Die einde van die jaar is om die draai en daarmee saam kom heerlike Nuwejaarsvieringe. Terwyl vanjaar se vieringe ʼn bietjie anders lyk as voorheen as gevolg van die Covid-19-pandemie, kyk ons terug na hoe lande reg oor die wêreld die koms van die nuwe jaar vier.
Frankryk
Wat sal ʼn fees in Frankryk wees sonder goeie kos? Oujaarsaand word in Frankryk gevier met ʼn groot fees, algemeen bekend as le réveillon de la Saint-Sylvestre. Dit is by hierdie fees waar die Franse dekadente kosse soos kreef, oesters, foie gras en escargot geniet – met ʼn glasie sjampanje natuurlik!
Nederland
Soos die feesseisoen tot ʼn einde kom, gebruik die Nederlanders die Nuwejaar om van hul Kersfeesbome ontslae te raak. Jaarliks stapel mense in hul buurt hul bome op mekaar en steek dit aan die brand, wat ʼn massiewe vreugdevuur skep.
As jy dapper genoeg is, is dit ook ʼn Nuwejaar-tradisie om op 1 Januarie vroegoggend in die yskoue see in te spring as ʼn manier om die nuwe jaar op die varsste manier moontlik te begin. Gelukkig word dié tradisie opgevolg deur ʼn heerlike bier en worsrolletjie.
Spanje
As die horlosie middernag slaan op Nuwejaar, is dit tradisie om 12 korrels druiwe te eet – een vir elke lui van die klok. Die tradisie het in die laat 19de eeu begin en die druiwe verteenwoordige geluk en voorspoed vir elke maand van die nuwe jaar wat voorlê.
Tsjeggiese Republiek
Jy het seker al gehoor van die gesegde “ʼn appel ʼn dag laat die dokter wag”, maar wat van ʼn appel op Oujaarsaand?
In die Tsjeggiese Republiek word ʼn appel in die helfte gesny op Oujaarsaand, en die stronk word dan ontleed om te sien wat in die nuwe jaar voorlê. ʼn Stronk wat soos ʼn ster lyk, beteken gesondheid en geluk, maar ʼn stronk wat soos ʼn kruis lyk beteken siekte lê voor.
Denemarke
Hierdie Nordiese land hou bose geeste weg deur ou borde en glase teen hul vriende en familie se deure stukkend te gooi. Hulle staan ook op stoele en spring af wanneer die horlosie 00:00 tref om Januarie met goeie geluk in te spring.
Griekeland
Die Grieke verwelkom tradisioneel die nuwe jaar deur ʼn ui buite hul huise te hang as ʼn teken van vernuwing. Op Nuwejaarsdag maak ouers ook hul kinders wakker deur hulle op die kop te tik met ʼn ui.
In baie dele van Griekeland is dit ook tradisie om ʼn granaat buite jou huis te hang as ʼn teken van oorvloed, vrugbaarheid en geluk. Ná die Nuwejaar-kerkdiens breek hulle dan die granaat terwyl hulle mekaar ʼn gelukkige nuwe jaar toewens.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
Wow, dis by ver die mooiste foto van die eiffel toring wat ek nog gesien het.
En in SA suip, saag en “wheelie” ons op nuwejaar
Kersbome mag lankal nie meer gebrand word hier in gatland nie, en die nuwejaarsduik is nie toe gestaan nie danksy die virus