? Daar is ook beweer daar was gedwonge verskuiwings. My Oupa het te vertelle gehad dat van ons voorouers ook daar gebly het maar vroeg reeds die plek verlaat het met die gevolg van min oorge-erfde familie siektes by ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.