Heerenlogement: Wat word van ons historiese bakens?

Heerenlogement-01

Hierdie gedenksteentjie is deur die familie Breed in die Heerenlogement aangebring. As daar nog ‘n liggaam soos die Monumentekommissie bestaan het, wat toesig gehou het oor sulke historiese gedenkwaardighede, sou die gedenksteentjie waarskynlik nie daar toegelaat gewees het nie. Foto: Ludwig Visser.

Ludwig Visser

Die Noordwes-Kaapland is ryk aan geskiedenis. Daar is vandag nog historiese gedenkwaardighede in hierdie geweste wat ʼn mens as getuienis kan beskou van hoe ons geskiedenis verloop het en watter mense diep spore in daardie geskiedenis getrap het. Dit is alles deel van ons erfenis.

Van hierdie plekke is jare gelede al tot historiese gedenkwaardighede verklaar. Dit is destyds deur die wet beskerm teen veral vandale en ander mense wat nie die waarde van die plekke besef nie. Ongelukkig het van hierde beskermingsmaatereëls mettertyd in duie gestort, en raak van hierdie plekke stadig maar seker in die vergetelheid. Min mense weet van hulle, min mense doen die moeite om daar te kom, en die agteruitgang van die plekke veroorsaak dat al minder mense belang stel in hul behoud.

Twee sulke plekke naby Lambertsbaai aan die Kaapse Weskus laat ʼn mens amper moedeloos staan oor hoe daar met ons geskiedenis en ons erfenis omgegaan word. Om Erfenisdag te vier en dit uiteindelik net nóg ʼn openbare vakansiedag sonder veel inhoud te maak, sal uiteindelik tot die miskenning van ons verlede en ons herkoms lei.

Die een is die Heerenlogement – in Nederlands die woonplek vir die here – en die ander een is ʼn fontein net so 2 km daarvandaan.

Die Heerenlogement is ʼn hoë bakkrans waar baie reisigers al deur die eeue oornag het. Van die eerstes was Simon van der Stel, wat in die tagtigerjare van die sewentiende eeu goewerneur aan die Kaap was. In een stadium het hy ʼn ekspedisie noordwaarts onderneem nadat hy gerugte  gehoor het van ryk kopervelde in die gebied wat vandag bekend is as Namakwaland. Hy en sy ekspedisielede het daar onder die bakkrans oornag en daarna hul name teen die rotse uitgekrap, met die datums daarby. Die bakkrans het ʼn goeie skuiling gebied, en die belangrike here wat daar oornag het, kon ook maklik teen enige onwelkome nuuskieriges beskerm word. Volgens oorlewering was Van der Stel se naam ook daar, maar die elemente het dit deur die jare laat verdwyn. Daar is ook vertel dat Van der Stel se groep op pad in daardie rigting in die omgewing van die huidige Piketberg, ongeveer 100 km van  Kaapstad af,  nog ʼn leeu geskiet het.

In die jare wat gevolg het, het baie ander ontdekkingsreisigers dieselfde roete gevolg,  en hulle het Van der Stel se voorbeeld gevolg en onder die bakkrans oornag. Hulle het ook hul name daar aangebring. Meer as 174 name is daar aangeteken en kan vandag nog daar gesien word. Een van die bekendes is die naam van Francois le Vaillant, ʼn destyds baie bekende reisskrywer en geskiedkundige. By sy naam staan die datum 1783.

Toe ek onlangs daar was, het ek gesien dat ʼn klein gedenksteentjie in die bek van die Heerenlogement aangebring is deur die Breed-familie, ter nagedagtenis van hul voorsate. Dis ʼn mooi gebaar, maar dis te betwyfel of die Heerenlogement die geskikste plek was om dit aan te bring. Die moderne steentjie pas nie by die ruheid  van die Heerenlogement nie.

Om vandag na daardie name daar teen die kranse te staan en kyk, laat ʼn mens voel dat jy hier kan lees hoe die geskiedenis verloop het.

Een van Van der Stel se verkenners was ene Olof Bergh. So 2 km van die Heerenlogement af was hy waarskynlik daarvoor verantwoordelik dat die ekspedisie se trekdiere moet water kry. Hy het ʼn standhoudende fontein gevind en die diere daar laat suip. Die ekspedisielede se watervoorrade kon ook daar aangevul word, so skoon was die water. Bergh, wie se naam vandag alombekend is omdat ʼn gewilde brandewyn na hom genoem is, het ook sy naam daar by die fonteintjie op ʼn rots uitgebeitel, met die datum daarby. Later het ander reisigers wat hul dors daar kom les het, sy voorbeeld gevolg. Die naam staan vandag nog duidelik daar.

Die destydse  Monumentekommissie het albei hierdie plekke, die Heerenlogement en die Olof Bergh-fontein, tot historiese gedenkwaardighede verklaar. Dit was afgekamp sodat mense dit nie kon beskadig nie, en die gebruiklike bronsplakkette is daar aangebring.

Die omheining het sedertdien verdwyn, die plakkette het verdwyn, veral die Heerenlogement is omtrent al toegegroei deur bosse sodat iemand wat nie wéét wat agter daardie bosse is nie, maklik daar kan  verbystap sonder om dit te sien. Die gevaar is ook groot dat vandale hul eie name daar teen die rotse sal begin verf, om nog verder skade aan te rig. Die omheining by die fontein is ook weg, en die fontein is drooggelei, hoewel die klippe waarmee dit deur die destydse reisigers uitgeplavei is, nog gesien kan word. Die bordjie wat aangedui het dat dit ʼn historiese gedenkwaardigheid is, is al afgebreek en heel moontlik iewers as skrootyster verkoop.

So ʼn paar jaar gelede het ʼn ondernemende Stellenbosser wat elke jaar gemoeid was met die Van der Stel-fees op Stellenbosch, ’n bustoer op Van der Stel se roete langs gereël, sodat belangstellendes dit alles kon sien en beleef. Ek was by. Die Heerenlogement was destyds baie toeganklik, daar was parkeerplek, mens kon maklik van jou voertuig af na die bakkrans toe stap, en die draadheining het dit teen vandale beveilig. By die fontein kon mens selfs van die water drink. Dis ongelukkig nie meer vandag so nie.

Twee pragtige en interessante stukkies geskiedenis staan gevaar om hier verlore te gaan, of dan vergeet te word. Is daar dan geen instansie meer wat hierna kan omsien ter wille van die nageslag nie? En indien daar so ʼn instansie is, kan die personeel daar gerus kennis neem van hierdie situasie sodat hierdie stukkies geskiedenis ook as deel van ons erfenis bewaar kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
HCalitz

En die blote feit dat géén van die lesers die moeite gedoen het om kommentaar te lewer (of om die artikel te gelees het) nie, is op sigself antwoord genoeg, nie waar nie? Van die burokrate moet ‘n mens liefs niks verwag nie en van die patriotte wat so oor die bewaring van hulle kultuur vuur spoeg, seker ook niks. Wie dan? Kan mense geld uit hierdie klein monumente maak? Kan die plaaslike reëlingskomitee van die jaarlikse fees (elke dorpie het deesdae een) ‘n aktiwiteit hier rondom skep waarvoor besoekers sal betaal en wat die dorp se bates kan bemark… Lees meer »