Interessante feite oor ikoniese bakens

Tafelberg in Suid-Afrika Foto: Marianne Styan

Tafelberg in Suid-Afrika Foto: Marianne Styan

As ek sê Kaapstad, dink ʼn mens aan Tafelberg. Sê jy Parys, dink ʼn mens dadelik aan die Eiffeltoring. Stede dwarsoor die wêreld het hul ikoniese bakens, in Rio de Janeiro is dit die Christ the Redeemer-standbeeld, in New York die Statue of Liberty. En so kan ʼn mens aangaan. Hierdie besienswaardighede is so eie aan die stede waarin hulle staan dat ons nie anders kan as om hulle met mekaar te assosieer nie.

Daar is egter sekere feite van hierdie bakens wat nie so bekend is aan almal nie. Ek deel in hierdie week se uitgawe graag ʼn paar interessanthede.

Tafelberg, Kaapstad, Suid-Afrika
– Tafelberg alleen het tussen 1 500 en 2000 plantspesies. Dit is meer plantspesies as in die hele Verenigde Koninkryk. Die bekende “tafeldoek”-wolkbedekking wat gereeld die berg versier, is verantwoordelik vir ʼn groot gedeelte van die spesifieke plantegroei. Tot 70% van die plantspesies op Tafelberg kan nêrens anders op aarde gevind word nie.
– Koningin Elizabeth II en Koning George VI het albei die bo-punt van die berg besoek. Hulle is egter nie die enigstes nie. Meer as 800 000 mense besoek die bokant van die berg elke jaar.
– Die hoogste punt van die berg is 1 087m bo seespieёl, en staan bekend as Maclear se baken.
– Die plat plato bo-op die berg strek ongeveer 3 km.
– Daar word geglo dat Tafelberg een van die oudste berge in die wêreld is. Die rotse waaruit die berg bestaan, is blykbaar ±600 miljoen jaar oud.
– ʼn Franse sterrekundige van die 18de eeu, het ʼn konstellasie na Tafelberg vernoem. Die naam is Mensa, wat “tafel” in Latyn beteken en is net onder Orion geleë. Mensa kan in die suidelike halfrond rondom middernag in die middel van Julie gesien word.

Die Eiffeltoring, Parys Foto: Marianne Styan

Die Eiffeltoring, Parys Foto: Marianne Styan

Eiffeltoring, Parys, Frankryk
– Nadat dit afgekeur is vir Barcelona, Spanje, waarvoor dit oorspronklik bestem was, is die Eiffeltoring gebou vir die Parysskou in 1889. Dit was nooit bedoel om permanent te wees nie. In 1909 is dit gered van vernietiging deur die stad wat dit ʼn nuwe doel as radioantenna gegee het. Die ontwerper, Gustave Eiffel het 72 name van bekende ingenieurs, wetenskaplikes en wiskundiges van sy tyd op die toring laat graveer.
– Alhoewel die toring eintlik 300 m lank is, kan die lengte verander met tot 15cm, afhangende van die temperatuur. Dit is die vyfde hoogste gebou in Parys en daar is 1 665 trappe indien jy al die pad tot bo wil klim. Dit is die mees besoekte monument waarvoor jy moet betaal in die wêreld, met meer as 7 miljoen mense wat dit jaarliks besoek.
– Die toring is ʼn “getroude man”… soort van… ʼn 36-jarige vrou, Erika LaBrie, wat vroeër ʼn lid was van Amerika se weermag, het in 2008 ewig trou gesweer aan die toring. Sy staan nou bekend as Erika La Tour Eiffel (ons oordeel nie…).
– Franz Reichelt het in 1912 gesterf nadat hy sy uitvindsel, basies ʼn baie vroeë vorm van ʼn valskerm, self wou uittoets deur van die toring af te spring. Nodeloos om te sê, het dit nog nie gewerk nie.
– Die Eiffeltoring word elke sewe jaar met tot 60 ton verf geverf, om verroesting te voorkom. Drie skakerings van groen verf word hiervoor gebruik, met die donkerste skakerings onder en die helderste op die boonste vlakke.

Big Ben in Engeland Foto: Marianne Styan

Big Ben in Engeland Foto: Marianne Styan

Big Ben-kloktoring, Londen, Engeland
– Die toring self se naam is eintlik Die Kloktoring en die hoofklok binne-in die toring se naam is Big Ben. Die klok weeg 14.5 ton. Inderdaad groot! Die toring self staan egter deesdae as Big Ben bekend en is ontwerp deur Charles Barry. Die eerste 61 meter van die toring bestaan uit steenwerk en die res uit gietyster.
– Dit is die mees betroubare klok in Londen sedert dit in 1857 gebou is. Wanneer jy die eerste lui van Big Ben hoor, is dit reg op die uur.
– Dit is die grooste klok ter wêreld wat elke kwartier lui en die klokkespel kan tot ʼn radius van omtrent 8 km gehoor word.
– Die uurklok, Big Ben self, lui op die noot E.
– Op die basis van elke klok is die Latynse woorde: “Domine salvam fac reginam nostrum Victoriam Primam” gegraveer. Dit beteken: “God beskerm ons Koningin Victoria I”.

Die Statue of Liberty in Amerika Foto: Fine Art America

Die Statue of Liberty in Amerika Foto: Fine Art America

Statue of Liberty, New York, Verenigde State van Amerika
– Liberty-eiland, waarop die standbeeld staan is eintlik nader aan New Jersey as New York, maar dit word gesien as deel van New York.
– As gevolg van die ligging van Lady Liberty, wat op ʼn voetstuk staan, kan mens dit nie sien nie, maar sy staan tussen gebreekte boeie en kettings. Dit dui op die simboliese vryheid van onderdrukking wat sy voorstel.
– Die oorspronklike vlam in Lady Liberty se hand is deesdae te sien in die museum, aangesien dit vervang moes word in 1886, omdat dit te moeilik was om te restoureer.
– In 1886 het die destydse President, Grover Cleveland, versoek dat die standbeeld dien as ʼn ligtoring. Aanvanklik was daar baie probleme om dit te laat werk as gevolg van die nuutheid van elektrisiteit. Toe dit uiteindelik werk, het dit 16 jaar lank as ligtoring gedien tot in 1902.

Ander bekende bakens waaroor ʼn mens gerus kan oplees sluit in die Christ the Redeemer-standbeeld in Rio De Janeiro, die Brandenburghek in Berlyn, Tiananmen-plein in Beijing en die Sydney Operahuis in Sydney.

Bronne:
www.localnomad.com; www.bigbenfacts.co.uk; www.lifestyle.iloveindia.com; www.oddstuffmagazine.com; www.latimes.com; www.factslides.com; www.travelunearthed.com; www.ridgewayramblers.co.za; www.larktour.com; www.telegraph.co.uk; www.parade.condenast.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.