Halt by Colesberg

Kom stop gerus vir langer in Colesberg. (Foto: Verskaf)

My oorlede ma het altyd gesê ʼn vakansie is g’n net ʼn eindbestemming nie, ʼn vakansie is die héle reis. As ʼn mens die langpad verby wens, wens jy ʼn stuk lewenservaring verby. Nee wat, kikker liewers die pad vir jouself op. Pak lekker padkos in en eet dit met ʼn mooi uitsig, of geniet ʼn roosterkoek en gemmerbier by ʼn karaktervolle padstal; moenie net ʼn verbeeldinglose toebroodjie by enige hierjy winkelsentrum verslind nie. As jy hierdie Desembervakansie weer pad vat tussen die noorde en suide van die land, weerstaan tog die drang om net voort te spoed en te woed. Gun jouself ʼn dag van rus en vrede onderweg by ʼn plek van verfrissing, verversings en verrassings. ʼn Plek soos Colesberg.

Colesberg word al vir vele generasies as die middelpunt van die roetes tussen die Kaap en die binneland beskou. Eens op ʼn tyd was dié afgeleë buitepos van Europese nedersetting ʼn belangrike bymekaarkomplek vir beroepsjagters, verkenners, diamantmyners en ander avonturiers. Toe die Voortrekkers in 1838 na die noorde opgeruk het, het baie Colesbergers saamgegaan, maar teen 1869 het die dorp as ʼn oorstopplek vir fortuinsoekers se waens en perdekarre op pad na die noorde floreer.

Die stoepie van die plek waar ek en my gesin oornag, kyk oor die pragtige agthoekige NG Kerk van 1866 met sy mooi kloktoring uit. Die klok slaan sewe slae, die geskiedenis roep en met ʼn kaart in die hand is ons op pad om die bakens van die dorp te verken. Verby die smeeysterlamp wat in 1849 ter ere van koningin Victoria se sestigste jubilee opgerig is, en dan af in Bellstraat met sy oulike huisies. Colesberg is een van die Karoodorpe waarvan die oorspronklike karakter die beste bewaar gebly het. Die argitektuur is ʼn vermenging van Victoriaanse en Georgiaanse boustyle en die vierkantige Karoohuisies met plat dakke is ook eie aan die dorre dele van die Kaap. Die dorp het volop nostalgiese elemente: rietplafonne, staalplafonne met mooi patroontjies, skuifraamvensters, geelhoutbalke, dolerietsteenmure, gestreepte wit-en-groen sinkdakke, sierlike kroonlyste, leivore, keistene en kuierstoepe. ʼn Ou perdemeul is in ʼn restaurant omskep en die ou Joodse sinagoge is nou ʼn winkel.

Nadat ons die strate verken het, stap ons gesin onderdeur die duikweg na die veld buite die dorp, verby ʼn ou kwarrie, oor die berg waar ʼn herder sy bokke en Nguni’s laat wei. Dis ʼn 5 km-roete sonder waterpunte, maar gelukkig is dit vroegdag en die son is nog nie skelwarm nie. Die biome hier is meestal grasland en Nama-Karoo en ons sien karee, soetdoring en kiepersol. Die klipkop gee ʼn mooi uitsig oor die dorp. Die mense van desjare het die berg bo die dorp Toorenberg of Toverberg genoem omdat dit van ver af sigbaar is, maar lyk of dit wegkrimp as jy naderkom. Ons wonder hoe dit moes wees toe die eerste Europese jagters in die laat 1700’s hier opgedaag het. In 1788 het goewerneur Van Plettenberg (waarna Plettenbergbaai vernoem is) ʼn baken opgerig om die mees noordelike punt van die Kaapkolonie aan te dui en teen 1814 is die eerste sendingstasie vir Boesmans hier opgerig. Die dorp was egter nie sonder struwelinge nie en in 1860 is ʼn tronk gebou. Op betaaldag word die bouer van die tronk toe so dronk dat hy toe sommer ook die eerste gevangene word! (Toe ons oudste seun ʼn kleuter was, het hy hoeka van “dronkvoël” in plaas van “tronkvoël” gepraat.)

Colesberg is ʼn plek van uiterstes – van yskoue wintersaande en verswelgende somersdae, van swaarkry en voorspoed. Dis ʼn dorp wat in die verre verlede talle veldslae, skermutselings, droogtes, sprinkaanplae, veediefstal, ʼn pokke-pandemie, runderpes en werkloosheid moes trotseer. Hier is nietemin ook stories oor skatryk Joodse dames se teepartytjies in toeka se tyd en ʼn straat met die spoggerige naam “Rykboerstraat”. Van die beste merinoskape en resiesperde in Suid-Afrika word in die omgewing geteel. Voordat jy vanjaar net voortstoom na die see of die stad, halt tog ʼn bietjie by Colesberg. Dis ʼn dorp in die hartjie van die land wat jou hartlik sal verwelkom.

(Foto: Verskaf)

Reisraad:

  • Colesberg in die Noord-Kaap is ʼn gerieflike oorstopdorp tussen die noorde en suide van ons land. Dis 630 km vanaf Pretoria en 780 km vanaf Kaapstad.
  • Verken die dorp te voet: Gebruik ʼn kaart om Colesberg se vele geskiedkundige bakens te ontdek of gaan op die toerismekantoor se begeleide toer. Skakel: 051 753 0678. Webwerf: www.colesberg-info.co.za.
  • Besoek die elegante, sjarmante Colesberg-Kemper Museum. Dit is in 1861 gebou en huisves eggo’s van die verre verlede en die hede. Daar is fossiele van soogdieragtige reptiele wat 250 miljoen jaar gelede hier geleef het en artefakte van die Steentydperk se jagterversamelaars. Jy kan ook oorlogaandenkings besigtig en stories oor die mense van vandag lees. Skakel: 051 753 0678. Webwerf: www.colesberg-info.co.za/town.
  • Doornkloof Natuurreservaat buite Colesberg is 9 388 hektaar en bestaan uit berge, klowe, vlaktes en rivieroewers. Dis ʼn habitat vir koedoe, eland, bruin hiëna, rietbok, steenbok, grysduiker, bakoorvos, aardvark, aardwolf en ongeveer 173 voëlspesies. Besoekers kan in die natuurreservaat stap, visvang en piekniek hou. Webwerf: Experiencenortherncape.com.
  • Beleef Inni Kraal restaurant en verlustig jou aan egte Karoo-geregte soos lamstjoppies, lamskenkels, skaapstertjies, biltongsop, malvapoeding en Vuilhond-brandewyn! Skakel: 064 651 1127. Vonkpos: [email protected] of die Facebook-blad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Dankie vir die vertelling ek het my so ingeleef dat ek dit self wil en gaan doen Carina jy is n puik skrywer en ek hoop om nog van jou verhale te lees.

Dries ·

Nou verlang ek sommer erg na die Karoo,, sy mense en alles wat die Karoo aanbied. My hart verloor in die Karoo,, n Karoomens sal ek altyd bly,,

annie ·

Ja, vir diegene wat nog die ouwêreldse Vrystaat wil beleef. Slaap gerus oor en slaan die stad se slaappil oor want die nagte daar is sag soos op ‘n outydse bulsak onder ‘n egte donskombers… Salig.

Esme ·

Aai, wens ek kan sommer daar opeindig. My Oupa Grootjie is tydens die Anglo Boere Oorlog in Colesberg geskiet. Hy het ook daar gesterf en ek sal die dorp deurkruis opsoek na sy nalatenskap.

FLIP ·

Colesberg is nie 630 km vanaf Pretoria nie, maar wel 700 km.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.