Hier is die plekke wat jy in 2020 moet besoek

Miskien wil jy in 2020 ‘n draai in Egipte gaan maak? (Argieffoto.)

Terwyl elke Jan Rap en sy maat heel waarskynlik nou al die Eiffel-toring in Parys gesien het, is daar nog baie plekke op ons blou planeet wat toeriste nog nie gesien het nie, of afskeep.

Maroela Media het dus besluit om idees saam te stel van dié plekke wat toeriste kan besigtig in 2020, dié wat effens uit die hoofstroom-lysie val.

Volgens Fodor, ʼn reisgidsuitgewer, is daar ook heelwat plekke wat toeriste vanjaar liefs moet oorslaan, juis omdat die instroming van toeriste na sekere gebiede etiese en omgewings-struikelblokke veroorsaak. Dit sluit Big Sur, in Kalifornië, VSA; die Angkor Wat-tempel in Kambodja; Bali in Indonesië en verskeie “siek” koraalriwwe reg oor die wêreld in.

In sy redakteursbrief van die September-uitgawe van die Getaway-tydskrif, het Justin Fox gevra of toeriste dalk so lief is om sekere plekke te besoek dat hulle dié plekke vernietig. “Vertrap ons dalk hierdie plekke uit liefde?” het hy gevra, en genoem dat goedkoper internasionale vlugte, meer vakansies op skepe en innovasies soos AirBnb bydra tot die groeiende aantal toeriste wat elke jaar oor die wêreld reis. Volgens die VN se wêreldtoerismeorganisasie, was daar sowat 1,6 miljard mense wat hul lyf in 2018 toeris gehou het.

Om die agteruitgang, as gevolg van toerisme, te stuit het sekere stede en plekke nou al spesiale maatreëls ingestel. Fox sê dat Barcelona in Spanje, Venesië in Italië, Antarktika, die Galápagos-eilande en die Inka-roete by Machu Picchu van die plekke is waar die getal toeriste wat dit mag besoek beperk word.

Toeriste koel af by ’n fontein in ’n openbare park in Boedapest, Hongarye. (Foto: Xinhua/Attila Volgyi)

Oorweeg eerder dié plekke vir 2020

Terwyl Maroela Media se lesers via Instagram laat weet het dat hulle plekke soos Egipte, wat ook op Lonely Planet en National Geographic se lys van moet-sien plekke is, en bestemmings soos Texas in die VSA en Georgië wil besoek, beveel National Geographic veral Oos-Europa met plekke soos Mostar in Bosnië en Herzegowina, en Hongarye, wat ook ryk is aan geskiedenis, aan vir reisigers.

Fodor stel ook die prentjiemooi Bretagne in Frankryk voor as ʼn plek om jou skoene te gaan uitskop. Dié streek van Frankryk het talle eilande wat van die kus af verken kan word, terwyl daar ook talle oorde aan die kuslyn is waar ʼn mens kan gaan ontspan.

Volgens Fodor is daar ook talle sterre op die Afrika-kaart, soos Accra in Ghana waar die mense die vriendelikheid vanself is; Ethiopië, waar ekologiese en geskiedkundige skatte vir reisigers wag om ontdek te word; Luanda, die Portugees-sprekende hoofstad van Angola wat effens herinner aan die sjarme van veraf Brasilië, terwyl die nuwer distrik in die stad met sy neonligte besoekers aan Dubai kan herinner.

Vir toeriste wat iets soek wat ʼn bietjie meer na Suid-Afrika se wildtuine voel, maar tog buite die grense van die land wil wees, beloof Masai Mara in Kenia om talle goeie herinneringe te bied, veral as ʼn mens in ʼn lugballon oor die vlaktes dryf. Toeriste moet ook nie die valleie, berge en avontuur van die skone Rwanda, met sy gorillas, oorslaan nie.

Vir nog plekke wat ʼn mens op die vasteland kan besoek kan lesers die skakel volg.

Intussen het die Forbes-tydskrif ʼn aweregse benadering tot sy lys van plekke wat toeriste moet sien geneem. “Ons het na plekke gekyk wat teen die hoofstroom ingaan en weg van die platgetrapte paadjie stuur,” skryf Dan Dao.

Terwyl dit dalk ʼn frons op die meeste mense se gesigte mag bring wanneer hulle dit lees, is Lagos in Nigerië derde op hul lys van moet-sien-bestemmings. Die kultuur, kos en die klubs is genoeg om enige toeris na dié besige stad, wat ook met die naasgrootste bevolking in Afrika spog, te lok.

Forbes en National Geographic is dit eens dat Telč, ʼn stad in die Tsjeggiese Republiek, op jou reislysie vir 2020 moet wees. Die stad het ʼn historiese middedorp wat Unesco tot wêrelderfenisgebied verklaar het en dien ook as ʼn vertrekpunt na baie ander bestemmings in Oos-Europa.

Galway, ʼn klein dorpie in Ierland wat volgende jaar fokus op die kunste, maak dit ook op twee lysies, dié van Fodor se GoList en Lonely Planet.

Asië bly nie agterweë nie en bestemmings in Viëtnam, China en Japan is op verskeie reislysies. In Sentraal-Asië troon die syroete uit op Fodor se lys. Dié roete sluit lande in soos Oezbekistan en Tadjikistan.

Die ou gesegde lui dat die wêreld jou speelplek is, so maak 2020 dié jaar om nuwe plekke te ontdek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.