Interessante Suid-Afrikaanse monumente

Die Perdemonument teen sonsondergang Foto: Themaxfiles

Die Perdemonument teen sonsondergang Foto: Themaxfiles

Daar is baie monumente wat ons almal baie goed ken, soos die Voortrekkermonument, die  Vrouemonument of selfs die Uniegebou. Maar daar is ook baie monumente waarby ons miskien nog te maklik verbyloop en dikwels nie eens van weet nie!

Monumente van welke aard ook al is almal vir ʼn rede opgerig en ek het na ʼn paar van dié stiefkinders gaan loer.

Perdemonument, Port Elizabeth

Die standbeeld van ʼn Engelse soldaat wat kniel om sy perd water te gee, is in Capeweg geleë en bly vir my een van die aangrypendste monumente in ons land. Dis opgerig ter ere  van die perde wat dood is tydens die Tweede Vryheidsoorlog, omtrent 300 000 aan die Engelse kant en amper ʼn hele perde-ras – die Boerperd – aan die boere se kant. Die standbeeld is ontwerp deur Joseph Whitehead, in brons gegiet deur Thanes Dillon Works en onthul in Februarie 1905.

Die rede hoekom dit juis in hierdie stad opgerig is, is omdat meeste van die perde wat na Suid-Afrika gebring is, in dié hawestad eerste hoef aan wal gesit het. Die perde het gekom van dwarsoor die wêreld, selfs Amerika en Australië.

Jan Smuts se twee standbeelde in Kaapstad Foto: Flickr

Jan Smuts se twee standbeelde in Kaapstad Foto: Flickr

Jan Smuts-standbeeld, Kaapstad

Een uitstaande kenmerk van die Jan Smuts-standbeeld in Kaapstad, is dat daar nie net een is nie, maar eintlik twee standbeelde. En hulle is maar ʼn katspoegie van mekaar af weg.

Jan Smuts het ʼn belangrike rol gespeel nie net in Suid-Afrika se geskiedenis nie maar ook in Engeland sʼn, aangesien hy tydens die Tweede Wêreldoorlog ʼn belangrike medevegter van Winston Churchill was. Dit is bekend dat hy deur Churchill hoog aangeslaan was en een van sy grootste vertrouelinge was. Nie net was Smuts ook ʼn aktiewe soldaat in die Boere-, Eerste en Tweede Wêreldoorloë nie maar hy was ook Eerste Minister van Suid-Afrika – twee keer.

Nadat die aanvanklike standbeeld, wat vandag  voor die Nasionale Galery staan, ter ere van Smuts onthul is, was die publiek ongelukkig omdat die ietwat kunstige beeld nie gespreek het tot die man-op-straat nie. Daar is toe besluit om nog ʼn standbeeld op te rig: dié keer voor die Slawe-lodge, op die hoek van Adderley- en Waalstraat.

Ghandi stap vir ewig vorentoe Foto: Photobucket

Ghandi stap vir ewig vorentoe Foto: Photobucket

Ghandi-standbeeld, Pietermaritzburg

Min mense weet dat Ghandi vir 20 jaar in Suid-Afrika, meestal in KwaZulu Natal, gebly het in sy “klerkskap” om tot mahatma (Grootsiel)-skap te groei.

Dit was in hierdie tyd (1893) wat hy van ʼn trein af gegooi is by Pietermaritzburg, nadat hy geweier het om na derdeklas te skuif terwyl hy ʼn eersteklaskaartjie gehad het. Die rede hoekom hy moes skuif was omdat hy nie wit was nie… Dít het sy motivering geword om in Suid-Afrika aan te bly en die onderdrukking van Indiese mense te probeer beëindig.

Gandhi se bronsbeeld, waar dit voorkom of hy vir altyd vorentoe loop, staan in Kerkstraat.

Mutual Heights-gebou, Kaapstad

Dit mag dalk vir jou net soos ʼn gewone gebou lyk met ʼn sterk art deco-voorkoms en pragtige graniet-bekleding, maar by nadere ondersoek sien ʼn mens die meeste van die gebou se oorspronklike afwerkings, en die detail wat nog gesien kan word is besonders.

Mutual Heights in Kaapstad se fresko's Foto: Andy wood & Wikipedia

Mutual Heights in Kaapstad se fresko’s Foto: Andy wood & Wikipedia

Wat min mense egter weet, is dat een van die wêreld se langste fresko’s (118 meter) aan drie kante van die buitekant van die gebou (in Darlingstraat geleë), te sien is. Dit beeld grootliks sleuteloomblikke uit van die geskiedenis van Suider-Afrika. Die frescoes is ontwerp deur Ivan Mitford en uitgebeitel deur ʼn groep Italianers. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek in 1939 moes hulle dit onder toesig klaarmaak, aangesien hulle deel was van die “vyand”.

Van die tonele wat uitgebeeld word, sluit in Jan van Riebeeck wat in die Kaap aankom, die Groot Trek, die ontdekking van diamante in Kimberley en David Livingston se lewe. Deesdae word die besonderse monument gebruik vir winkels, woonstelle en die verfilming van verskeie films en advertensies.

Honoured Dead Memorial, Kimberley

Ons almal ken Kimberley se diamantgeskiedenis wat aanleiding gegee het tot die grootste mensgemaakte gat in die wêreld. Dit was juis dié blink klippies wat die Britte se belangstelling geprikkel het. Soveel so dat die Britte die dorp tydens die Tweede Vryheidsoorlog beheer het en geweier het om dit op te gee, ten spyte daarvan dat die dorp omsingel was deur die Boerekrygers. Die Boerekommando’s het  eindelik vir 124 dae lank die dorpie beleër.

In hierdie tyd het 27 Britse soldate gesneuwel.

Die Honoured Dead Memorial in Kimberley Foto: Flickr

Die Honoured Dead Memorial in Kimberley Foto: Flickr

Die Honoured Dead Memorial, ʼn sandsteenmonument, is opgerig op bevel van Cecil John Rhodes en was ontwerp deur Sir Herbert Baker. Dit is ook vandag die graf van die 27 soldate. Die kanon, Long Cecil, wat deur die De Beers-myngroep spesiaal vir hierdie stryd vervaardig is, staan voor die monument en is omring deur die kanondoppe van die Boere se eie bekende kanon, Long Tom.

Daar is nog talle soortgelyke monumente en standbeelde of selfs geboue dwarsoor Suid-Afrika vandag. Watter ongewone monumente het al jou nuuskierigheid geprikkel?

(LET WEL: Marianne onderneem al hierdie reise op haar eie onkoste.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianne Styan ·

Dis n plesier Henrietta. Ek’s bly jy het die artikel geniet. Ja die land is vol sulke besonderse monumente wat net wag om ontdek te word.
Dankie vir die ekstra inligting oor Mutual Heights. Seker mense sal dit waardeer om dit sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.