
(Foto verskaf)
Hierdie is deel 4 van ʼn reisreeks oor die halfwoestyne van ons land deur Carina Stander. Lees deel 1, deel 2 en deel 3. – Red
In ʼn streek wat geken word vir geharde struike en bros kruidbossies, ja, in die wye halfwoestyn van die Noord-Kaap, ry ons die Groen Kalahari binne. Hier, in die hart van die vrugbare Oranjeriviervallei, is ʼn eiland. Kanoneiland is die grootste eiland in die Oranjerivier en die grootste bewoonde riviereiland in Suid-Afrika. Dis 2 553 ha, 14 km lank en 3 km op sy breedste. Binne ʼn kwartier kan jy van kant tot kant ry.
Kanoneiland kry sy naam van die nomadiese Koranna-“rivierrowers”, wat onder bewind van stamhoof Klaas Pofadder gebots het met ander stamme en die wit veeboere wat in die streek inbeweeg het. In die skermutseling van 1878 het Klaas by sy vesting op Kanoneiland gaan skuil, terwyl sy stam deurgeloop het onder die kanonvuur van tagtig polisiemanne en kaptein Dyason. Klaas het toe sy eie kanon geprakseer uit die hol stam van ʼn groot kokerboom, dit met buskruit en skroot van hoefysters en spykers gelaai, en doem, losgebrand op die koloniale magte. Eina! Ses van sy eie mense is deur sy kanon gedood. Vandag leef dié rebel se legende voort in die Noord-Kaapse plekname van Kanoneiland en Pofadder – ons land se eie Woeste Wilde Weste van ouds.
In 1928 het ʼn groep van 52 Afrikaner-nedersetters begin om die pragtige Kanoneiland te ontbos vir boerdery. Die regering was oortuig dat die brandarm, ongeletterde klompie gaan misluk en hulle het die boere ʼn paar keer probeer verskuif. Dit was immers onwettige besetting op regeringsgrond, die praktiese uitdagings was baie en die kanse op sukses skraal. Die boere het egter hardkoppig geweier om te trek, hulle was boonop hardwerkend en toe, ag wat, het die polisiesersant besluit om maar saam met hulle te begin boer. Die Kanoneilanders het aanvanklik die rivier na die eiland oorgesteek met ʼn vlot, toe ʼn boot en pont. Vir lank is tien hangbrûe tussen die eilandjies gebruik, voordat twee sterk brûe gebou is.
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
Wanneer jy Kanoneiland binnery, voel die hele dorpie soos ʼn tuin. Die trekker in die hoofstraat herinner jou dit is boerderygebied dié. Tweederdes van die eiland is vandag onder besproeiing en sorg natuurlik vir ʼn lushof van wingerde. Toe ons in die winter daar was, was die eiland skaars sigbaar. Op ʼn afstand het dit gelyk soos wingerde op droë grond. Maar in die somer laat die laatmiddagreën die watervlak behoorlik styg, dan moet die inwoners bontstaan met die kanale. Die vloede van 1934, 1957, 1967 en 2011 het dele van die eiland oorstroom, maar vrugbare grond agtergelaat.
Op Kanoneiland is African Vineyard ʼn hemelsgroen-oase met magtige ou koorsbome, kameeldorings, suurlemoenbome, palmbome en ʼn wingerd reg rondom die gastehuis. Die eienaars, Theuns en Elmarie du Bruin, het die 20 ha werkende rosyntjieplaas in 2008 gekoop, die plaasgeboue omgetower en die gastehuis se deure in 2013 oopgeswaai. Hulle het ʼn ou geskiedenis met die omgewing: Elmarie het grootgeword op Gariep, skoolgegaan op Upington en studeer in Potchefstroom. Sy het ʼn doktorsgraad in bemarkingsbestuur en het dié vak dekades lank doseer. Theuns het grootgeword in Van Zylsrus in die Kalahari, landbou studeer in Bloemfontein en toe teruggekeer om te boer. Die Groen Kalahari is hulle hartland, habitat en huis.
In ʼn omgewing waar werkgeleenthede beperk is, het Elmarie, vir wie gemeenskapsbande en talentontwikkeling ʼn gróót woord is, ʼn enorme verskil gemaak. Sy sê sy het die vroue uit die wingerde gaan haal en hulle opgelei vir die restaurant en spa. Meer as twintig vroue is in diens geneem. Oral in die kamers en gange hang skilderye van plaaslike kunstenaars en ʼn groot galery op die plaas steun ook kunstalent. Die skilderye is eg en eerlik en eie aan die omgewing: kokerbome, veldblomme, duine, donkies en meerkaaie.
Elmarie vertel op ʼn dag het ʼn groep plaaswerkers se kinders in die grondpad af geloop en Sondagskoolliedjies gesing. Sy wink hulle toe nader en vra of hulle sal kans sien om Karin Zoid se musiekkonsert by African Vineyard te open. Die outjies het, vuur en vlam! Voorverlede jaar se piekniekkonsert met Demi Lee Moore en ander het byna sewehonderd gaste gelok; Nataniël het onlangs met Vrouedag daar opgetree; in September is dit Elvis Blue se beurt. Al die musiekkonserte gee sowaar nuwe oemf aan daai ou liedjie van “vêr-in-die-ou-Kalahari-daar-sing-die-boere-so”. Dit bly verstommend indrukwekkend wanneer iemand dit regkry om “in die middel van nêrens” so ʼn suksesstorie te skep.
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
Elke kamer in die gastehuis is vernoem na ʼn wynversnit en die stoepies kyk uit op die wingerd. Rondom die reusagtige skuurdeure rank die plante in die kamer in. Dis die grootste slaapkamer waarin ek al in my dag des lewens oornag het. Dis lieflik, met ʼn kaggel en pootjiesbad, leerstoele en bedlinne van dig geweefde katoenbatis (perkaal). As ʼn welkom-geskenkie wag daar dadels uit die kontrei, sjerrie en tuisgebakte beskuit.
Buiten boer, is Theuns ook ʼn kranige fotograaf met ʼn voorliefde vir argitektuur wat wys in die pragtige meubels wat hy maak. Oral op die stoepe en kuierhoekies in die tuin is die mooiste ou stompe wat hy omskep het in tafels, bankies en stoele. Toe ons daar was, het die veelsydige Theuns sowaar ook die lensies-en-lam-sop vir aandete gemaak, terwyl die sjef van DiVine gesorg het vir smaaklike Karoolamskenkels, beeskruisskyf en smullekker suurlemoenkaaskoek.
Wanneer die mistigheid vroegoggend bo die wingerde draal, knetter die kaggel langs die ontbyttafel. Die keuses is ruim: moerkoffie, kaaswors, spek, maalvleis, omelet, croissants, vrugteslaai van plaaslike vrugte. Alles aan die plek voel handgemaak, maar sjiek; gemoedelik, maar gesofistikeerd. Dié is nou Kalahari-gasvryheid met volop flair! Selfs die Labrador-kruising, Bruno, is die ene persoonlikheid.

(Foto verskaf)
Reisraad:
- Kanoneiland is ʼn ideale oorstop op die langpad na Kgalagadi, Augrabies-waterval en Namakwaland. Upington is die naasgrootste nedersetting in die Noord-Kaap en ongeveer 20 minute se ry vanaf Kanoneiland.
- Op Kanoneiland is African Vineyard Boutique Hotel & Wellness Spa ʼn ware oase in die hart van die Groen Kalahari. G’n wonder dit het al drie keer die SA Toerisme Lilizela-toekenning vir die Noord-Kaap verower nie. Dit spog met 15 elegante, ruim kamers, wat op die wingerd en voëlryke tuin oopmaak. Die diens is besonder vriendelik.
- DiVine Restaurant se kos is smaaklik, veral die plaaslike spesialiteite, en die porsies is baie vrygewig. Dit is oop vir ontbyt, middag- en aandetes. By die restaurant kan jy ook ʼn piekniekmandjie, wynproe of spogtee (high tea) bespreek.
- Die bekroonde spa se behandelings kan binnenshuis of in die buitelug geskied en slegs spesiale Kalahari-produkte, ontwikkel uit inheemse plante, word gebruik.
- Beide die spa en restaurant is oop vir dagbesoekers, maar bespreking is noodsaaklik. Die funksielokaal kan bespreek word vir troues en ander feesvieringe. Skakel Elmarie de Bruin: 083 461 1724. Die gesondheidspa: 079 855 7565. Ontvangs: 060 503 8449 of 079 855 7565. Vonkpos: [email protected] Webwerf: www.africanvineyard.co.za
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
- (Foto verskaf)
Ons het elke Desember op Kanoneiland gaan kuier by my ouma en die bure was al soos familie. Tant Suster en oom Ari, tant Sannie du Plessis, oom Schalk, Piet Karstens het nog met sy klein bakkie daar rondgery as jongboer.
Ek het op Kanoneiland groot geword.
Met my fiets het ek Agtereiland toe gery, al die pad af met die vloedwal en langs die rivier op die rotse gesit.
Op Smaleiland kon jy visvang en in die rivier swem, as jy met Gog gereël het.
Van die Eendragbrug kon jy afspring, as jy geweet het waar!
In die kanaal kon ek vir ure lank krappe onder die klippe soek.
Nooit sal ek die soet reuk van loesern en wingerd vergeet as jy om die laaste draai kom voor die hoofstraat nie.
Nooit sal ek die swerms van derduisende rooi en geelvinke vergeet as hulle in die sloep se riete in en uit nie.
Die sloep se water het gestink, maar niks was lekkerder om al die verskillende voetpaadjes wat daar deur loop te ondek nie!
Hoe water my mond nou nie vir daai groot trosse saltanas nie, ons het sommer die hele tros met stingel en al geëet
Wat ek nie sal gee om weer ‘n jong seun op Kanoneiland te kan wees nie…